Die dinge van ‘n kind

Vroeër die week besoek ek toe ‘n health centre & spa.  Mens kan amper vir enigiets soontoe gaan, van jou toonnaels laat knip (die hemele behoed my dat iemand ooit aan my tone moet vat) tot ‘n massage ontvang of iemand kry wat vir jou ‘n eetplan uitwerk.  Jy kan ook hare knip en make up doen.  ‘n Baie smart plek, maar in ons ekonomiese klimaat nie sommer iets wat ek baie doen nie.

Nou by hierdie spesifieke sentrum is die ‘wagkamer’ heel afgesonder.  Jy word deur ‘n gangetjie geneem om daar uit te kom.  Hier kan jy rustig wag vir jou afspraak, tydskrifte lees en koffie drink.  En dit is gelukkig geensins soos ‘n dokter se wagkamer nie, almal hier het iets om na uit te sien.

So word ek na die kamer begelei, en sit en blaai verveeld deur ‘n tydskrif toe ‘n vriendelike vrou met haar dogtertjie instap.  Ek skat die kleinding so 5 of 6 jaar oud, die pragtigste blonde hare.  Haar ma wys vir haar baie mooi waar die tan can vertrek is, en vertel haar dat sy net ‘n klein rukkie daar gaan besig wees, en dat die dogtertjie gladnie mag rondloop nie, en ook nie moet raas nie.

Die kleintjie belowe te plegtig dat sy dit sal doen, en met haar poppie en boek op die skoot kon dit nou net sowel ‘n engeltjie gewees het wat daar sit.  Ek glimlag vriendelik vir die dogtertjie, versigtig om nie bietjie soos ‘n freak te lyk nie.

En die gewag raak toe nou ‘n bietjie lank.  Tjoepstil sit ek en die dogtertjie daar.  Haar ma het immers gepraat, en nadat ek lank my vriendinne wat kinders het dopgehou het (om eendag ‘n super ma te kan wees) weet ek dat jy nooit ‘n ma se opdrag verontagsaam nie.  Never!

Dis toe ek weer loer na die dogtertjie se kant toe wat sy oorleun na my, behoedsaam rondkyk en fluister: “Why do you have to sit here?”

PS: Aan al my vriendinne met kinders, ek respekteer julle so baie!