‘n Halfuur in ‘n ry

So beland ek vanoggend vir ‘n tweede keer op een dag in ‘n ry by die poskantoor.   En dit verstom my dat ek by die lughawe se poskantoor, met 2 venstertjies en 1 persoon, vinniger gehelp word as by die Bellville poskantoor, met 12 vensters, en 8 mense aan diens!

Nou terwyl ek so staan en wag met my blou slippie in die hand, begin ek bietjie rondkyk.  Eerste ding wat my opval is die reuk.  En ek sweer, NIEMAND in daardie ry het die afgelope naweek naby water gekom nie!  Ek wonder of iemand sal aanstoot neem as daar ‘n scanner by die deur is wat jou nie gaan toelaat as jy so stink nie!

Ek begin toe maar die mense dophou.  Elke tweede persoon het ‘n blackberry, en daar is ‘n konstante “blip blip” geluid soos boodskappe ontvang word.  Die geen selfone bordjie by die ingang het geen impak nie.  Ek moes lag vir die ou voor my.  Hy het die oudste foon ooit, een van daai met ‘n aerial, en daar is niks meer op die knoppies nie, alles af van jare se gebruik.  Maar ewe skielik begin die foon lui, en dit is ‘n monophonic weergawe van die iphone tune!  Classic.

Die poskantoor raak skielik bietjie donker, en ek draai om, net om die moois geboude man OOIT te sien inkom.  Hy moet verseker ‘n bodybuilder wees!  Een wat sy spaarrekening by die poskantoor hou.  Goeie outydse waardes?  Hy val in die ry in, en haal ‘n blackberry uit.

Teen die tyd het ek darem al begin beweeg.  Ek staan wydsbeen, want my bure het bitter klein bubbles, en val heeltyd in myne rond!  Die “teet teet teet” geluid sal my mal maak as ek hier moes werk.  Elke persoon se reaksie is dieselfde as hulle voor kom.  “Teet teet teet” dan kyk hulle op na die bord, sien watter nommer is oop, en begin dan by teller een tel tot hulle die regte nommer gevind het.  Keer op keer presies dieselfde.  Ek neem my voor om dit NIE te doen as dit my beurt is nie.

Uiteindelik is ek voor.  Die tannie by ‘n venstertjie regs van my rol haar hele lewe af, in triplikaat.  Daar is sertifikate en ID’s en fotos en wat lyk soos ‘n afdruk van haar butt.

Ek word bewus van die ou agter my wat my effens stamp.  En toe van die roepstem, “u kan maar kom dame”.  Die tannie by venstertjie 8 staan en roep my!  Hoekom het sy nie die “teeter” gebruik nie!

Ek oorhandig my blou papiertjie, en die tannie verdwyn.  By die venstertjie langs my staan ‘n massiewe oom in kakieklere.  Sy hond is by hom, en ek kan al die wit Toyota bakkie buite voorstel.  “Nou boetie, waar is mambaai?”

Die tannie kom terug, en oorhandig die baie boring Unisa pakkie vir een van my kollegas.  Teleurgesteld stap ek terug kar toe.  Wat is nou fun daaraan!

Miskien volgende keer is daar vir my ook ietsie

Die snoek loop!!!

Die afgelope maand is ek geweldig geinspireerd om gewig te verloor.  Die reg eet alleen werk egter nie, so elke oggend 6 uur gaan stap ek vir ‘n halfuur, en dan so een of twee keer ‘n week doen ek ‘n lekker 8km staptog na werk.

Gisteraand doen ek toe die 8km, en alhoewel dit geweldig warm is, besluit ek tog om myself bietjie te push.

Na 6km kom ek aan in Ou Paarl Weg, bloedrooi in die gesig, maar met ‘n smile, want ek is amper klaar.  Nou die van julle wat na werk in Ou Paarl afry, sal weet dat dit die plek is om snoek te gaan koop.  Met hulle bakkies staan die uittand vissermanne gereed met “2 for 50”, elke dag.

By die eerste bakkie groet ek vriendelik, en die een outjie spring dadelik op, en haal sy hoedjie af.  Die volgende gesprek volg:

Visman:          Middag nôitjie!

Ek:                   Middag, hoe ganit?

Visman:          Goed nôitjie, maar lyk my nôitjie kry bietjie warm?

Ek:                   Ja, ek het vêr geloop

Visman:          Nou kan ek so ‘n klein entjie saam met nôitjie loop.

Ek:                   Enigetyd, dit sal lekker wees.  Waar vang julle die vis?

Visman:          By Lambertsbaai, weet nôitjie waar dit is?

Ek:                   Ja, ons het ‘n huis by Dwarskersbos maar…

Visman:          Ma nôitjie!!! Dis mos verskriklik ver om te stap!! G’n wonner nôitjie lyk so moeg nie!!  Wag, ek kry vir nôitjie ‘n komplimêntry!

Ek:                   Nee, jy verstaan verkeerd…    Sjoe, dis ‘n GROOT vis!
Wow, baie dankie man, maar dis regtig nie nodig nie.

Maak nie saak hoe mooi ek probeer het nie, hy en sy makkers het aangedring dat ek die vis vat.  Mooi toegedraai in koerantpapier.

Nou onthou, ek is nog 2km van my huis af, semi-dood van die strawwe pas en hitte, en nou moet ek met ‘n vis in die arms verder stap?

Ek het so 800m gemaak, toe kan ek nie meer nie.  Die hitte en visreuk en my moegheid clash almal, en ek gaan klop aan ‘n random voordeur.  Die middeljarige man in wie se arms ek die snoek druk het my eers aangekyk of ek mal is, maar toe ek my storie vertel was hy baie simpatiek, en het aangebied om die vis vir my huistoe te bring in sy kar.

Ek het egter genoeg gehad van vis, en huistoe gestap met ‘n reuk wat ek netnie kan afskud nie.  By die huis het ek met klere en al onder die stort gespring.

Vanmiddag sal ek by daardie selfde bakkie stop na werk, en vir my ‘n snoek koop…

‘n Skewe brood

My een kollega hier, is regtig dierbaar.  Hier is ‘n paar van hulle wat baie nice is, maar hierdie ou is ‘n gentleman en laat my altyd lag.  Hy gaan koop elke Maandag ‘n brood, en die een brood verdeel hy sorgvuldig tussen oggend teetyd en middagete, sodat hy die hele week daarmee uitkom.

Op ‘n stadium het ek saam met hom gestap Maandae en vir my ook ‘n brood gekry, maar deesdae met die gesonder eet doen ek dit nie meer nie.

Hy het egter hierdie gewoonte gehad om my brood vir my te dra.  ‘n Klein gebaar, maar dis tog wat tel.  Gewoonlik het hy ook ‘n bos sleutels en ‘n paar ander goed gekoop, so dit was nie altyd so gemaklik om die brood te dra nie.  So gebeur dit dan ‘n paar keer dat die brood heeltemal skeefgedruk by die kantoor uitkom.  Ons het al begin spot oor watter vorm die brood die week gaan aanneem.

Vanmiddag is die eerste keer in ‘n baie lang tyd wat ek vir my brood vir middagete saamgebring het kantoor toe.  Ek bring egter nie ‘n hele brood nie, slegs 2 snytjies wat ek toedraai, en sommer in my laptop sak druk.

Met middagete staan ons almal in die kombuis besig met watter voorbereidings ookal, en ek haal my 2 snytjies uit, onherkenbaar skeef gedruk.  My kollega begin lag.  “It really wasn’t me”.

Hy bied aan om met my te ruil, want sy brood is hierdie week nie so skeef nie….

Oor bid en in stilte eet

Soos meeste van ons het ek ook grootgeword in ‘n huis waar daar voor ete gebid word.  Dit is iets wat ek van my vriende ook waardeer deesdae.  Daar is altyd iemand wat vir ons bid, of dit nou vetkoeke of braai of kookkos is.

Ons sit nie altyd om ‘n tafel nie, meestal omdat 7 de Laan altyd in etenstyd val, en ook omdat ek nie ‘n tafel in my plek kan inpas nie.  Maar die tv se klank word altyd afgesit, iemand bid, en dan val ons weg.

Gisteraand nooi my jongste sus my oor vir hotdogs by haar plek voor ons uitgaan Buena Vista toe vir ons middel sus se verjaarsdag drinks.  Nogals whole wheat rolletjies en slaai vir ‘n meer gesonder opsie.

En soos die gebruik dan ook is, moet ons eers bid voor ete.  En sus gee die opdrag:

“Sit af die tv se klank, sodat Adele kan eet”

Ek bars uit van die lag, en my sus en haar verloofde buit die situasie perfek uit deur my verontwaardig aan te kyk en te vra of ek dan nie in stilte eet by my plek nie, en waarvoor het ek gedink is die 7de Laan onderskrifte dan.  Dit het ‘n hele rukkie gevat voor ons by die bid kon uitkom.

En dit het my laat besef hoe baie tye verander het.  Cliché, ek weet.  Maar jare gelede, voor tv is daar werklik in stilte geëet, met kinders wat gesien en nie gehoor moes word nie.  En dan kyk ek na ‘n tipiese Sondagete waar ons hele gesin bymekaarkom om ‘n tafel. En ons praat harder en meer as wat enige tv kan doen, en daar word beduie en gelag deur die hele ete.  Groot pret.

En ek is so bly dat ons nie in stilte hoef te eet nie!

Die Hoender in die yskas

Kyk, dis nou al algemeen bekend dat hier ‘n klomp verskillende kulture saamwerk onder een dak, en ek is fine daarmee!

Maar een ding wat ek nognie mee fine is nie, is hoenderpote. Ook bekend as ‘runaways’ of ‘walkie talkies’ indien dit saam met die hoenderkop bedien word.

En ewe skielik besef ek waar die naam van daai nuwe Simba chips vandaan kom!

Waiter, Waiter!

“Ag, ek sal maar vir my ‘n ou joppie kry as ‘n waitress”

Dit hoor ek ‘n vriendin nou die dag sê toe ons praat oor maniere om jou inkomste aan te vul.  Toe ek haar natuurlik vra of sy al voorheen as een gewerk het, is die antwoord “nee, maar dis gelukkig maklik”.

En ek wil myself breek!

Want om ‘n kelner te wees, maak nie saak waar nie, is nie maklik nie!  Buiten vir lang ure op jou voete, betaal dit ook nie goed nie, en jy moet regtig goed wees en goeie fooitjies verdien om ‘n bestaan daaruit te kan maak.

Ek weet!  Vir twee jaar het ek as ‘n waitress gewerk, en alhoewel ek dit geniet het, en wonderlike mense ontmoet het, was daar ook tawwe tye so saam met die lag.  Van mense wat “vergeet” om te tip, tot mense wat kla sonder enige rede, hulle was almal daar.

So is ek dan ook een aand deur ‘n dronk klient opgetel (ja, hy het my fisies opgetel) en op sy bakkie gesit toe ek vir hom sy take away vat wat hy op die tafel vergeet het.  Dankie tog vir die vriendelike karwag!

Daar was die oog-rollers, wat elke keer as ek iets bring of sê hulle oë gerol het asof ek verskriklik stupid is.  Hulle het ook alles teruggestuur, want die brandewyn proe nie soos brandewyn nie (maar die tweede glas, wat die eerste glas was met net ‘n ekstra ysblokkie, was beter) en die chips is te sout (maar hulle het self die sout opgegooi).

Dan was daar ook die baie bekende orkes wat 15 minute voor toemaaktyd daar aankom.  Hulle was 12 mense, en twee van ons het spesiaal agtergebly tot die vroeë oggendure om hulle te bedien.  En na eindelose Windhoek Lights, groet hulle vreeslik vriendelik, met baie dankies, ‘n R2000 rekening, maar geen tip.

Ek moes ook al ‘n verklaring by die polisie gaan aflê oor ‘n baie grand couple, hoog gerook wat nie kon betaal nie.  Dit nadat hulle 500g rump steaks met hulle hande geëet het! Ek het nou nog die prentjie in my kop van die mushrooms wat uit die vrou se mond pop, omdat daar nie spasie is nie!

Die oomblik wat ek egter vir altyd sal onthou, het redelik aan die begin van my waitressing loopbaan gebeur.  Ek het nie baie geld verdien by my “dagwerk” nie, en moes elke sent ‘n hele paar keer omdraai.  Voor ek die aand na die restaurant gekom het, het ek gesien dat my krag eenhede baie laag is, en het ek ‘n mental note gemaak dat ek moet onthou om by die garage te stop oppad terug.  So kry ek ‘n wonderlike tafel, 4 vriendelike mense, gladnie demanding nie.  En toe hulle betaal, is daar R180 kleingeld.  Ek neem die boekie vir hulle terug, en toe die tannie vir my sê dat die kleingeld myne is, is ek so verstom, dat ek die enigste ding sê wat op my brein is! “nou kan ek gaan krag koop”.  Hulle moes seker gedink het hierdie arme kind wat in ‘n donker plekkie sit, en vanaand kan sy krag koop!  Hulle was ‘n paar weke later weer daar, en toe ek by die tafel kom en my voorstel was hulle woorde “ja, ons weet wie’s jy, ons koop vir jou krag”.

My punt is net dit, waitressing is ‘n great ekstra job.  Mens ontmoet wonderlike mense, leer sosiale vaardighede vinnig aan, maak partykeer lekker ekstra geld en het die voordeel van goedkoop kos.

Maar dit is nie so damn maklik nie!