Hoekom ek dit gedoen het, sal ek nooit weet nie. Daar is ‘n Spar en ‘n Supermark binne loopafstand van my af, en twee Pick ‘n Pay’s en ‘n massiewe Checkers, nognie eers twee kilometer ver nie. En dit is ook nie asof daar 10 mense bly in my woonstel nie, dis net ek. En ek het ‘n kar.

Maar dit lyk baie lekker, ek hou van die internet, en so besluit ek om my kruideniersware oor die internet te bestel, en te laat aflewer. Home Shopping van Pick ‘n Pay.

Dis so gerieflik, jy click net heeltyd, kan selfs kies hoeveel kilogram kaas jy wil hê, en of jy plastieksakkies wil hê of kratte! Niks rondsoek tussen rakke nie, en alles is beskikbaar! Daar is nie kinders wat moan nie, en niemand ry in jou vas met ‘n trollie nie. Nice!

So betaal ek, en gaan met ‘n lied in my hart werk toe (ry nogals verby die Pick ‘n Pay en Checkers) en sien nogals uit na die gerief wat op my wag. Kom die aand by die huis, en voel skoon snaaks terwyl ek staan en wag. Miskien was dit nie so ‘n goeie idee nie, is mos lekker om ‘n ding te sien voor jy hom koop, en wat as hulle nie die regte peanut butter bring nie, of die verkeerde soort koffie.

En die volgende oomblik WEET ek dit was ‘n fout!

Ek word semi verblind deur die son wat weerkaats vanaf ‘n reusagtige wit afleweringsvoertuig wat stadig inbeweeg in ons kompleks, en in die proses feitlik alle parkeerplekke blok, die laaste bietjie son afkeer en enige inkomende en uitgaande verkeer tot stilstand bring! Baie duidelik adverteer die trok presies van watse winkel hy is, en ook wat hy hier kom doen, net sodat daar geen onduidelikheid is nie! Hoekom het hulle nie net reguit daar gesit “ADELE IS LUI, DAAROM LEWER ONS AF” nie?

Nou blykbaar kan jy ‘n trok bestuur, maar jy hoef nie noodwendig te kan lees nie. Want alhoewel daar ‘n pragtige nommer op my deur staan, begin die manne in die trok my roep! En ek waai my arms af, maar dit blyk toe daar is nog fout met hulle sig ook! Want ALMAL in die kompleks sien my, maar hulle kry my nie!

Uiteindelik nadat helfte van die kompleks my naam leer ken het, stop die manne met die trok en begin my patetiese bondeltjie uitdra. Want wat vir my soos baie gevoel het, is toe eintlik gladnie so baie nie. En niks is in sakkies verpak nie! Met die gevolg dat my maand se inkopies ten aanskoue van die hele kompleks (wat by vensters uithang of grootoog verby stap) eers uitgestal, en toe met groot fanfare by die trappe opgedra word.

Ek het die manne nie eers ‘n glasie water aangebied nie, en kon dit nie regkry om ‘n vriendelike gesig op te sit nie. Het ook nie getip nie, en gladnie reageer op die “rate our service” epos nie. Hulle moes gewonder het oor hierdie snaakse vrou wat absoluut niks makeer nie, maar wat haar groceries laat aflewer.

Agter ‘n toe deur, en met ‘n rooi gesig het ek die paar goedjies weggepak. Ek het nie weer so ‘n stunt probeer nie. Net soos mense in glashuise nie klipgooi nie, koop mense in woonstelblokke nie hulle inkopies online nie…