baby_under_tableSo baba sussie gaan binnekort haar eie babatjie hê! Ek kla gladnie, dit is heerlik om ‘n tannie te wees en die tweeling en ek het ‘n goeie verstandhouding: Ek sal jou doek omruil en Teletubbies saam met jou kyk, maar as jy moeilik is dan gee ek jou terug. En voor jy dink dat dit dalk wreed klink… ek hoef hulle nog nooit terug te gegee het nie!

Baba sussie is egter nou in die doodsnikke van weke tel. Ek verstaan dit nie so mooi nie, maar dink dit het iets met hormone te doen. As iemand my vra “hoe vêr is jy?” is my antwoord gewoonlik iets soos ”ek is amper klaar” of “drie kilometer”. Nie “dit sal Vrydag 26 weke wees” nie! Weird!

Anyway, baba sussie verjaar toe ook onlangs en soos die gebruik is gaan ons uit vir ete. Sussie kies BBQ steakhouse, want ons was baie lanklaas daar gewees en kan nie meer onthou hoe die kos proe nie! Ons sussies het almal daar gewerk, so dit het nog ‘n bietjie sentimentele waarde ook.

Nou ons gesin se groei was verseker die afgelope paar jaar beter as die land se ekonomie, so ons pas nou ook nie meer lekker om ‘n klein tafeltjie nie en land toe by ‘n redelik kasarm van ‘n tafel in die restaurant. Dit is boonop ‘n Saterdagaand naby payday, en die restaurant is redelik vol. In fact, dit voel amper of ons reg binne in die speelarea van ‘n kleinerige Spur sit, daar is bitter baie kinders!

Ons bestel die drinkgoed, bekyk die spyskaarte en raak aan die gesels oor babas, babas en babas. Tussendeur word random onderwerpe soos Land Rovers en die styging van vleispryse aangeraak voor daar weer teruggekeer word na babas en baba sussie se naderende kraam datum.

Ons sit nog so en praat (waarskynlik oor babas) toe baba sussie ewe skielik ‘n gilletjie gee, afkyk en ‘n enkele sin uiter: “hiers ‘n kind tussen my bene!”. Ek sluk amper my wyn met glas en al in, ma kyk verward rond, middel sus se mond gaan oop en pa se gesig lyk of daar ‘n duisend gedagte gelyk deur sy kop flits.

In enkele sekondes gaan ons almal deur die 5 stadiums van trauma, van ontkenning tot by aanvaarding. Baba sussie kraam… net na payday… in ‘n vol restaurant waar dit ‘n halfuur neem om water te kook (want hulle kan net 1 mikrogolf op ‘n slag gebruik). En almal weet jy het warm water en handdoeke nodig tydens ‘n kraam!

Die hele kraamproses is toe blykbaar heelwat vinniger as wat hulle jou in standard 9 Biologie wys, want onder die tafel pop ‘n taamlike opgeskote dogtertjie uit, netjies aangetrek met bokstertjies. Sy lyk ‘n bietjie verwilderd en met die kyk wat sy vir baba sussie gee kon mens nogals maklik dink dat sy nou net die trauma van geboorte deurgemaak het.

Sy verdwyn egter tussen die res van die mense en vir ‘n oomblik staar ons stom na baba sussie. Sy giggel en neem ‘n slukkie water. Ons kos arriveer en die amper kraam is dadelik vergete.

Ai ou baba sussie! My wens vir jou is dat dit regtig so maklik sal gaan!