‘n Liedjie vir die pad

Vanoggend was nogals ‘n woeste rit werk toe.  Ek het geweet ek moes nie daai 10 minute langer gelê het nie, maar na verdere oordenking dink ek dit was dalk met ‘n doel so, want ek het ‘n massiewe ongeluk gemis, presies op die plek waar ek daai oomblik sou wees.  Die ongeluk was so erg, ek het met ‘n detour deur Durbanville gery, want alle beskikbare paaie is beinvloed deur die ongeluk.  Hier is die link vir meer oor die ongeluk:

http://blog.er24.co.za/2011/06/two-die-in-head-on-collision-on-old-paarl-rd/

Maar wat my opgeval het is nie die ongeluk nie, maar mense in die verkeer se reaksies. Kyk, ons is almal in dieselfde situasie hier.  Ons het almal gedink ons gaan binne ‘n sekere tyd by die werk kom, en dan ‘n lekker koppie koffie drink.  Ek het defnitief nie beplan om 40 minute te vat om by my werk wat 5km weg is te kom nie!

Maar terwyl ek toe nou so besig is om ‘n detour te soek (het in Durbanville gaan draai) begin ek so die mense in die karre rondom my beloer.  En niemand glimlag nie! Almal is die hel in vir hierdie oponthoud, en druk sommer baie maklik ‘n toeter as die ou voor jou nie onmiddellik wegtrek as die lig groen raak nie.

Nou ek het 3 cd’s in my kar.  Nommer een is ‘n lekker mix wat ek vir myself geskryf het. Nommer twee is die Friends with Benefit cd.  En nommer drie is Jan de Wet en die Loflaaities.  Ja, dis reg, ek luister kinder gospel musiek, vir ‘n projekkie wat ek aanpak (meer daaroor op ‘n ander dag).

En toevallig is die Loflaaitie cd toe vanoggend in.  En ek sing te lustig saam!  My gunsteling is die Bybelboeke liedjie, ek kan die ou en die nuwe testament vir jou sing!!  Dis ‘n great cd!

Die volgende oomblik lê die ou so skuins agter my weer op sy toeter, want die ou voor hom hou nou ‘n volg afstand wat net te groot is.  Maar die ou in die voorste kar raak so kwaad, hy spring om, en wys die vieslikste tekens!  Die ou agter laat nie op om wag nie, en draai sy ruit af, en begin al die vloekwoorde wat hy ken uitbasuin.

Ek het my eers simpel geskrik, en toe begin my volgende liedjie speel.  En terwyl ek nogsteeds na die twee karre kyk, draai ek daai volume knoppie op hoog, en sing kliphard saam: “Dit borrel in my, want ek is so bly!”.  Ek draai sommer die vensters ook oop.  Die ou tannie aan regterkant knik haar kop, en prewel die woorde saam.

Verbaas kyk die ou in die voorste kar na my.  Ek waai vir hom, en gee my mooiste glimlag. Sy mond val effens oop, en hy draai terug in sy sitplek, en ry aan.

Ek sal nooit weet of ek sy woede dalk laat bedaar het nie.  Of hy dalk in ‘n beter bui by die werk aangekom het, en of hy dalk enigsins Afrikaans verstaan nie.

Maar ek het 5 minute later by die werk gestop, en daai liedjie is nou nog in my kop!

As jy ‘n tydjie het, laat weet my watter musiek jy in jou kar luister.

 

Papsopwinterwaternat!

Ek was nog altyd eerder ‘n winter as ‘n somer mens.  Daar is niks lekkerder as om lekker warm in die bed te lê, hot chocolate te sip en na die reën te luister nie.  En ja, dit is moeilik om op te staan as dit so koud is, maar ek vat dit eerder bo sukkel aan die slaap raak in die hitte.

Die Kaapse winter het hierdie jaar skielik, en met mening geslaan.  Ons het reeds sneeu gehad, dit het al in Mei begin reën, en dis vandag geweldig koud.

Ons kantoor is nou ook nie baie slim gebou nie.  Of dalk was dit lank terug, toe dit oorspronklik as ‘n huis gebou is slim beplan.  Met die urban jungle rondom ons is dit egter ‘n totale mislukking, want ons dood van die hitte in die somer, en van die koue in die winter.

Dan raak ons kreatief met ons uitrustings:

Ons het ook almal vir ons “thermal mugs” gekry, wat ons gou agtergekom het hou die drankie langer warm, maar maak nou nie meer die hande so lekker warm nie:

En ja, hier is iets soos drie heaters in die kantoor, maar as NGO word daar vir ons vertel ons moet elke sent spaar, en staan hulle meestal in ongebruik:

Maar met die reën is daar ewe skielik ook nou groenigheid buite my kantoor!  En ja, ek weet dit is onkruid, maar dis so mooi groen! En ‘n paar weke gelede was daar net vaal sand.

Mense kla maklik.  Dieselfde mense wat in die somer oor die hitte kla, kla gewoonlik in die winter oor die koue.  En elke jaar dink ek dat ek hulle gaan uitvang.  Maar helaas.  Al wat ek weet is dat ek hierdie winter geniet!  Ek staar vir ure na water wat val, is al by my 3de blik hot chocolate en bring die “layer” effek terug hierdie jaar.

Hy kan maar ‘n rukkie langer met ons bly!

 

Die Take-Away Projek

Ek eet nie vreeslik baie take-aways nie, ek verkies om self my kos te maak.  Maar oor die afgelope 2 jaar het ek so ‘n paar plekkies getoets op aande wat ek te besig was om self kos te maak.  Hierdie is my verdict van 8 plekke.

Green Valley     –              R33.95
Om een of ander obskure rede het hulle nie broodrolletjies nie, en ek kry die Burger Special op Toast!  Die deal sluit ‘n “hamburger”, chips en ‘n glas sap of koppie koffie in.  Ek settle vir die koffie, aangesien ek dan nou toast moet eet.

Die pattie is nie lekker nie.  Ek weet nie of dit effens oud is, of net ‘n baie lae kwaliteit vleis nie, maar dit proe af.  Die sous is heerlik en maak dit eetbaar.  Die toast is, wel… toast.  Die chips is soos ek daarvan hou.  Effens crispy buite, lekker sag binne.  Die koffie is gangbaar, maar die uie is so sterk, dit laat die koffie na liquorice proe.

Burger Fair          –              R19.95
Vir daai prys, awesome!  Ek gaan vir Cheeseburger en chips.  Die milkshake was ekstra, maar steeds baie goed geprys.  Jy eet in jou kar, uit ‘n mandjie, maar het die opsie om die kos huistoe te vat en daar te eet.

Die chips is fantasties!  Regtig lekker.  Die burger is ‘n ordentlike size, niks Mcdonalds patties nie.  Die rolletjie is groot genoeg om al die toppings binne te hou.  En dis regtig regtig lekker.  My enigste “complaint” sal wees dat hulle die onderste deel van die rolletjie rooster, wat maak dat hy kraak in jou mond, en ‘n burger moet nie kraak nie.

Debonairs           –              R39.90
My gunsteling pizza bly die Chicken Triple Decker.  En deesdae hoef jy nie met ‘n massiewe boks huistoe te gaan nie, want hy is ook nou beskikbaar in ‘n Real Deal grote.  Mens kan dit opeet in een probeerslag, alhoewel ek hou van ‘n skyfie of twee los vir die volgende oggend as ontbyt.

Die basis van hierdie pizza is cream cheese, en as jy jou bonus gekry het, vra vir ekstra cream cheese! Ek het al gevind die kwaliteit van die pizza wissel van winkel tot winkel,  maar meeste van die tyd is dit baie lekker.  Mushroom, uie, hoender en sweet chillie sous werk goed saam met die kaas.

Steers                   –              R39.95
Hierdie is vir die Prince Burger en chips.  Ek kon nognie agterkom wat die regte verskil is tussen die verskillende burgers nie, maar die Rave burger is  een van daai in-die-kar-eet burgers, en nie so groot nie.  Steers het ook oor die jare taamlik duur geraak.  Ek het nog strokies van 10 jaar terug, waar ‘n Rave burger R5 gekos het.

Die Prince Burger is nice.  Bietjie morsig, want hulle sit ‘n bietjie baie mosterd op, maar oor die algemeen heel skaflik.  Die pattie is ‘n decent grootte, maar ek vind die slaaie is nie altyd so lekker vars nie, hang seker maar af waar jy koop.  Steers se chips is die beste wat ek nog ooit gehad het.

Sushi Suki Japanese Cuisine CC                     –           R44.95
Dis altyd snaaks hoe ‘n restaurant Chinese kos verkoop, en dan ‘n Japanese sushi eat-as-much-as-you-can special het.  Hierdie is een van daai plekke.  Ek verkies om chinese daar te koop, aangesien dit regtig chinese is wat daar werk, en hulle sushi ok is, maar nie naby die regte deal kom nie, selfs al is dit goedkoop.

Hierdie is die sweet en sour chicken.  Ek voel altyd die hoeveelheid wat ek kry is nogals min vir die prys, maar voel altyd vreeslik vol na ek dit geëet het.  Die sous is awesome, en die hoender en deeg is mooi gaargemaak.  Doen jouself ‘n guns, en vat die egg fried rice of noodles.  Dis ekstra, maar die moeite werd.  Anders kry jy ‘n baie average porsie gewone wit rys.

Nando’s               –              R29.95
My gunsteling take-away.  Die ¼ chicken, chips en roll.  En ek vat hom Extra Hot, en drink ‘n glasie melk saam met die by die huis.  Partykeer hou ek ook daarvan om ‘n creamy dip by te vat, dit breek effens die hitte.  Maar ek hou steeds van die geurige warmte.

Die chips is standaard, maar die Portuguese roll wat jy saamkry is volgens my die beste wat jy kan kry.  Geen kafee kan so iets bak nie.  Ek verkies ook om die Breast-Wing kombinasie te vat, in plaas van die Thigh-Leg.  Hou die melk reg!

McDonalds         –              R10.00
Die cheeseburger van McDonalds (en for that matter enigiets van McDonalds) is sub-standaard kos.  Die enigste ding van McDonalds is dat hulle kos alles duidelik gemaak is met die idee dat jy dit in jou kar kan eet.  En dit is natuurlik gerieflik, maar maak dit steeds nie goed nie.

Die pattie is so dun soos koue vleis skywe in ‘n supermark, die gurkins is nie eers effens suur nie, en die tamatiesous is baie soet.  Die droë, sintetiese rolletjie met die processed cheese en ander ewe droë bestanddele kan ek net afkry met ‘n koffie.  En volgens my is dit hulle enigste ordentlike produk (R9.95).

Spur       –              R55.95
Ek hou daarvan om by ‘n restaurant die disse te eet wat hom sy reputasie gegee het.  Dus eet ek burgers by Spur.  En ek hou van die Goodie Burger.  Die prys is egter ‘n bietjie hoog vir wat jy kry, maar aangesien mens meestal gaan sit in die Spur (teenoor take-aways) kom jy dit nie so agter nie, want nou is daar gewoonlik ‘n bottel wyn wat by bestel word, en partykeer ook nagereg.

Die Goodie Burger is lekker, alhoewel die pynappel uit ‘n blikkie kom, en die mushroom sous uit ‘n pakkie.  Maar dis Spur.  Die chips (veral met daai wit sous) en uie ringe is goed.  Deesdae is die entertainment value van ‘n Spur ook baie beter as in die verlede met die Hill Billy Rock dans.

As jy enige voorstelle het van plekke wat regtig lekker is, en goeie waarde vir geld, laat weet gerus, en ek sal dit uittoets en die lys langer maak.

Itsy Bitsy… MOERSE groot spinnekop

Ek is bang vir spinnekoppe.  Enige spinnekoppe, maak nie saak hoe klein of groot hy is nie.  Ras en geslag speel ook nie ‘n rol nie, en hy kan ‘n flippen wit vlaggie vashou, ek is bang.

Presies hoe bang het ek vanoggend agtergekom.

My roetine elke weeksoggend is taamlik vas.  My selfoon gaan 5:55 af (saam met al die “notifications” wat deur die nag ingekom het terwyl hy af was).  Ek snooze gewoonlik so een of twee keer, en stap dan (sonder om my oë op te sit) om die ketel aan te sit, en dan badkamer toe, en dan gou bed opmaak.  Dan het ek nog genoeg tyd om rustig ‘n koffie te drink, en van my ma se lekker beskuit te eet voor ek aantrek en werk toe gaan.

Nie vanoggend nie.

Ek het mooi opgestaan, en begin kombuis toe stap.  ‘n Lied in my hart na ‘n lekker naweek.  En skielik verander daai lied na Jaws se tema musiek, en ek ruil amper die toilet besoek en die koffie maak net daar om.  Want daar bo my pragtige bank, amper teen die dak, sit die grootste spinnekop wat ek in my lewe gesien het!  En ek oordryf nie!  Dis nie ‘n visserman storie hierdie nie, die meneer is baie groter as my een hand, nader aan 2!

Ek verloor effens beheer, en maak sulke geluidjies wat ek nog net my ma’le se Jack Russell hoor maak het as hy koud kry.  Teen die spoed van witlig spring ek terug kamer toe, en sit my oë op, net om te sien hy is nie meer daar toe ek terugkom nie.  Ek freak amper uit!!

Sien hom gelukkig ‘n bietjie laer af sit, maar as hy so vinnig kan beweeg, dan wil ek nie hier rondhang nie.  Ek gryp ‘n jean en top van my wasgoedrak af, my tekkies lê gelukkig langs die bed, en my laptop en handsak is in die kombuis.

Al vallend en hygend (want ek kry letterlik nie asem nie) trek ek myself in die kombuis aan, sonder om my oë ‘n oomblik van die besoeker af te haal.  Tande word geborsel in die kombuis, en ek het nie ‘n saak met alles wat ek nog wou doen nie!  Net om myself ‘n bietjie beter te laat voel, spuit ek so baie Doom uit op die gedierte, dat as hy nie gaan verstik van die walms (soos ek het) nie, gaan hy hom verseker dood gly.

Ek is uit, in my kar, en snel werk toe.  Daar gekom, besef ek dat ek ‘n volle uur voor die persoon met die sleutel daar is, en ek is nie eintlik lus om nou hier te sit en dink aan spinnekoppe nie.  Buitendien, dit voel of my hele lyf kriewel!  Ek gaan sit toe maar by die Engen garage en koop ‘n koffie.  Ek stuur ook sommer vir my skoonmakers ‘n sms waarin ek hulle smeek om nie vandag te loop voor hulle nie die meneer gekry het, en saamgevat het nie.

My hele oggend is bietjie bewerig.  Ek skrik vir die wondergom teen my muur en moet op ‘n stadium ‘n stuk papier vir iemand wys, maar bewe so, dat ek dit moet neersit en beduie.  Ek gooi 3-4 lepels suiker in my koffie, en loop later en gaan koop ‘n bottel Coke.  Ek probeer my besig hou met pos oopmaak en radio luister.

En toe kom die sms van my skoonmakers.  “Ons het vir GROOT meneer agter die bank gekry.  Hy is gelukkig ‘n bachelor. Gaan nou kalmeerpille koop”

Die hele episode het my laat nadink.  Daar is ‘n paar goed wat ek sal moet doen so spoedig moontlik:

  • Leer ken jou bure beter (sodat jy hulle 6:30 kan wakker klop)
  • Koop Doom by Makro
  • Sit jou bril op die oomblik as jy wakker word
  • Koop nog Doom (of iets sterker)

Soos my sussie netnou vir my sê “Toemaar, jy het dit oorleef en sterker anderkant uitgekom”.

Ja, ek het dit oorleef.

Sterker?  Sy het my obviously nie gesien nie…

 

Let wel, die foto het ek nie self geneem nie.  Ek is bang, nie mal nie.  En ek gee nie om dat hy blykbaar helemal onskadelik is nie.  Dis ‘n spinnekop, hy’s vet en lelik, en klaar!

 

‘n Crappy Storie

Gister kry ek ‘n interessante e-pos van my suster af.  Dit het die titel The Man Rules, en buiten vir die feit dat elke reël as nommer 1 gelys word, bevat dit ook daai tipiese goed wat mans maak wat hulle is.  En ondere andere klaar dit sommer die probleem met die toiletsitplek op…  natuurlik uit ‘n man se oogpunt.

Wel, eers bietjie agtergrond.  Die toiletsitplek is nie soos op sekere websites beweer word deur Thomas Crapper uitgevind nie.  Unfortunate van, ek weet.  Die sitplek is ontwerp deur Tom Bradney, in 1927.  Hy het ook die “bucket toilet” ontwerp, en seker gou agtergekom dit gaan ‘n probleem wees.  Die vraag wat onmiddellik by my opkom is “wat het hulle voor dit gedoen?”.

Daar is ook ‘n toilet museum, en op hulle website kan jy absoluut alles kry oor toilette. Daar is ‘n geskenkwinkel (vir as iemand nou rerig crappy voel) en selfs klanke wat jy kan aflaai as ‘n ringtone (vir as jy almal NOG verder wil wegdryf).

Nou, die toiletsitplek probleem is eenvoudig. Vrouens MOET die sitplek af hê, en mans MOET die sitplek op hê.

Uit ondervinding weet ek dat vrouens genuine die seat MOET afhê, glo my, net gimnaste kan dit anders regkry.  As die seat nie af is nie, is daar byna geen verskil tussen die toilet, en Kimberley se gat nie.  Ewe diep, ewe wyd.  Maar uit navrae weet ek ook dat die enigste rede hoekom mans die sitplek lig is om ‘n groter “teiken oppervlakte” te hê.  Die oplossing kan dalk so eenvoudig wees as om te leer mik?

Nou kyk, ek kan nie regtig sê dat ek al ooit ‘n probleem in my plek gehad het met ‘n “op” sitplek nie.  Die feit dat ek alleen bly kan dalk ‘n rede wees, maar ek het darem ook mans vriende wat kom kuier, en by geleentheid gebruik hulle my toilet.  En nog nooit het ek ingestap in my badkamer, ‘n bietjie gevloek, en dan die toiletsitplek afgeslaan nie!  My sitplek is ook by tye ‘n bietjie onstabiel, en ek vermoed party vriende skrik so groot vir hom, dat hulle òf dit versigtig weer afslaan òf baie versigtig mik òf (behoede my) in die bad piepie.

Eintlik verstaan ek nie mooi die hele opslaan/afslaan storie nie.  Dit is so vinnig om ‘n sitplek op of af te slaan, dis rerig nie asof dit baie lank vat nie, in fact, dit vat so min tyd, dit kan nie eers as ‘n aksie beskryf word nie.  En dit gaan vir beide geslagte.

MAAR… navorsing het wel bevind dat dit baie gesonder is om die HELE deksel plat te slaan.  Met ander woorde, die ring, en die deksel.  En jy kan self dink hoekom… kieme!!

So in belang van ‘n skoon tandeborsel en ‘n rustiger slaap slaan ek nou maar die hele ding plat.  As dit jou egter steeds grief is dit dalk tyd om te belê in een van hierdie outjies.  Dan kan almal die toilet uitstappie geniet, daar sal vrede wees in huise en die wêreld sal ‘n beter plek wees!

PS: as jou toilet ‘n “enclosure” om het, het jy nie regtig iets om oor te kla nie!

http://www.toiletmuseum.com/

 

Comfort Food

Soos ‘n uitgesoekte groepie vriende sal weet, hou ek baie van kosmaak en onthaal.  Die disse wat ek al voorgesit het wissel van fantasmagories, tot absoluut oneetbaar (alhoewel niemand dit ooit erken nie).  Die dis wat ek egter hier met julle wil deel is my grootste treffer tot op hede.  Dis oorspronklik een van Jamie se resepte, maar ek het hom aangepas vir Suid-Afrika, want hier is hasies troeteldiere!

Hoender Stew met dumplings

Vir die dumplings:

400g self-raising meel
200g botter
2 eetlepels droë pietersielie
Sout en Peper
Melk
Nutmeg

Meng die eerste 4 bestanddele saam, en voeg dan genoeg melk by om ‘n deeg te vorm wat nie klewerig is nie.  Knie dit ‘n bietjie, en rol dan in ‘n wors vorm.  Sny in 18 gelyke dele, rol elke stukkie in ‘n balletjie, en strooi ‘n bietjie nutmeg oor.  Hou eenkant.

Vir die stew:

10 stukke hoender (ek hou nie van bene nie, so 8 hoenderborsie fillets het goed gewerk)
Meel
Olyfolie
‘n Klont botter
Sout en Peper
10 Rashers Bacon (fyn opgekap)
2 Takkies Roosmaryn
1 Pakkie Mushrooms (skoongemaak en opgekap)
1 Groot handvol baba uitjies (afgeskil)
2 Blikkies bier
850ml Chicken stock

Verhit die oond tot 190°C.Rol die hoender in die meel, en skud oortollige meel af.In ‘n lekker groot gietyster pot, verhit die olie en botter, en braai hoender tot bruin.  Voeg bacon by saam met sout en peper.  Braai tot bacon begin crispy raak.  Roer die hoenderstukke gedurig.Voeg roosmaryn, mushrooms en uie by, en braai vir nog omtrent 10 minute to groente begin sag raak.Meng ‘n teelepel meel, die bier en chicken stock in, sit die deksel op, en laat prut vir ‘n halfuur.Plaas nou die dumplings bo-op, met ‘n spasie tussen elkeen.  Drup ‘n bietjie olyfolie bo-oor.Plaas pot in verhitte oond vir 45 min.

Die dumplings sal crispy aan die bokant wees, en van die sous aan die onderkant begin intrek het.

Dis ‘n perfekte comfort food, ideaal vir die winter!