Nie ‘n ‘fan’ nie….
My arme ou karretjie. Hy kry vreeslik koud. Veral in die oggende as ek werk toe moet ry, dan skree hy verwoed. Ek maak waarskynlik die hele kompleks wakker as ek wegtrek, maar ek troos my daaraan dat ek darem nie die enigste een is nie, en meeste mense is gelukkig dan al wakker.
Ek hoor toe dat dit blykbaar die fan belt is. Hy is te los, of te styf, ek is regtig nie seker nie. Hy skree nooit in die somer nie, so iets sê vir my dat hy dalk netnie ‘n winter kar is nie. Want as hy te los (of styf) is, dan moet hy mos altyd skree. Ek het ook onlangs my kar laat diens, en deel van die diens was om die cam-belt te vervang. Moes toe eers na die tyd hoor daar is meer as een belt in die kar…
En net op ‘n ander noot, maar met die pas afgelope diens moes my karretjie oornag, want dit is blykbaar ‘n 2 dag diens. Hoe op aarde hulle twee dae kan spandeer aan so ‘n klein karretjie maak net nie sin nie. Ek is seker ‘n goeie ingenieur kan so ‘n karretjie bou, van scratch af in twee dae. Anyway…
So ek werk in ‘n taamlike ‘male dominant’ omgewing, en dog toe dan sal ek nou maar rondvra oor die klaagliedere van die fanbelt en hoe om dit stil te kry.
So kry ek toe die raad dat ek ‘n klein bietjie heuning op die fanbelt moet smeer en kyk of dit nie werk nie. Vir my maak dit baie sin, en taamlik in my skik oor hierdie raad wat my niks gaan kos nie ry ek die aand huistoe.
Dit werk toe nou ook mooi so uit dat ek ‘n hele emmer heuning in my kas het, en gewapen met die emmer stap ek gou na my kar toe voor dit donker raak. Ek maak die enjinkap oop, clip hom vas en…
Toe staan ek vir ‘n volle tien minute en staar na my enjin. Want ek het nog nooit gesien hoe ‘n fanbelt lyk nie. En dit sal nie help om vir my te sê dit is die swart ding nie. Alles is swart. Alles lyk min of meer dieselfde. Ek kan die battery identifiseer weens menigte ‘ligte aan vergeet’ episodes. En dit is dit!
Nou mag jy dalk wonder hoekom ek so lank bly staan het as ek duidelik nie weet waar die fanbelt is nie. Wel, ek bly in ‘n kompleks. Ek het met ‘n hele emmer heuning afgestap na my kar en vol bravade die enjinkap oopgemaak. Ek het gelyk of ek weet wat ek doen. Hoe kan ek nou sommer net opgee! Die vernedering!
So ja, die volgende oggend toe skree die fanbelt nogsteeds, big surprise!
Ek het omtrent ‘n week later toe nou maar vir my pa gevra om te wys waar die fanbelt sit, en gelukkig het hy heuning gehad so het toe opgesit. En dit werk genuine! Die skree is stil.
So nou en dan verbeel ek my dat ek ‘n ‘bzzz’ klank hoor, maar ek is seker dit is net my verbeelding!