Om te tel

Soos almal darem seker al teen die tyd weet, dis sensus tyd!  En al is jy dalk nognie getel nie, moes jy al die “gifappeltjies” met hulle bibs en sakke sien rondloop het.  Die buurt waar ek bly is so ‘n paar weke gelede al ingeval deur hulle toe die voorbereiding begin.

Ek stop een middag na werk by die huis, en sien die geel mannetjie op die trap van die oorkantste blok sit.  Hy lyk moedeloos.  Ek groet, en hy vra of ek in nommer 41 bly.  Toe ek ja sê is dit asof die donker wolk oor hom wegtrek, hy spring op,  en met ‘n groot glimlag vra hy “please can I come count you?”.  Wel… ok…

Nou die vorm is ‘n taamlike gedoente.  Of dalk lyk dit net so, omdat daar voorsiening gemaak word vir groot huishoudings. Darem nie te moeilik vir ‘n enkel persoon nie, en die outjie is so mooi getrain daarin, sy koffie was nognie koud genoeg vir drink toe hy klaar is nie.

Die vrae is almal taamlik standaard.  En het my nogals gelyk skuldig en dankbaar laat voel.  Ek meen, ek het heelwat meer as wat meeste mense het wat daai vorm invul.  Ek verstaan nie mooi hoekom hulle wil weet of jy ‘n yskas en dvd player het nie.  Dalk ‘n slim trick van yskas-telemarketers om te weet wie hulle kan target.

Ek wens egter julle kon die outjie (en ek sê outjie met alle respek, want hy’s maar 20) se gesig sien toe hy vra of ek enige livestock het, en ek hom vertel ek het ‘n koei in die studeerkamer.  Dankie tog hy gebruik ‘n potlood om die vorm in te vul!  Hy’t eers verbaas gelyk dat ‘n koei hier sal inpas, en toe skaam toe hy besef ek is op die boonste vloer…

Maar nou is ek ook getel.  My belasting is ook gedoen.  So vir ‘n rukkie is ek nou klaar met die regering.  Dis nou as hulle nie my yskas of dvd player wil nasionaliseer nie!

‘n Stabiele Toilet!

Dalk het jy die post gelees wat handel oor my toilet sitplek wat ek vas glo gejinx is.  Wel, vandag het ek besluit om hom te fix!  Ja, self!  Ek het Brights toe gegaan, en 2 wingnuts en 2 washers gaan koop.  Ok, ek het eers gevra vir die “draai-dingetjie en die ronde plaatjie”, maar die ouens het geweet waarvan ek praat.  Ek het ook geweet dis vir ‘n 8mm skroef, maar weerspreek my toe eers en vra ewe sedig vir ‘n “9-mil”.  Dit het die arme man so senuweeagtig gemaak, hy het die hele wingnut boksie laat val.

Anyway, om jou ‘n idee te gee, dit is wat gewoonlik gebeur het as iemand op die toilet gaan sit sonder om eers aandag te gee aan simetrie en balans.

 

Ek ruk toe daar my toolbox (ja ek het een!) uit, en besef toe nogals ewe slim dat ek nie die metaal teen die keramiek kan laat rus nie.  Daai ringetjies wat mens in CD/DVD spindles kry werk net so goed soos enige gekoopte ding!

En ewe skielik is my toilet ‘n veilige plek!

 

Dit gaan my ‘n rukkie vat voordat ek gewoond is aan die stilstaande sitplek.  En vir ‘n rukkie sal ek nog my sit “time” en my opstaan beplan.  Maar damn, ek is trots op die outjie!  En dit vir R4.25!!

‘n Lewensles in Voortrekkerweg

Onlangs loop ek daar in Voortrekkerweg in Parow af. En sommer voor jy nou allerhande woorde en beelde oproep kan ek darem net noem dat dit helder daglig was, in fact, dit was skuins na 12 gewees, en ek was oppad om vir ons middagete te gaan optel by my gunsteling restaurant.

Nou ek is welbekend met hierdie area, ek het immers vir 2 jaar hier gewerk en het die plek ook in die nag gesien, defnitief nie sy beter kant nie. Maar hierdie dag was dit meer van ‘n avontuur as ‘n gewone besoek.

Daar is nie parkeerplek nie, en die enigste moontlike gaatjie waar my klein karretjie dalk mag inpas word elke flippen keer as ek daar verbyry deur ‘n taxi toegestop. Ek stop dus toe amper by die hoërskool, nie ‘n probleem nie, die stappie kan my goed doen.

Na ek die karwag na die beste van my vermoë probeer vermy het, loop ek my vas in ‘n groep van 3 buitelanders. En ewe skielik word daar handdrukke uitgedeel, en hulle brabbel in ‘n snaakse taal. Dis eers toe ek verder stap, hoogs ontstig deur die skielike public display of friendship (wat is die teenoorgestelde van xenofobia?) dat ek agterkom ek het my Uganda sokkerhempie aan!

Op die volgende hoek is die slaghuis. En soos ‘n wafferse winkel in ‘n sentrum het hulle die dag ‘n “sidewalk sale”. Hope steaks en hoenderstukke en varkrib en wors lê op display vir almal wat verbystap.

Buite.

Op die sypaadjie.

Mense klim uit taxis om te koop, en klim weer terug met hulle sakke vol vleis.

Ek het uiteindelik my middagete gekry, en byna met my lewe daarvoor betaal toe ‘n motorfiets wat op die sybaadjie ry my amper omry. Maar dis met die terugstap tussen die vleis en taxis en geraas en wind dat ek die twee bergies sien. ‘n Kort mannetjie en ‘n nog korter enetjie.

Hulle is hewiglik aan die baklei oor iets. Die langer een van die twee lyk of hy ‘n verduideliking soek van die korter outjie. En hy het blykbaar iewers in sy lewe toegang tot ‘n tv gehad, want hy trek los met: “Speak now, or forever hold your peace!”

Die klein outjie lyk ietwat verskrik, maar ruk hom gou reg. “Nei, dan hou ek mar my peace, want djy lyk of djy my gat moer as ek my bek oopmaak”.

Wie’t nou gedink jy sal ‘n lewensles in Voortrekkerweg kry?

Die Reëls van Reis

Op Vliegtuie:

1)      As jy One Time of Kulula vlieg sal jou vliegtuig laat wees, altyd
2)      Jy sal op minstens 1 van jou vlugte tussen die laaste wenners van Big Girl/Guy land
3)      Vliegtuig kos word gemaak van rubber en plastiek (ek praat nie van die houers nie)
4)      Party vliëniers kan land, ander nie, wees gereed vir enigiets
5)      Jy mag nie op vliegtuie rook nie, tog is daar orals asbakkies, selfs in die badkamers
6)      Mense met klein kinders raak doof en blind as hulle op vliegtuie klim
7)      Moenie jou skoene uittrek op die vliegtuig as dit nie plakkies is nie
8)      Klim vroeg op, dan kan JY die armleunings annekseer
9)      Gebruik jou ipad vir boeklees en video kyk op die vlug, anders lyk jy na ‘n show-off
10)   Moenie vir rooiwyn vra as dit ‘n oggendvlug is nie, it is frowned upon

In Hotelle:

1)      Sê dankie vir die kos, al is dit nie lekker nie, jy kan nie die kombuis sien nie onthou
2)      Sweis jou bagasie aan jouself vas, anders gryp ‘n porter dit, en moet jy betaal
3)      Moenie te wilde arm bewegings maak voor ‘n hotel nie, dit roep net taxis
4)      Moenie jou bed self opmaak nie.  Dit vereis ‘n sekere tegniek, en confuse die mense
5)      Buite jou kamer is publieke domain, trek klere (nie ps) aan voor jy jou deur oopmaak
6)      Moenie aanneem iemand in die lift is van Amerika net omdat hy snaaks praat nie
7)      As ‘n sekere dis soos afval lyk, dan is dit tien teen een
8)      Dink aan jou kamervenster as ‘n muur in ‘n malaria gebied
9)      Vergeet TV.  In die tyd wat jy reis sal daar GEEN goeie programme wees nie, en jy sal die helfte van die kanale nie verstaan nie.  Gaan uit.
10)   Drank in hotelle is duur, gaan soek ‘n local uithangplek

Oor tradisies:

1)      Leer onmiddellik die plaaslike handdruk aan, en gebruik dit dan
2)      Glimlag vriendelik vir ‘n plaaslike inwoner.  Dit sal jou oor besige paaie kry.
3)      Moet NOOIT dink niemand verstaan nie Afrikaans nie
4)      Sê dankie, vir alles
5)      As iemand jou komplimenteer op jou “boots” en jy het nie boots aan nie, dan het jy verkeerd gehoor
6)      Moenie ons terme soos “lekker” en “now-now” gebruik nie, hulle verstaan nie
7)      As iemand “thank you” sê nadat jy ‘n vraag gevra het, dan het hulle nie ‘n clue wat jy nou net gesê het nie.  Herhaal
8)      Flieks in Afrika is agter die tyd, flieks in Amerika voor die tyd.  Moenie dit vir enigiemand spoil nie.
9)      Net oor hy ‘n polisie uniform dra beteken nie hy gaan jou help nie.  Sy job is om DAAR te staan, en nie HIER nie.
10)   Afrikaners groet vreemdelinge, Amerikaners groet nie eers bekendes nie

Wat ek geleer het is dat die mens aanpasbaar is.  Jy KAN ‘n uur en ‘n half in stilstaande verkeer oorleef.  Jy KAN vreemde kosse probeer en niks oorkom nie.  Jy SAL vêr kom met ‘n glimlag.  Jy is NOOIT beter as enigiemand nie.