Soos meeste van ons het ek ook grootgeword in ‘n huis waar daar voor ete gebid word.  Dit is iets wat ek van my vriende ook waardeer deesdae.  Daar is altyd iemand wat vir ons bid, of dit nou vetkoeke of braai of kookkos is.

Ons sit nie altyd om ‘n tafel nie, meestal omdat 7 de Laan altyd in etenstyd val, en ook omdat ek nie ‘n tafel in my plek kan inpas nie.  Maar die tv se klank word altyd afgesit, iemand bid, en dan val ons weg.

Gisteraand nooi my jongste sus my oor vir hotdogs by haar plek voor ons uitgaan Buena Vista toe vir ons middel sus se verjaarsdag drinks.  Nogals whole wheat rolletjies en slaai vir ‘n meer gesonder opsie.

En soos die gebruik dan ook is, moet ons eers bid voor ete.  En sus gee die opdrag:

“Sit af die tv se klank, sodat Adele kan eet”

Ek bars uit van die lag, en my sus en haar verloofde buit die situasie perfek uit deur my verontwaardig aan te kyk en te vra of ek dan nie in stilte eet by my plek nie, en waarvoor het ek gedink is die 7de Laan onderskrifte dan.  Dit het ‘n hele rukkie gevat voor ons by die bid kon uitkom.

En dit het my laat besef hoe baie tye verander het.  Cliché, ek weet.  Maar jare gelede, voor tv is daar werklik in stilte geëet, met kinders wat gesien en nie gehoor moes word nie.  En dan kyk ek na ‘n tipiese Sondagete waar ons hele gesin bymekaarkom om ‘n tafel. En ons praat harder en meer as wat enige tv kan doen, en daar word beduie en gelag deur die hele ete.  Groot pret.

En ek is so bly dat ons nie in stilte hoef te eet nie!