clairvoyantEk voel dit.  Hier is iemand.  Iemand probeer kontak maak.  Iemand wie se naam begin met ‘n letter M.  Nie?  Wel, ons kan lank aangaan.  Daar is nog 25 letters oor, en iewers gaan een sin maak.  Of jy gaan dink hy maak sin…

Nou ek het nie DStv nie, so kan nou nie lekker saampraat nie, maar Marietta Theunissen is blykbaar die een wat die letters kan laat sin maak.  Blykbaar is die program se naam ‘Die Ander Kant’.  En blykbaar is die ‘ander kant’ partykeer sommer oor die treinspoor… Ja, daai tannies raak rof as sy nie vinnig genoeg met die broer se meisie se sussie se verloofde se oom (wat met ‘n letter M begin) kan kontak maak nie.

Aangesien ek nie ‘n ‘fan’ is nie, het ek nou nie juis ‘n opinie oor haar ‘vermoëns’ nie, maar nou die aand toe sit ons en gesels in ‘n restaurant, en (ek is nie seker hoe nie) twee verskillende gesprekke clash skielik en word een.  Die een gesprek het om een of ander rede vir Marietta ingesluit, en die ander ene het gehandel oor Masterchef, of eintlik die nuwe program wat glo binnekort begin (maar met dieselfde beginsel), Kokkedoor.

En dit sit my aan die dink (en aan die lag).  Julle almal het al iewers ‘n ou stukkie Masterchef gekyk, dit is briljant!  Nou stel jou gou voor hoe dit sal wees as antie Marietta ‘n beoordelaar of ‘n aanbieder van ‘n Afrikaanse Masterchef moes wees.

“Ja Jannie, en wat maak jy vir ons…. Of wag, ek voel dit…. Jy maak iets met ‘n C…. ja, dis defnitief Custard”

“Saartjie, ek sien jy het net twee eiertjies hierso, ek voel ‘n derde enetjie roep.  Dis reg ja, daar is nog enetjie in die yskas, hy wil hê jy moet weet… hy moet ook deel wees”

“Ou Gert, ek het bietjie kontak verloor met jou meringue.  Ja, nee hy is nou helemal weg, ek voel hom gladnie.”

As ek darem Jannie was, het ek so vinnig moontlik my resep verander, en ENIGIETS anders gemaak, netnie Custard nie!

Realiteits TV kan ‘n hele nuwe dimensie aanneem!  Stel jou voor,
Idols… Met Marietta,
Big Brother… Met Marietta,
Survivor… Met Marietta,
En gooi hom sommer lekker om en maak haar ‘n deelnemer! Sal sy elke reeks wen, of die eerste wees om te gaan?

So ‘n paar jaar terug kuier ons in Piketberg, en ons ry toe op met die berg om na al die vrugte plantasies daar bo te kyk.  Ek maak die opmerking dat dit interessant is dat jy op ry met die berg, maar gladnie aan die ander kant kan af nie.  Ewe droog kondig my jongste sussie aan dat ek maar vir Marietta Theunissen moet vra… sy sal weet hoe om aan die ander kant te kom!

En soos ek sê, jy kan haar glo of vir haar lag…. Maar hoeveel keer het sy al die Lotto gewen?