Die dag toe my water gebreek het
Julle… hierdie hitte is nie goed vir my gestel nie. Ek vermy die studeerkamer by die huis soos ‘n pes… dit is immers waar my oefenfiets staan. Ek het ‘n week laas my bed opgemaak… want dis nie nodig as jy bo-op die komberse slaap nie. En die enkele plant in my besit (al vandat ek 13 jaar oud is) kry elke dag ‘n beroerte en dit vat mooi praat en baie water om hom aan die gang te hou.
Ek verkies om in my kamer te bly, waar daar aircon is en die mure ‘n koel blou geverf is. Dis goed vir die siel en ek sit ook nie aan alles vas nie.
Daar kom egter daardie tye wat jy noodgedwonge die koelte moet agterlaat en die hitte aandurf vir noodsaaklikhede… jy weet… soos toiletpapier. Dis gewoonlik dan wat ek winkels kies waar ek weet voldoende aircon is sodat ek die blootstelling aan die hel so kort as moontlik kan hou.
Die naweek toe is die winkel wat ek toe kies se aircon gebreek. Of een van daai koulike mensies was in beheer van die knoppie en het dit toe op heating gaan sit… terwyl dit 42 grade buite is… in die koelte.
Maar ek het die goed nodig, het al die pad gery so druk toe maar deur.
Ek soek ‘n paar goed, onder andere die bestanddele vir jalapeno poppers wat ek by vriende geproe het en wat ongelooflik lekker is! Een van die bestanddele is Danish Feta, die parmesan geur. En ek is taamlik beindruk toe ek dit wel kry! Ek kan ook bysê, ek haat ‘n trollie, so ek vat altyd daai goed met die mandjies.
Nou kyk, die oomblik toe ek by daai winkel ingestap het, toe het ek besef dat ek hier met ‘n plan moet shop. Ek kan nie my koue goed eerste inlaai nie, dié moet vir so lank as moontlik in die veiligheid van hulle koelkaste bewaar word. Ek begin dus toe aan die anderkant van die winkel, en loop soos wat dit vir my voel heeltyd stroomop teen die massas wat blykbaar gevoelloos is teen die hitte, hulle trollies vol koue goed.
Twintig minute, toe is ek klaar, en gaan staan in een van die lang rye. Almal het seker maar gehoop vir ‘n koel winkel, maar nou lyk hulle net bedonnerd.
Die volgende oomblik hoor ek ‘n pop-geluid… en skielik is my voete nat.
Die gedagtes wat deur my kop flits wissel van ‘hoe het ek nie geweet ek verwag ‘n baba nie’ tot ‘nie hier in die winkel nie’. Ek kyk verward na die persoon voor my in die ry… maar dis ‘n jongerige ou wat lyk of hy nognie wakker is nie. Ek vlieg om, net om in die gesig van ‘n taamlike bejaarde dame vas te kyk. My verwarring het nie einde nie.
Dis eers toe ek die logiese doen, en afkyk na my mandjie-trollie dat ek besef wat gebeur het. Die bietjie hitte waaraan ek my Danish Feta, parmesan geur blootgestel het, het hom laat besluit tot hier toe en nie verder nie, hy pop.
So as jy ooit in ‘n winkel staan by die 5de till punt rond, en jy kry so ‘n parmesan geurtjie, veral op ‘n warm dag, dink tog aan my. En as jy wonder wat die regte noodprosedure is om te volg sou jou parmesan gegeurde Danish Feta ooit pop… die antwoord is dat ek nie weet nie. Maar wees verseker dat jy al my simpatie het!
Kostelik soos altyd!
Uitstekend, Adéle!
Love dit ! ..veral die reaksie by die Tills. – plein bedonderd. niks oorgebly van die O maar dit is heerlik koel hierbinne nie… en Natuulik die Titel,..