‘n Vegetariese Fout
Elke nou en dan kry ek ‘n gier om vir mense te laat kos aflewer. Dit is vir my baie meer prakties as blomme – en dit het al ‘n paar keer gebeur dat my ‘gut’ reg was, en hulle daardie dag vergeet het om kos in te pak.
Gister was so ‘n dag gewees.
Maar ek was nie heeltemal seker wat ek moes kry, en vir wie nie.. So toe speel ek so ‘n bietjie rond op UberEats om te kyk wat alles op special is, en of enigiets uitspring na my toe. Sien, gewoonlik sal iets my aandag trek, en dan dink ek aan ‘n persoon en weet ek dat ek dit vir hulle moet stuur.
Ek is toe besig om deur McDonalds se meals te kyk, die een so vervelig soos die ander. Toe sien ek die Veggie Burger Meal. Hy is nogals goedkoop, R31, dan kry jy darem chips en koeldrank by. Ek het nog nooit ‘n veggie burger by McDonalds gekoop nie, so loer toe sommer op die internet na hoe hy lyk en waaruit hy bestaan.
Ek sal jou die moeite spaar, dit is basies ‘n hashbrown op ‘n bun.
Die prentjie op UberEats lyk heel skaflik, maar iets anders vang my oog… as jy click op Burger Only, dan trek hy amper R28 van die meal af!!
Wat dus beteken dat die burger alleen ‘n skamele R3.30 kos!
Nou kyk, ek koop al lank genoeg my eie kos om te weet dat dit ‘n terrible fout is, en nie net ‘n bargain nie. Mens kan nie eers ‘n gewone, dagoud rolletjie koop by Spar vir daai prys nie. En ek weet ook vir ‘n feit dat die Veggie Burger waarskynlik nooit bestel word nie en soos die Fillet o Fish Burger net gaan verdwyn. Iewers sit ‘n outjie in ‘n agter kamertjie by McDonalds, hard aan die werk met sy voorlegging om die Veggie Burger te laat dood.
Ek besluit toe om die ‘glitch’ te toets, en bestel 10 burgers. McDonalds Brackenfell aanvaar die bestelling, en begin werk. Ek sien na ‘n rukkie die Uber mannetjie het sy kar gestop daar, en toe ewe skielik toe ry hy sommer ‘n heel ander rigting, om 10 minute later terug te kom. (hy het my na die tyd vertel, hulle het vir hom gesê omdat niemand ooit veggie burgers bestel nie, moes hulle alles vars maak!)
En wragtag, hier word 10 Veggie Burgers afgelewer! Uber mannetjie moes fisies in my plek inkom, want die sakke was te veel. En genuine, dit was gladnie ‘n slegte burger nie! As ek vegetarian was, dan sou ek nie te erg gekla het oor ek dit moet eet as die gesin McDonalds bestel nie. En hy is so vullend, dit is ‘n heel decent ete!
‘n Paar van my vriende en familie het ingespring en ook bestel. Gesamentlik dink ek McDonalds in die Bellville/Durbanville/Brackenfell omgewing het gisteraand in ‘n uur omtrent 100 van hulle Veggie Burgers verkoop. Teen R3.30. Meeste van die burgers is na nagskuilings en haweloses geneem – persoonlik dink ek dit is amazing dat ‘n fout op daai manier ‘uitgebuit’ kan word.
En toe kom McDonalds of UberEats agter dat hier iets GROOT fout is. Mense bestel ewe skielik hierdie totaal ongewilde dis in veelvoude van 10. Ek wonder heimlik hoeveel takke moes gaan diep grawe in hulle vrieskaste om daai verlore patties te kry.
Ek kan die gesprek amper hoor:
Bestuurder: John, gaan haal 20 Veggie Burger patties uit die deep freeze
John: Ekskuus, 20 sê jy?
Bestuurder: Ja, 20. Een of ander persoon op UberEats hou seker ‘n partytjie vir vegetarians.
John: Ek het nie eers geweet ons het ‘n Veggie Burger op die menu nie!
En ingeval jy gewonder het, die prys is nou weer terug na ‘normaal’ – R31 vir ‘n Veggie Burger Only.
En daai is vir my ‘n bietjie buitensporig…. Dis dan net veggies!!