Sedert Dinsdag hierdie week is ek die trotse eienaar van ‘n Instant Pot Duo Crisp + Airfryer.  Ek wou al so lankal een hê, en die oomblik toe die prys val tot onder die sielkundige R4000, toe bestel ek hom.  En in ‘n oogwink vervang een pragtige stuk toerusting die hele hoekkas in my kombuis!

Ek het hom nognie gebruik nie, al is dit reeds vandag Donderdag.  Die rede hiervoor is baie eenvoudig, ek het nognie die instruksieboekie wat saam met hom kom gelees nie.  En almal weet ek lees altyd die boekie, vir my toaster, my ketel, die bedlampie.  As my weeklikse brood en melk met ‘n instruksieboekie gekom het, het ek waarskynlik dit ook gelees.

Die boekie is egter ingepak werk toe, en vandag tydens my middagete, toe besluit ek om bietjie te lees.  Dalk kan ek vanaand een van die 11 funksies van die pot gebruik.

Ek was so bietjie verbaas gewees dat amper die helfte van die boekie bestaan uit veiligheids instruksies. Asof ek ‘n AK47 gekoop het, en nie ‘n pot waarmee ek vanaand se aandete wil maak nie!  Maar dit is duidelik belangrik vir die skeppers van die Instant Pot, so ek begin lees….

En iewers rondom die 6de bladsy toe begin ek lag. My opinie is dat elke waarskuwing, of dit nou vir gladde vloer is of ‘mind the step’, ‘n oorsprong het.  En die oorsprong is waarskynlik ‘n val of kopstamp (of meer as een) weens ‘n redelike ooglopende gevaarlike situasie.  

“Do not operate the appliance while submerged in water”

  • Kan jy jou dit voorstel, die jong getroude paartjie besluit om saam aandete te maak, maar hulle verstaan nie die sous vide deel so lekker nie, en druk toe sommer die hele pot met kragdrade en al in die wasbak vol water in.  Dit was toe die muurprop aangeskakel word wat hulle die fout agterkom….

“The pot should always be operated on a countertop”

  • Nee, ek weier om in die koue kombuis te staan en my skaapboud te pressure cook.  Vandag bly ek in die bed, en dit is ook waar ek my Instant Pot gaan gebruik… in die bed.

“If black smoke comes out of the vents in the lid, press cancel and remove plug from source”

  • Wel, as daar black smoke uit die pressure pot kom dan gaan ek nie lank genoeg rondhang om enige knoppie te druk nie!

Ek kan nog aangaan, maar ek moet bieg, ek is nou so effens bang om vanaand die pot te gebruik.  Miskien moet ek eers die boekie memoriseer voordat ek hom inplug.  Ek is tog nie lus vir swart rook nie…