best_friends_for_girlsSo is ek toe die afgelope naweek langs die rivier. Eintlik moes ek nie gegaan het nie, ek is immers op standby by die werk maar het maar gehoop dat niks pype bars nie (daar het) en dat alle kontrakteurs opdaag (hulle het nie). Maar dit was ‘n vrek lang jaar en dis spesiale memories saam met hartsvriende.

Die Saterdagoggend het heel rustig begin, daar was ‘n koeltetjie in die lug en die voorstel word gemaak dat ons gaan kayak. Nou ek het lank terug my les geleer met enigiets wat ‘n spaan insluit. En net omdat jy al baie op ‘n boot was en gereëld die akwarium besoek beteken nie jy is ‘n kenner nie. Ook nie dat jy enigsins weet wat om met die spaan te maak nie.

So is ek eers heel beskeie met “ag gaan julle maar”. Dit word egter summier doodgepraat en so land ek alleen op ‘n massive geel gevaarte. Sonder opleiding en sonder ‘n life jacket of safety video. Netso! Dit is rondom hierdie oomblik wat ek begin vermoed dat ek nie helemal so simmetries gebou is as wat ek gedink het nie. My regterkant, en spesifiek die regter boud is baie baie swaarder as die linker ene. Maar ek is in, ek is regop en ek kan die geel ding beweeg. My roeibeweging is ietwat komies… ek het nog net ‘n paar dragon boat races gedoen. Nou sien jy daai prentjie…

Die roeiery is toe egter baie lekker, die uitsig is fantasties, die water spieëlglad en elke nou en dan is daar ‘n impulsiewe resies (wat ek natuurlik elke keer wen), maar vanweë die kompeterende geaardheid van my roeimaat hou ek maar bietjie terug.

(Ok, hierdie is MY storie, laat ons dit nie spoil met nietige feite nie)

Ons maak grappies en gesels en ek raak gemaklik. Ek word gewaarsku dat daar ‘n effens briesie gaan wees as ons omdraai, maar ek is so chuffed dat ek nog binne (alhoewel bietjie nat agv my roeimetodes) in die kayak is dat ek geen beswaar maak teen die bietjie verder roei nie.

Dis toe ons omdraai wat ek die ware betekenis van eufemisme verstaan. Die elemente is ewe skielik kwaad! Die stroom vloei so sterk (heaven knows waarheen, want ons is in ‘n freakin kanaal) en die briesie is sommer net plein wind. Ewe skielik moet ek roei vir my lewe. Want ek weet nie of daar watervalle in die kanaal is nie, en ek het nognie ontbyt gehad nie! En ek kan sommer klaar voel waar ek die volgende week orals gaan styf wees.

So kom ons by die jetty aan. Almal klim mooi uit en beduie presies waar ek watter liggaamsdeel moet plaas om ook uit te klim. Ek probeer my uiterste bes om die maneuvers so vroulik moontlik uit te voer. En die volgende oomblik is ek binne-in die water! My mater en die kinders lag so, die flippen geel kayak word amper verloor!

Ek ervaar ‘n oomblik van absolute verbystering, hoe kan so ‘n dierbare vriendin so ‘n wrede ding aan my doen! Ek kan haar laaste woorde nog hoor… “lig jou boude, ek het die kayak”. Kort daarna het ek desperaat probeer om onder die jetty uit te bly (daar is mossels en goeters wat glibberig op ‘n nie-goeie manier is daar onder!!). En die geel gevaar wat ek vir meer as ‘n uur kon balanseer, onewe boude ten spyt tip toe ek wil uitklim!! Ek weet darem nie. Dalk het ek verkeerd gehoor. Dalk was haar woorde eintlik “lig jou boude sodat ek gou die kayak kan tip, want jou manier van roei alleen was nie snaaks genoeg nie!”.

Anyway… ons is nog vriende.

En dit sê nogals baie.

Want later daardie selfde dag is ek deur die einste mater (vir die eerste keer in my lewe) by ‘n supertube afgeboender. En ek verdrink toe amper haar kind! Ek self het meer as my week se kwota water gesluk in die proses, maar moes skaars 30 sekondes later WEER die proses herhaal! So asof niks gebeur het nie, en ek gewoonlik so nat is!  (By the way, die trippie het ‘n stop by Pepstores ingesluit vir droeë onderklere)  Sadistic of Masochistic, ek wetie. Maar ek burp steeds bietjies soutwater as ek daaraan dink.

Vir die res van die naweek was ek nie veel droeër nie… maar het tussen die snot en konfyt en spoeg en creme caramel oorleef en groot pret gehad. Ek het wel battle scars as bewyse, my lyf is so ‘n ligblou/groen skynsel op plekke en sekere aksies waaraan ek baie waarde heg is gladnie moontlik nie.

Nou sal jy vra hoekom ek skryf oor hierdie misfortune.  Buiten vir die vele resies wat ek gewen het op die kayak was daar nie juis ander wen situasies vir my in die storie nie.  Ek skryf egter omdat ek iets baie waardevols geleer het.  Life operates in stealth mode.  Die lewe het ‘n manier om die speelveld gelyk te maak.  Elke keer as jy dink jy is beter as wat jy eintlik is, dan dop hy vir jou uit die kayak.  Elke keer as jy net ‘n bietjie te cocky raak, dan slinger hy jou by ‘n onbekende supertube af.  Maar as jy die regte vriende het, (en mooi genoeg na hulle kyk) sal jy altyd onder die jetty kan uitkom en daar sal altyd ‘n handdoek wag as jy daar staan in druppende klere.

Wees lief vir mekaar…