Kyk, ek het in ‘n redelike weird generasie groot geword. Ouers hoef nooit oor screen time te worry nie, daar was nie screens nie.  Daar was televisie, maar die oorgeklankte goed wat gewys het was min, en die enigste ding wat jy op ‘n DOS rekenaar kon speel is Asteroids.

Ons het egter op die vooraand gestaan van die tegnologie era, en toe ek begin werk kon ek darem gemaklik op ‘n rekenaar werk, en het my eerste selfoon kontrak uitgeneem teen R9 per maand.  Ons het ‘n afrolmasjien, rekenaars en printers by die werk gehad. En ook ‘n faksmasjien.

Vandag kry ek lag as ek op iemand se besigheidskaartjies ‘n faksnommer sien. 

Soos rerig?

Anyway, jare terug en ek is by my eerste werk. Vars uit universiteit, en besef baie gou dat ek eintlik maar niks weet nie.

Niks in real life werk soos dit in ‘n universiteits klas werk nie, en nou moet ons nog op stelsels en excel werk ook.

Maar elke dag leer ek iets nuuts, en dit gaan redelik goed.

Een dag gee my bestuurder my ‘n stuk papier, met ‘n post-it en ‘n nommer. Ek moet dit glo na die nommer gaan faks.  Daai tyd was dit standaard, want ten spyte daarvan dat die afrolmasjien die grootte is van my woonstel, kon hy net een taak doen, en dit is afrol.  Oh, en faks.  Maar dit was al.

So, af na die klein-huisie-afrolmasjien om die faks te gaan stuur.

Instruksie op die masjien is redelik eenvoudig:

Jy sit die papier neer, face down.

Jy tik die nommer in op die keypad.

Jy druk send.

Ek doen alles pragtig, soos ‘n papegaai. Die papier is reg, die nommer ingetik, en ek druk die groot SEND knop.

Die masjien lees die nommer, en die volgende oomblik begin dit lui.  Tring tring…

En toe tel iemand op en s⁠⁠⁠ê  “Besigheid XYZ goeie middag”

Ek het dit nie verwag nie, en staan vir ‘n oomblik gevries en kyk na die masjien.  Hoe nou?  Niemand het ges⁠⁠⁠ê die masjien gaan met my terugpraat nie?

Nou dit is toe bietjie awkward, want nou het die masjien dan hello ges⁠ê…

Toe doen ek maar wat enige ordentlike mens sou doen.  

Ek leun vorentoe en s⁠ê “goeie middag”.

Ons moet tog almal iewers begin ne?

PS: vir almal wat nie weet nie, maar baie besighede het destyds dieselfde lyn vir hulle telefoon gebruik as ‘n faks. So as jy ‘n oproep ontvang, en die foon maak ‘n skree geluid, dan moet jy hom neersit sodat die faks kan deurkom.