Die afgelope maand is ek geweldig geinspireerd om gewig te verloor.  Die reg eet alleen werk egter nie, so elke oggend 6 uur gaan stap ek vir ‘n halfuur, en dan so een of twee keer ‘n week doen ek ‘n lekker 8km staptog na werk.

Gisteraand doen ek toe die 8km, en alhoewel dit geweldig warm is, besluit ek tog om myself bietjie te push.

Na 6km kom ek aan in Ou Paarl Weg, bloedrooi in die gesig, maar met ‘n smile, want ek is amper klaar.  Nou die van julle wat na werk in Ou Paarl afry, sal weet dat dit die plek is om snoek te gaan koop.  Met hulle bakkies staan die uittand vissermanne gereed met “2 for 50”, elke dag.

By die eerste bakkie groet ek vriendelik, en die een outjie spring dadelik op, en haal sy hoedjie af.  Die volgende gesprek volg:

Visman:          Middag nôitjie!

Ek:                   Middag, hoe ganit?

Visman:          Goed nôitjie, maar lyk my nôitjie kry bietjie warm?

Ek:                   Ja, ek het vêr geloop

Visman:          Nou kan ek so ‘n klein entjie saam met nôitjie loop.

Ek:                   Enigetyd, dit sal lekker wees.  Waar vang julle die vis?

Visman:          By Lambertsbaai, weet nôitjie waar dit is?

Ek:                   Ja, ons het ‘n huis by Dwarskersbos maar…

Visman:          Ma nôitjie!!! Dis mos verskriklik ver om te stap!! G’n wonner nôitjie lyk so moeg nie!!  Wag, ek kry vir nôitjie ‘n komplimêntry!

Ek:                   Nee, jy verstaan verkeerd…    Sjoe, dis ‘n GROOT vis!
Wow, baie dankie man, maar dis regtig nie nodig nie.

Maak nie saak hoe mooi ek probeer het nie, hy en sy makkers het aangedring dat ek die vis vat.  Mooi toegedraai in koerantpapier.

Nou onthou, ek is nog 2km van my huis af, semi-dood van die strawwe pas en hitte, en nou moet ek met ‘n vis in die arms verder stap?

Ek het so 800m gemaak, toe kan ek nie meer nie.  Die hitte en visreuk en my moegheid clash almal, en ek gaan klop aan ‘n random voordeur.  Die middeljarige man in wie se arms ek die snoek druk het my eers aangekyk of ek mal is, maar toe ek my storie vertel was hy baie simpatiek, en het aangebied om die vis vir my huistoe te bring in sy kar.

Ek het egter genoeg gehad van vis, en huistoe gestap met ‘n reuk wat ek netnie kan afskud nie.  By die huis het ek met klere en al onder die stort gespring.

Vanmiddag sal ek by daardie selfde bakkie stop na werk, en vir my ‘n snoek koop…