‘n Date met ‘n click

As ek nou ‘internet dating’ gaan noem op die naam, gaan almal se eerste reaksie heel moontlik wees ‘ek sal dit nooit doen nie’.  Die realiteit is egter dat jy heel moontlik lieg.  Ja, want iewers gaan jy wonder, en iewers gaan jy dit probeer.  En daar is niks fout mee nie.  Maar wees gewaarsku.  Die wêreld is vol freaks.

So paar jaar terug probeer ek dit toe ook.

Nou moet ek ook eers noem dat my doel nooit was om my trouman op die internet te kry, soos jy ‘n boek of cd kry nie.  Ek wou my horisonne verbreed en nuwe mense ontmoet.  So ek registreer toe op ‘n gerespekteerde site, laai ‘n dowwe foto op en vul die lang lys vrae in, van jou haarkleur tot jou gunsteling boomsoort.  Alles natuurlik noodsaaklike inligting as jy die ‘regte’ persoon wil ontmoet.

En die boodskappe begin instroom.  Ek voel geweldig gewild, maar besef ook gou dat ‘n hele klomp van die mans gladnie kan lees nie en helemal desperaat is.  Dude, as jou foto wys jy’t ‘n bierpens, 4 kenne en geen nek, dan is ‘lank en atleties’ nie die regte beskrywing nie.

Maar so raak ek aan die gesels met ‘n aangename jongman.  Hy is van Saldanha, werk daar by die staal plek.  Hy stel voor ons ontmoet vir koffie in Tygervallei.  Amper 150km ry hy, om saam met my koffie te kom drink.  Net jammer dat hy pas van twee 24 uur skofte afgekom het by die werk, en is toe so moeg, hy raak aan die slaap by M&B se tafeltjie.  Ek het my koffie klaargemaak, die rekening betaal, en hom toe maar gelos om te slaap.  Hy het darem later verskoning gemaak, maar het seker ook besef dat die Kaap ‘n bietjie vêr is vir ‘n koffie.

Kandidaat nommer 2 was so ‘n model tipe.  En genuine, sy fotos het nie gejok nie.  Ons spreek af dat ons sal ontmoet vir ‘n drankie na werk.  Van 3 uur die middag af begin my foon elke halfuur lui.  Dit is hy wat wil seker maak ek gaan hom nie drop nie.  Terwyl ek ry na die restaurant, 10 minute weg, bel hy steeds.  Pleks ek kanselleer het.  Want draai toe uit dat die meneer een van daai is waar drank in elke storie wat hy vertel MOET feature.  Hy en sy vriende het gisteraand ‘n show gaan kyk, en hulle raak toe so getrek.  Hy en ‘n vriendin het eergister gaan uiteet, en hulle raak toe so getrek.  Hy en sy ouers het verlede week gaan ontbyt eet, en… jy kry die idee?

Na kandidaat nommer 3 het ek my profile gaan delete.  En shame, hy was eintlik nogals nice gewees.  Behalwe… elke keer as hy met my gepraat het, het dit geklink of hy 3 megafone gebruik.  Dit was soos skole atletiek.  Mense wat 3 woonbuurte weg bly kon hoor hoe sy dag op kantoor was.  En… hy sou my bankrot gemaak het, soos hy eet.  Ons het een aand gaan uiteet.  Groot borde bestel, met slaai en onion rings on the side.  Dink hy’t ‘n t-bone, ekstra groot gehad.  Met chips.  En soos die gewoonte is het die waitress ons borde kom haal, en gevra of ons nog iets wil hê.  Waarop hy toe antwoord… ‘ja asseblief, ‘n calamari en chips’.  Jy kon aan haar gesig sien sy het gedink hy maak ‘n grap!  Toe nie…  Ek nooi hom toe mos oor vir ete een aand, en maak my heerlike lasagne.  Genoeg vir 6 mense, met die idee dat ek darem nog vir ‘n dag of 2 ‘n porsie kan saamvat werk toe.  Toe nie…

Sal ek die internet dating ding weer probeer?  Nie sommer nie.  Want my gunsteling boomsoort en haarkleur het niks met niemand te doen nie!

Uit respek word geen name in hierdie stuk genoem nie.

Die Ooswoud… ‘n storie van oudword, kots en ‘n taai toilet

Ek het nog altyd gewonder hoe jy weet wanneer jy nou oud is.  Daar is tog nêrens ‘n defnitiewe ouderdom opgeteken waar jy ‘n “Ek is oud” sertifikaat kry by ‘n vervelige funksie, met mense in crimplene rokke, en waar alles ruik na Vicks nie.

Nou die aand het ek egter gevrees ek is nou oud.

Na ‘n heerlike kuier in ‘n ordentlike, skoon plek, met lekker kos en ‘n paar nice drankies, word daar besluit om na ‘n ‘young, hip & happening’ plek toe te gaan.  Met die aankoms besef ek dat die plek duidelik BAIE gewild is, want daar is nie ‘n enkele parkeerplek oop nie, en die ouens met groter wiele staan al op die sypaadjies.  Ek beland in ‘n dodgy stegie met Standard Bank se logo my enigste lig.

Ek stap deur massas mense buite, almal doof.

Hoekom uitgaanplekke ook altyd op die boonste vloer van ‘n gebou moet wees weet ek nie.  Ek wonder partykeer hoeveel mense al by daai trappe afgeneuk het.  Miskien sal ‘n tipe van slide beter werk.  Eeuw…

Binne in die plek is dit nie veel beter nie.  Ek loop na waar ek die toilette sou geplaas het indien ek die plek moes bou, en word oorweldig deur ‘n massa van warm lyf walms.  Waar die toilette moes wees is ‘n kroegtoonbank, en zombies hang daar uit!  Genuine!!  Hulle doen niks, want daar is nie spasie nie.  Hulle sê niks, want die musiek is te hard.  Hulle is net besig om heeltyd te fotosinteer… of whatever dit is wat daardie muwwe, warm gas afgee.

Uiteindelik vind ek die toilet.  Daar is ‘n queue, maar dis niks snaaks nie, vroue toilette word gebou met ‘n queue.  Voor my staan ‘n girl met ‘n rooi check hemp, en ‘n dik ketting wat by haar jean afhang.  Ek sê nie boo of ba nie, netnou moer sy my.  Agter my val ‘n blonde, skewe poppie in.  Dankie tog daar is ‘n handdoek reling waaraan sy kan vashou!

Dis uiteindelik my beurt, en ‘n deur gaan oop.  ‘n Meisie met die gawe om op daardie oomblik te kan dubbeld sien val uit.  Ja, val.  Ek sou haar opgehelp het, maar almal weet tog ek het ‘n knie operasie gehad.

En sy stink.  Erg.

Dis eers in die toilet wat ek agterkom ek kan myself vermom as ‘n hovercraft.  Sonder moeite 2cm bo die sitplek.  En my knie is gladnie so bad nie!

Buite die toilet maak ek myself so klein as moontlik, en loop met ‘n draai om al die mense, uit vrees dat iemand, iewers op my gaan kots.

Ek gaan staan langs ‘n Savanna uitstalling en wag vir my mede jongmense.  Skuins voor my is ‘n ou besig om ‘n storie vir ‘n meisie te vertel.  Sy lyk super geinteresseerd, en lag by tye uitbundig.  Dis my eerste kennismaking met psychics!  Ek kan dan nie eers my eie hoes hoor in die rookgevulde plek nie.

Die volgende oomblik flits ‘n aantreklike ou in ‘n pastelgroen truitjie verby my.  Hy loop met selfvertroue, en regop, en ek wil net my vertroue in die jeug terugkry, toe hy volspoed binne in die venster langs my vasloop.  Dit wys jou, looks is nie alles nie.

Ek het ‘n paar minute later maar die pad gevat.  Terwyl ek by die huis staan en my klere uithang om van die rook ontslae te raak wonder ek wanneer het ek oud geword?  Ek is nie moeg nie?  En skielik besef ek.  Dit het niks te doen met ouderdom nie.  Ek is miskien net bietjie beter gewoond as klewerige vloere, vuil toilette en skewe mense.

Deure, Slotte en Sleutels

Ek het onlangs besef dat ek ‘n bietjie ongelukkig is wanneer dit by deure en sleutels kom. En dis ook gladnie wat jy dink nie.  Ek loop nie in deure vas nie, en ek verloor ook nie my sleutels nie.  Ek sluit deure wanneer ek nie moet nie, ek los hulle oop wanneer hulle regtig gesluit moet wees en ek het al selfs my sleutels in die kar gelos.

Ek moes seker net lankal al in ‘n grot gaan bly het, en met ‘n fiets begin ry het.

Daar was ‘n tyd wat ek my veiligheidshek gesluit het, maar nie my voordeur nie.  Moenie eers vra nie, ek wetie hoekom nie.  Maar ek het die sleutel in die deur gelos aan die binnekant.  Van my vriende het dit agtergekom, en ek het wakker geword van ‘n geraas een nag, en toe ek ondersoek instel kom ek af op besoekers, alreeds besig om koffie te maak!

Na ‘n troue een Saterdagoggend, het ek en my ‘date’ na my woonstel gegaan om verder bietjie te kuier en dalk te braai.  Ek wou egter ander klere aantrek, en gaan doen toe so in my kamer.  En sluit die deur (wetie hoekom nie, want hy sou nie ingekom het nie).  En daar besef ek dat ek nie die deur weer kan oopkry nie!  Op die ou end moes ek die sleutel deur ‘n venster vir hom aangee om vir my van die ander kant af te kom oopsluit.

Ek het ook al my kokketiel van jare terug in ‘n kamer toegesluit, per ongeluk.  Op ‘n Saterdag.  En toe kan ek nie wag vir Maandag dat ‘n sleutelman uitkom nie, dit sou diere mishandeling wees.  So toe skop ons maar die deur oop.  En glo my, dit is gladnie so maklik of netjies soos in die flieks nie!

My grootste verleentheid was seker kort nadat ek begin werk het hier by Mfesane.  My baas, die finansiele bestuurder neem my Vredenburg toe sodat ek die mense daar kan ontmoet, en ook sodat ons ‘n voorraadopname kan doen.  Na middagete roep moeder natuur, en ek gaan toilet toe.  En toe ek weer wil uitkom, kry ek nie die deur oop nie!  Paniek skop in, ek ken nog skaars die mense se name, so wie roep ek nou, en hoe!!  Dis toe wat ek my foon in my sak voel!  En na ek ‘n paar keer weer probeer het om die deur oop te kry, sluk ek my trots, en bel my baas… om my uit die toilet te kom red!!

Dit het na die tyd aan die lig gekom dat daar werklik fout is met daardie deur, en daar is ‘n sekere tegniek aan sy oopmaak.

Ek dink dis iets waarmee ek moet vrede maak.  Ek gaan altyd iets sluit vir geen rede, en iets ooplos wat gesluit moet wees.  Dis maar net een van daai dinge.

Moet asseblief nie jou sleutels vir my gee om te hou nie…

Klokke, sneeu en ‘n rendier

‘n Paar weke terug stap ek met ‘n rock song in my hart by ‘n winkelsentrum in.  Ek is in ‘n taamlike goeie bui, want ek het uiteindelik tyd om my remote batterye te vervang na ‘n hele winter van venster oopdraai om die kodes in te druk by die hek.  Die volgende oomblik word ek egter kwaai ontnugter.

Want sien, reg voor my hang ‘n rendier.  En asof dit in Suid Afrika nie al klaar ‘n ongewone gesig is nie, is hierdie outjie oortrek van die bling, hy sal enige gangster laat sleg lyk!  Ek staan verstom en staar na die kersvaders, bokke en klokke wat orals hang.  Party winkels het al hulle vensters begin spuit met daai fake sneeu, en orals is uitverkopings vir “die feestyd”.

Wanneer het die jaar tot ‘n einde gekom?  Het ek alweer my voorneme om vroeg geskenke te koop verbreek?  Gaan daar nog enigiets oor wees in die winkels?  Koorsagtig gryp ek ‘n trollie en besef eers ‘n ent weg dat daar items in die trollie is.  Ek het wragtag iemand anders se trollie gevat!

Na ek verskoning gemaak het  doen ek vinnig my inkopies, met Boney M wat orals speel.  En ek wonder of iemand ooit ‘n cd sal uitbring wat so baie gespeel sal word.  Elke jaar is die Christmas Album op special by elke Musica, Look & Listen en Game.

Hulle sing van wit sneeu en ‘n fiktiewe karakter wat met ‘n rendier met ‘n rooi neus geskenke aflewer.  En alles op die maat van vrolike klokkies.  Wat van sonskyn en braaivleis en familie?

En flip, as dit nou al Kersfees is sal ek moet spring, ek het nog een of 2 voornemens wat ek moet afhandel.  Ek kan nie glo die tyd het so gevlieg nie.

En toe besef ek, dit is begin Oktober.