Soos jy teen die tyd al weet woon ek in ‘n kompleks.  Ons is baie mense, en kom oor die algemeen goed oor die weg.  Daar is min probleme, en as daar iets opduik, dan word dit sommer baie vinnig uitgesort.  Daar is die gewone klanke van tieners wat staan en gesels, kleintjies op skopfietsies en partykeer ‘n kar wat so bietjie sukkel om aan die gang te kom.  Goeie geluide noem ek dit, dit kon immers baie anders gewees het!

Vanoggend, skuins na 4am word ek wakker van ‘n haan wat kraai.  Dit is nie my keuse van ‘n wekker nie, maar my eerste gedagte is dat dit lekker is om op ‘n plaas te bly en so wakker te word.  Na ‘n paar sekondes besef ek egter dat ek nie op ‘n plaas bly nie, maar inderdaad in ‘n concrete jungle.

Ek kry ‘n minuut later ‘n whatsapp van my buurvrou oorkant die straat, “waar’s die hoender?” wil sy weet.  Nou aangesien ons ‘n “geen diere” kompleks is, neem ons toe aan dat dit iemand se wekker is.  Dit hou egter nie op nie, en ons bespreek verder dat dit dalk iemand is wat vroeg moes loop, en vergeet het om die wekker af te sit.

Soos klokslag elke halfuur gaan hierdie ‘wekker’ af. En hou dan vir ‘n hele paar minute aan.  Die volume van die wekker pla, vir buurvrou ook, en al wat ons kan dink is dat dit ‘n hardhorende persoon se wekker is. 

Moeg staan ek toe maar later op, trek aan en gaan werk toe.  Ek laat weet vir buurvrou dat sy asb wanneer dit lig is net moet gaan kyk of sy nie dalk sien by watter eenheid hierdie wekker is nie, want dalk moet ons kyk of ons die eienaars in die hande kan kry.  G’n mens kan so slaap nie, en as dit nog vanaand so gaan raas gaan ek terugtrek na my ma’le toe!

Dit is ‘n paar minute later wat sy my hierdie clip stuur…

Jip, twee lewendige hane, agter in ‘n bakkie.

Afrika was vanoggend lekker die hoenders in!