HUISARRES
Dis nou al ‘n jaar wat ek in my huisie bly, en ek is super dankbaar dat ek die wonderlikste bure het, staatmakers en net in een woord die beste… maar ek hardloop dinge nou vooruit, laat ek bietjie backtrack.
Hierdie naweek is ek baie bevoorreg om my twee “nephews” van New Zeeland hier te hê, 10 en 6 jaar oud onderskeidelik – en buiten vir die bietjie streng wees rondom screens is hulle ‘n fees! Die laaste woord gisteraand en die eerste een vanoggend was “tannie” – en dit begin nou al amper plek vind in my brein soos die reverse klank van ‘n forklift….
Ons is al deur 2 Checkers deliveries, want die melk, Cream Soda en brood het dit nie gemaak soos beplan nie. Ons het ook gisteraand in die parkie gaan speel.
So bestel ons ‘n “pool”, want dit is warm, en ek wil graag hê hulle moet buite speel (en nie op screens nie), maar my tuin het 2 suurlemoenbome, ‘n strawberry plant, lollipop boompie, lavender en ‘n kaktus. En een klein balletjie wat die buurman se seuntjie eendag perongeluk oorgegooi het.

Absoluut niks wat hulle sal interesseer nie!
Buurvrou so twee huise verder laat weet haar kinders speel bietjie agter in hulle garage, ek moet die twee bring.
En dit is toe ek my voordeur wil oopsluit dat ek besef… ek weet nie waar my bos huissleutels is nie.
Die kinders het klaar hulle sonhoedjies en crocs aan, en ons kan nie die sleutels kry nie.
Ek gaan na die skuifdeur, met ‘n sekuriteits hek, en besef hy is slam lock, so is ook toe. En dit is toe ek opkyk na die tuinhekkie dat ek besef ons het die sleutels gisteraand in die tuin weggesteek toe ons gaan stap het, en nooit ingebring na die stap nie. Maar hulle lê nou so 3 meter weg, buite die huis.
Allerhande gedagtes begin deur my kop gaan. Ek kyk na die kinders en wonder of kleintjie klein genoeg is om deur die diefwering gedruk te word… maar nope. Kry mens dalk ‘n YouTube video oor hoe om ‘n slot oop te kry, maar ek wil dan nou juis nie screen time doen nie… Waar is my spaar sleutels? Oh, natuurlik sal dit in die kar wees.
Uiteindelik steek ek my trots in my sak, en bel my buurvrou. Wonderlike buurvrou het ‘n spaarsleutel van my plek, en op daai oomblik kon ek nie meer dankbaar wees vir haar nie.
Sy kom sluit vir ons voordeur oop en laat ons deur hulle huis loop om deur haar tuin by die straat te kom, sodat ons deur my oop hekkie kan gaan om sleutel te kry. Die heelpad probeer ons bitter hard om nie te snork van die lag nie. Dis toe ons instap by my hekkie dat Daniel, die jongste afhaak met “This was the best adventure ever!!”.
Ek kan nou nog vir buurvrou hoor lag.
En ek het seker gemaak hulle word genoeg dankie gesê uit my shebeen hier….