Dit is nou amptelik vandag 6 maande wat ek in my nuwe, eerste huis ingetrek het. As jy al ‘n rukkie hier lees sal jy al die woonstel stories gehoor het.  Van die ou met sy voël, die tannie met haar Jessica-wat-haak cd en die jare van grootmens word in ‘n klein spasie in die lug.

En nou is ek in ‘n huis. ‘n Townhouse soos hulle hom noem.  En dit is lieflik!  Ek het ‘n tuintjie met twee suurlemoenbome wat groei asof hulle betaal word.  Dit is ‘n bitter stil buurt, jy hoor net honde blaf as ‘n ander hond en sy eienaar in die straat af stap. Asof hulle hello s⁠ê vir mekaar.  Dis veilig, en dis heelwat groter as my woonstel, maar nie buitensporig nie, so ek kan hom steeds self manage.

Ek het ook natuurlik die beste bure, in fact… ek ken al amper die hele straat en moes regtig lag die ander dag toe my buurvrou oorkant die pad vir my vertel dat sy maar altyd waai as sy aangery kom na haar huis toe, want die son skyn so in haar o⁠ë, dat sy nie kan sien of ek wel op my stoep sit of nie.

Die eerste week het my bure se grootmens kinders ook waar⁠skynlik gedog ek het ‘n probleem.  Want elke middag as hulle stop by hulle ouers dan was ek reeds op my stoep met ‘n glas wyn.  Dit is net sooo lekker, en iets wat ek nooit as vanselfsprekend wil aanvaar nie.

Nou dit is ook natuurlik van pas dat ek in my eerste 24 uur in die nuwe huisie, my eerste blaps sou maak.  En glo my, daar is vele, maar dit is makliker om daaroor te lag en ek sal nog daaroor skryf.

Ek het op ‘n Vrydag ingetrek. Trek geboek, iemand gereel om by my ou plek te wees terwyl ek by die nuwe plek is – jy weet, die logistieke bestuurder in my… Die agent bring vir my middagete, en ek pak uit vir my eerste nag se slaap. Werk lewer hout af, en daai aand maak ek my eerste vuur ooit.  Met ‘n glas wyn, dit voel of ek in die hemel is!

Die Saterdag kom my ouers, suster en selfs die kinders asook Vumatel oor om te help met goed opsit, goed wegpak, goed skoonmaak en goed installeer.  Daai middag 5pm het ek gordyne wat hang, ‘n skoon plek, alles uitgepak en internet wat werk.  Almal het baai gesê en ek staan op my stoep en kyk na die mooi uitsig, die son wat sak en luister na die salige stilte.  Dis net die vumatel outjie wat nog ‘n entjie af in die pad sit in sy bakkie, besig om sy finale checks te doen.

En skielik hoor ek ‘n man wat sê “Adele”.

Verward kyk ek na die Vumatel outjie in sy bakkie. Hy’s besig op sy foon, lyk nie of hy eers opgekyk het nie, en in my kop maak dit in elk geval nie sin dat hy my die hele middag “Juffrou Basson” sou genoem het, en nou skielik oppad uit so hans geraak het nie.   En daar is niemand anders hier wat my al ken nie.

Dit is toe ek opkyk om te sê “Spreek Heer” wat my oog my nuwe buurman se glimlag vang… hy het seker gedog ek is bietjie mallerig.

En hy wou my net vir ‘n welkom drankie nooi!