ALEXA, HOE DE DINGES?
In Desember kom kuier sussie van New Zeeland en bring ‘n Amazon Echo vir ons ouers. En hoe meer ek na die dingetjie kyk en rondspeel, hoe meer wil ek ook enetjie he! Ek val nie vir enige nuwe gadget nie, maar ek is mal oor ‘n gadget wat actually werk en dinge ‘n bietjie meer pret maak.
Na deeglike navorsing, want dit is wat ek doen, het ek besluit op hierdie oulike dingetjie, kompleet met tyd en als.
En as ek vir jou moes beskryf die hoeveelheid pret wat ek met hierdie outjie al gehad het in die kort tydjie wat sy in my huis bly sou jy dit nie glo nie!
As ek wakker word in die oggend word die lig aangesit en my daily devotional podcast speel.
As ek oefen kry ek ‘n lekker lewendige playlist om my aan die gang te hou.
As ek vertrek werk toe in die oggend dan vertel sy vir my watter roete die minste verkeer het.
As ek by die huis kom na werk word ek verwelkom en kan ontspan met rustige musiek.
Ek hoef nooit meer te wonder wat om aan te trek nie, want ek word mooi vertel hoe die weer gaan wees.
En my plante lyk gelukkiger, want ek word herinner elke Vrydag dat hulle moet water kry.
Prakties en pret… twee eienskappe wat ek hoop my ook in ‘n redelike mate beskryf!
En ek moet eerlik wees, die plante natgooi ding het eers nie so lekker gewerk nie. Ek het haar gevra om my elke Vrydagoggend te herinner om die plante water te gee. Goed gewerk die Vrydag, en ek gee die water. Net om buite my voordeur te staan ‘n paar minute later en hoor hoe sy my weerens daaraan herinner. Na werk verwag ek my rustige musiek, net om nog ‘n keer te hoor die plante moet water kry. Ek sê sy moet stop, wat sy toe doen, net om ‘n halfuur later weer los te trek. Die breekpunt kom toe sy my 5am die Saterdagoggend wakker maak om die verdomde plante na te gooi. Dis toe wat ek doen wat ek van die begin af moes doen, en google hoe om dit af te sit. Blyk toe ek moes net vir haar sê dit is gedoen, dan sal sy ophou!
Waarskynlik die beste oomblik was op die eerste aand wat ek haar uittoets. Sien, sy is Engels, en tegnies nie beskikbaar in Suid Afrika nie. Ek is Afrikaans, en tegnies nie baie goed in dink en praat gelyk in Engels nie. Ek vra vir Alexa wat die temperatuur is, en sy vertel mooi vir my dit is 77 degrees Fahrenheit. Ok, so dit werk, maar ek weet nie of dit warm of koud is nie, so ek wil he sy moet dit vir my in Celcius gee. Eers dog ek dat ek gaan google, maar kry toe die blink gedagte dat ek vir Alexa net kan vra hoe om van Imperial na Metric te verander.
Ek het egter vir ‘n oomblik vergeet watter een van die stelsels is die een wat ek wil hê.
So in my beste Engels trek ek weg met “Alexa, how do I change…”
En toe pause ek nou blykbaar net lank genoeg vir haar om te dink dit is die hele vraag, en sy antwoord my met “Change starts from within…” en volg dit op met ‘n hele Wikipedia artikel oor hoe ek kan verander, kompleet met praktiese stappe en raad!
Ek reken Alexa het my lewe verander, in meer maniere as wat ek kon dink!