Murphy se wet

As mens in ‘n woonstel bly is jou keuse tot troeteldiere beperk.  Ons kompleks laat byvoorbeeld gladnie nuwe troeteldiere, soos honde en katte toe nie.  ‘n Vis is vreeslik boring as ‘n troeteldier, en die enigste voëls wat werklik prettige troeteldiere maak is die wat raas en praat.  Klein knaagdiere en reptiele val vir my in dieselfde klas as visse… boring.

‘n Paar jaar terug, voor die nuwe reëls, kry ek toe vir my ‘n kokketiel.  ‘n Oulike geel (vr)outjie  (ek weet regtig nie hoe om dit te kyk nie) en ek gee hom die naam, Murphy.  Nou Murphy was nogals oulik, kon na ‘n rukkie my kar herken as ek by die huis kom, en het dan vreeslik gefluit.  Die geel was ook mooi, en hy het mooi gematch met sy hokkie.

Murphy het egter ‘n bietjie van ‘n persoonlikheids probleem gehad.  Hy was ‘n closet hadida.  Die bome oorkant op die kerk se gronde is dan nou ook die huis van ‘n magdom hadidas.  Klokslag elke aand rondom 18:00 groet hulle die dag met ‘n allervreeslike geskree.  En soos ‘n besetene skree Murphy saam. Hy gaan letterlik bos in sy eenslaapkamer, ek sweer hy het ‘n paar keer harsingskudding opgedoen in die proses ook.  Mal voël.

Een aand maak ek toe sy hokkie skoon, op my balkon, want dit is maar ‘n taamlike morsige besigheid.  Die onderkant van die hokkie kom los, dan sit Murphy nou maar eenkant in sy bodemlose huis terwyl ek die skoonmaakwerk doen. Die stiptelike hadidas begin toe ook net op daardie oomlik hulle aandgesang, en Murphy moes seker gevoel het hy is nou so naby hulle, want hy trek los met die aardigste klank wat ek nog ooit gehoor het, kliphard!

Ek skrik my besimpeld, en skop per ongeluk die hok raak, altans, ek dink dis wat gebeur het.  En die wat weet sal nou besef daar is nie enige spasie op my stoep vir so ‘n ongeluk nie.  Dit was net een geel streep…

Murphy het presies geweet waarheen om te gaan, reguit na die bome, die hadidas tuiste. Ek het met ‘n oop mond gestaan, want ‘n hadida is groot, en Murphy was klein, en ek dink nie hy het dit geweet nie!  En ek het besef daar is nie ‘n manier hoe ek die voël kan gaan red nie, die bome is te hoog, die hadidas te veel.

Vir drie dae daarna was dit ‘n verskriklike storie.  Elke keer as ‘n hadida gil, dan is daar ‘n desperate kokketiel wat probeer byhou.  Ek staan elke keer trots stil, Murphy staan sy man (of vrou).

Die derde aand, toe begin dit reën.  Dit is yskoud.  My hart bloei vir Murphy.  Die wind waai te erg, ek kan nie vir hom of die hadidas hoor nie. Ek kan net hoop dat hy ‘n hadida maatjie gemaak het, en dat die hom nou beskerm, want Murphy is ‘n voorheen bevoordeelde.  Hy’s nie die elemente gewoond nie.

Ek het nooit weer daarna ‘n kokketiel tussen die hadidas gehoor nie.  Ek kan maar net hoop dat Murphy hadidaans aangeleer het, en nou onherkenbaar is tussen sy nuwe huismaats.

Anders is hy geball deur sy eie wet…