Party mense staan op en drink ‘n double espresso eerste ding. Ander weer ‘n groot glas water.

Wel, nie ek nie!!

Ek kies die opsie wat jou onmiddellik wakker maak – maar jy bevind jouself dalk net baie vinniger as beplan in die hiernamaals.

Een goeie Vrydagoggend word ek soos gewoonlik 5 am wakker.

Maar hierdie oggend is daar iets anders… my keel het ‘n krapperigheid in. Ek blameer dit op die feit dat ek die vorige aand so pootuit was, ek het met nat hare gaan slaap, en met my air purifier is daar hierdie briesie.

Anyway… ek staan op, en vir ‘n oomblik wonder ek wat nou die beste sal werk. ‘n Koppie tee met heuning, of ‘n sluk van die hoesstroop wat ek vir ‘n noodgeval aanhou.

Dis vrek koud, en my lyf sê vir my dat die medisyne vinniger gaan wees. Ek wil nie sommer net van die werk wegbly nie, so hierdie behoort vinnig te werk.

Ek loop baie vinnig na my spaarkamer – daar is oop rakke en laaie, so ek het gedink dit is ‘n goeie plek om my medisyne te bêre. Nie dat ek baie het nie.

Ek trek die laai oop, vat die botteltjie, en omdat dit net ek is wat hier bly, vat ek ‘n lekker groot sluk sommer uit die botteltjie uit.

Dit is toe hierdie massiewe groot sluk reeds in my mond is dat ek besef dit is nie Vicks ActaPlus nie…

O nee, hierdie, my liewe mens, is surgical spirits….

Ek het dit so vinnig uitgespoeg, ek weet nie eers waar dit geland het nie. En weens die verskriklike hoë alkoholpersentasie het dit waarskynlik verdamp voordat dit ‘n oppervlak getref het!

Gelukkig het my brein nie uitgeclutch in hierdie situasie nie, en ek het dadelik badkamer toe gehardloop, my mond uitgespoel, gegorrel en sommer my gesig ook gewas. Natuurlik het ek eers halfpad agtergekom dat ek die stupid warmwaterkraan oopgedraai het!

En toe, ná ‘n glas melk, het ek okay gevoel.

Ek is werk toe. En ek was okay. My bestuurder wou my wel laat blaas – daar is, after all, zero tolerance vir dronk wees op die job by my werk….

Die krapperigheid is heeltemal weg. Dink die moontlike verkoue het so geskrik, hy het besluit hy bly nie hier nie.

Maar my stem klink wel ‘n bietjie snaaks.

So half sexy.

En as ek burp, dan proe ek hospitaalvloer….