Gou ‘n vinnige storietjie voor ek bietjie sal tyd spandeer om van die aftree oord en sy dinge te vertel. Ek en my ma het gisteraand vir Dirty Dancing gaan kyk, en sy vertel toe hoe sy altyd so ‘n oomblik pause voor sy antwoord as mense vra watter parfuum sy aanhet. Nie omdat sy nie kan onthou nie, maar sy dra Organza, en mens kan tog so maklik met die tong glip. En om vir kerk mense te vertel jy dra Orgasm is nie cool nie!

Dit herinner my toe aan lank terug toe ek my beurs teruggewerk het by ‘n groot kettingwinkelgroep.  Ek was deel van die ‘plebs’. Ons het nie ons eie kantore gehad nie, maar almal (omtrent 20 in ons afdeling) het in klein boksies gesit, boonop met glas afskortings.  Jy het maar prentjies met motiverings opgeplak vir ‘n bietjie privaatheid. Dit was ook baie erg korporatief, jy het 10 uur en 3 uur teetyd gehad en ‘n halfuur middagete, stiptelik om 1 uur. Enigiets net ietwat persoonlik moes jy in hierdie tye afhandel.  En ja, dit sluit toilet besoeke in.

Ek het kort vantevore uitgetrek by my ouers, en was besig om my voete te vind in die ‘grootmenswêreld’. My kop was vol met elektrisiteits vouchers, gebrande aandete en goedkoop koffie.  Ek het ook my eerste selfoonkontrak gekry.  ‘n Nokia teen R9 ‘n maand.

En toe lui hy.

En dis my pa, om my te sê dat die versekering my nou nie meer kan cover nie, want ek studeer nie meer nie, en ek bly ook nie meer by hulle aan huis nie.  Hy het nog aangepraat, maar my brein het gaan stilstaan.  Want hoe gaan ek die 2km huistoe ry met ‘n onversekerde kar!  Almal gaan weet, en aspris in my vasry!

Nou daai tyd al het ‘n sekere versekerings maatskappy net so baie advertensies gehad soos vandag, en die nommer spring in tussen die koffie en elektrisiteits voucher… 0860…

Ek het die oggend lugtyd gekoop, en laai dit toe net voor middagete.  Toe die klok 1 uur slaan toe bel ek.  Vriendelike mannetjie, Christo (sal dit nooit vergeet nie), en hy help my baie mooi, wil alles weet oor my kar, my tv en my yskas, want dit is al wat ek besit het!

Nou moet jy mooi verstaan, ‘n oop kantoor is nie klankdig nie.  My maag sal grom en dan bel die meisie 5 blokke ver om te vra of ek haar broodjie wil deel!  So my kollegas was deeglik bewus van wat ek gedurende middagete moet doen.  Hulle was simpatiek, het mooi stilgebly en almal het vooraf probeer raad gee.

01:29 toe is my airtime op, reg in die middel van Christo se ‘gelukwensing’ sin.  Maar ek was verseker, en kon maar ‘n bietjie vinniger die middag huistoe ry.  Watwou, ek kon dalk selfs vir ‘n taxi toet!!

Selfvoldaan sit ek die foon neer, en ‘swing’ om met my stoel met ongeveer 8 kollegas en my baas wat met ‘n EN? op hulle gesigte sit en wag.  Ek glimlag, en sê:

“Nou is ek gedek!”
‘n Paar notas:
1) Ek is steeds by dieselfde versekerings maatskappy, ten spyte van hulle irriterende advertensies.
2) Ek werk lankal nie meer by die plek nie, maar dink steeds dit was die beste tye ooit.
3) Ek sal nooit ooit die gesigsuitdrukkings van my kollegas vergeet na die uitlating nie. Dit het gewissel van lag tot skok en verbasing. Een outjie het later erken hy het regtig gewonder hoe dit moontlik is… en dit oor ‘n foon tydens middagete.