As die gewones bunk…
Op skool het jy baie “groepe” gekry. Daar was die cool ouens, of altans, hulle het so gedink. Daar was die kunstiges, wat uiting aan hulle art gegee het in meer as net die doeke in die kunsklas. Daar was musiek ouens wat klaviere en fluite kon laat sing, en daar was die slimmes vir wie 100% netnie genoeg was nie. En dan was daar die gewones.
Die gewones is omtrent 80% van die klas. Dis die ouens wat se punte wissel van druip tot net-net nie die top 10 gehaal nie. Dis die ouens wat een winter en een somer sport gekies het, en getrou al die oefeninge bywoon, en al die wedstryde speel, al is dit vir die E span. Die gewones glo ook in balans, en neem gewoonlik ook aan een kulturele iets deel, soos koor of orkes.
Ek was ‘n gewone.
En ek kla nie! Ek is baie happy met waar ek op die oomblik is!
Gewones doen egter nie gewoonlik goed soos bunk en skelm rook/drink nie. Ok, hokaai, ek het dit nie gedoen nie! Sien, gewones is gewoonlik slimmer as wat mense dink, en hulle kan mooi sien wat die gevolge van enige optrede gaan wees.
Maar ek het eenkeer probeer bunk…
As jy in matriek is, dan is die laaste paar skooldae maar taamlik boring. Jy’t al die werk vir die jaar afgehandel, en nou is dit net wag tot daai laaste saalbyeenkoms, dan eksamen, en dan is jy klaar! Ek noem dit vir my ma, en sy is dit eens dat mens eerder by die huis kan leer as om heeldag in leë klasse te sit en gesels. Ons spreek af dat sy vir my en ‘n vriendin of twee teen 11 uur sal kom oplaai. Ons wil net Skeinat bywoon, want ons het nog ‘n vraag of twee.
So sit ons die oggend in die Skeinat klas en werk vir oulaas deur ‘n ou vraestel. Toe die klok lui keer ons net gou die onderwyseres (daai tyd nog die onderhoof, deesdae die hoof!) voor, en vra ons vraag.
En toe probeer ons so normaal as moontlik by die skoolhek uitstap. Ons is immers gewones, en hulle weet nie hoe om met styl te bunk nie.
Deur die hek kon ek al my ma se wit kombi sien wag, maar ons is versigtig om nie te hardloop nie!
En skielik, 10 tree van die hek af, hier agter ons hoor ons die onderwyseres se stem. “Skuus julle!” Ons draai skrikkerig om, nie helemal seker hoe jy moet reageer as jy uitgevang word nie. “Ek het nou net besef, daai deel mag heel moontlik in die vraestel wees, so gaan kyk net mooi”.
Verward staan ons. ‘n Dankie kom uit, maar wat nou. En toe gee sy ons ‘n glimlag wat sê sy weet presies wat ons nou gaan doen, knik, en draai weer terug om in die gebou in te verdwyn. Ons het ‘n paar sekondes gevat om net weer die gevoel in ons bene terug te kry, en toe laat waai ons.
Miskien het sy ons herken as gewones, en miskien het sy geweet ons weet nie hoe om te bunk nie. Miskien is om ‘n gewone te wees nie so sleg nie. En miskien was dit hoe sy ‘n gewone help.
Flip, lekker lag ek nou! Moet sê, ek sal jou ook nie kan voorstel om te bunk nie!
Hey Della,
Nee vriendin was nie ek wat saam gebunk het nie. Ek was nie mal genoeg om Skeinat te neem in matriek nie…hehehe…Lekker lag ekke nou!!
Hehe! Jy vertel die storie so goed! Lekker gelag!