En jou hemel?

‘n Ruk terug sit en wag ek by ‘n garage dat hulle klaarmaak met my kar. Tydskrifte by die plekke is gewoonlik jare oud, so ek sit en kyk toe maar mense. Daar is heelwat ouens in blou overalls wat aan karre werk, maar een man vang my oog. Hy was pas klaar met die kar voor hom, en het met sy hande op sy heupe ‘n entjie terug gestaan om sy werk te aanskou. En sy oë het geblink, en hy het breed geglimlag. Jy kon sommer sien hy is mal oor sy werk, en verskriklik trots op wat hy doen. Niemand het enige ophef daaroor gemaak nie, maar hy was in sy eie hemel.

Een Saterdag glip ek gou vinnig by die winkels in, en na ek al my goedjies gekry het, gaan sit ek gou by die Wimpy vir ‘n koffie. By die tafeltjie langs my sit ‘n vrou met haar bejaarde man. Die ou tannie lyk opgewonde, en toe hulle die bordjie warm chips voor haar neersit gryp sy onmiddellik ene en druk dit in haar mond. Die ogies gaan toe, en sy maak sulke mmm mmm klankies. Vergete is almal rondom haar, want sy is in haar eie hemel.

Ek neem eendag ‘n kleintjie uit op ‘n droom, en weet sy wil vreeslik graag die see sien. In haar kort lewetjie is sy al deur soveel pyn, so dat sy nie sommer meer glimlag nie. Na ‘n verskeidenheid van aktiwiteite, neem ek haar toe na die strand toe. En toe sy haar voete vir die eerste keer in die water sit, kry sy so ‘n groot glimlag op haar gesig dat ek moet hard sluk aan die knop in my keel. Sy gooi haar kop agteroor, en lag uitbundig. Sy het haar hemel gevind. Nou wonder ek. Het jy al jou hemel gevind?