Op die 21ste Desember verlede jaar moet ek noodgedwonge na die munisipaliteit gaan. Dit is my eerste dag van vakansie en verseker nie ‘n aktiwiteit wat ek sou kies om hom mee af te skop nie.
Sien, vir 8 jaar al doen ek elke jaar rondom dieselfde tyd aansoek vir my kar se nuwe lisensie, online, omdat ons die beste munisipaliteit het wat dit sommer vir jou pos!
Maar verlede jaar was daar ‘n glitch (ek dink nogsteeds dit was die poskantoor se skuld) en die lisensie het nooit by my uitgekom nie.
Op die foon, bel hulle en word ges⁠⁠⁠ê iemand sal my terugbel… en toe doen hulle dit!!
Mooi gevra watter munisipaliteit ek verkies, en watter dag, en toe word ek die naam gegee van iemand wat my sal kan help, ek moet reguit gaan na sekuriteit, vra vir ‘n reprint, ignoreer die queue. Amper soos Monopoly… go straight to jail, don’t go past start…
Die website s⁠⁠⁠ê die munisipaliteit maak 8am oop. Ek stop 7:45am in ‘n BAIE vol parkeerarea, en sien die ry draai al terug op homself so lank is hy.
En ek voel so skuldig, maar ek stap verby daai hele ry… die mense kyk my aan, party van hulle vol bewondering, asof hulle my ‘guts’ om die ry te skip nie kan glo nie. Ander vol agterdog, wie is hierdie arrogante persoon wat dink sy kan die ry skip, en moet ek dalk iets s⁠⁠⁠ê?
Aan die voorkant gekom sien ek dat hulle reeds oop is, en flink mense help, reeds vir ‘n hele rukkie! Al die venstertjies het mense in, en twee sekuriteitswagte is daar voor, die een spring heen en weer tussen vensters om seker die maak die ry beweeg so vinnig moontlik, en die ander een hou ‘n ogie en deel die regte papiere uit.
Skaam s⁠⁠⁠ê ek die rympie op wat die dame op die foon vir my gegee het. En die sekuriteit verdwyn agter ‘n deur met my ID. Ek voel bietjie soos ‘n skurk, die mense kyk nogsteeds.
In die 3 minute wat die sekuriteit weg is met my ID kry ek darem die kans om vir die boer in die ry wat sy plaasbakkies se lisensies kom hernu te verduidelik hoe maklik online is – ek hoop hy onthou volgende jaar!
Toe ek oomblikke later weer in my kar klim, die sonskerm afhaal wat toe nooit nodig was nie, toe wys die tyd 07:58… tegnies is die munisipaliteit nognie eers oop nie, en hier sit ek, klaar gehelp.

Dit laat my stilsit, toe vir ‘n hele paar ekstra minute. Ek weet daar is oorgenoeg om oor te kla, maak nie saak waar jy bly nie. Jy hoef nie eers hard te probeer dink om iets te kry om oor te kla nie.
Maar dieselfde is waar vir dit waarvoor jy dankbaar kan wees!


Sien, in ‘n paar minute kon ek myself amper oorweldig met dankbaarheid!
Dankbaar vir ‘n kar wat ‘n lisensie het
Dankbaar vir ‘n werkende munisipaliteit waar ek bly
Dankbaar dat ek vakansie het
Dankbaar vir tyd

En toe het ek sommer myself gaan ‘treat’ met ‘n ontbyt in Tygervallei… ek het dan nou so baie tyd!