Die kluisenaar se KFC

Volgens alle persoonlikheids-, aanleg-, en kop-toetse (nee, ek issie mallie) wat ek al ooit moes doen, hetsy vir werk of skool of sommer net omdat ek nuuskierig is, IS ek ‘n ekstrovert.  En soos die tannie so mooi verduidelik het, nie die dans op die tafels tipe nie, ek kry bloot my energie vanaf eksterne faktore, dus mense. Laat my soos ‘n vampier klink, maar ek belowe, ek’s vriendelik.

Nou met hierdie kennis word my dae, aande en naweke beplan. Ek hou baie van alleen bly, en geniet die vryheid wat daarmee gepaard gaan, maar ek soek elke nou en dan mense rondom my. Dankie tog ek werk saam met ‘n mallerige klompie mense, ek is party aande helemal genees van die hunkering na ander…

Die afgelope twee dae moes ek toe nou van die huis af werk. My rekenaar by die werk is super stadig (‘super’ laat dit vinniger klink as wat dit is hoor!) en ek moet video clips wat van ‘n fiets afgeneem is omtower in een amazing video. Nou buiten vir die stadige rekenaar het ek ook nie ‘n clue wat ek doen nie, en probeer maar met wat ek by die huis het.

Twee dae lank sit ek voor my rekenaar. Twee dae lank ‘start’ ek nie my kar nie. Twee dae lank maak ek nie my deur oop nie. Twee dae lank sien ek niemand nie. NIEMAND nie!!

Het jy enige idee hoe lank dit is vir ‘n ekstrovert?

Op die tweede dag, 17:46 om presies te wees, toe sit ek my rekenaar af. Ek is yskoud, kan nie meer my tone voel nie en my hand lyk soos Jim Carrey se ‘the claw’. Ek is nie meer lus nie, en goed gatvol vir enigiets tegnologie.

Ek besluit dis tyd om groceries te gaan koop. En ek vat die pad na Fruit & Veg. Dit stortreën, maar ek is buite, en my kar het gestart, en ek gaan myself treat met KFC na die inkopies. Ek is sommer opgewonde by die vooruitsig.

Fruit & Veg is baie stil. So stil, jy kan die radio hoor speel. Die drie mense wat ook in die winkel is het blykbaar besige werksdae gehad, want hulle kyk nie eers op nie! Ek neem ekstra lank met my inkopies, maar dis toe ek begin wonder of ek dalk gaar rys moet koop wat ek besef ek’s nou klaar geshop.

Dis ‘n vriendelike dametjie agter die till. Sy praat egter heeltyd met my Engels, al sê haar naambordjie ‘Annamarie’, en ek sien toe sommer ons gaan nie click nie. Glimlag toe maar vir die security guard, maar ek dink nie mens is veronderstel om dit in die nabyheid van kontant te doen nie, want hy lyk gladnie beïndruk nie.

Met my inkopies gedoen ry ek na KFC vir die beloofde treat. Dit stortreën steeds, en ek is blykbaar die enigste poepol wat dink take-aways deur ‘n drive-thru sal goed afgaan.

Ek kom by die venstertjie om te bestel, my favourite, Streetwise Pap (don’t judge, ek het dit by die werk geleer). En ewe skielik praat iemand met my! Die meisie neem nie alleen my bestelling nie, sy lewer kommentaar daarop! Ok, sy’t net gesê ‘ooh, jy hou van pap’ (ja, so what) maar vir my was dit genoeg.

En ek trek daar los! Dis verbale diaree, eersteklas. Ons praat eers oor pap, en toe oor die weer, en toe oor heaters en toe voel dit of ons mekaar al jare ken, en ons raak meer persoonlik en gesels oor warm sokkies! Die soort wat jy aantrek…

Ek is spyt toe ek my strokie kry en moet aanry na die volgende venster. Daar is nog so baie waaroor ek en Novuli kon gesels! Maar ek voel dadelik meer energiek, en was selfs die skottelgoed toe ek by die huis kom.

Twee dinge is egter vir my duidelik.

Kos bedien met ‘n glimlag en liefde is baie lekkerder as ander (toe ek my sakkie oopmaak by die huis toe is daar ‘n ekstra bakkie pap ingesit, Novuli se werk).

En ek sal nooit ‘n kluisenaar word nie!

Dis nou maar wors….

Ek het nou die dag besef dat ek al ‘n taamlike tydjie bly in my woonstel.  En ek love dit!  Dis groot genoeg en na jare se TLC is dit vir my baie mooi en baie gerieflik ingerig.  Ek het baie nice bure, en buiten vir nou en dan ‘n doef doef kar is dit heerlik stil.

Die beste van dit is egter al die herinneringe!  Kuiers op die stoep, in die kombuis en selfs eenkeer in die badkamer!  Die kos wat al hier voorgesit is, is van braaie tot driegang gourmet etes,  van vetkoeke tot slaai.  Mense van verskeie nasies het al saamgekuier, van die Chinees wat gedink het hy is in Botswana, tot die Zims wat nog nooit lasagne gesien het nie.  En my skoonmakers dink sweerlik ek is ‘n recovering alkoholis wat weer ‘n terugslag het, want eers was daar BAIE wyn (toe ek by Distell gewerk het), en toe baie min, en nou weer BAIE!

Ek lag egter steeds as ek terugdink aan een voorval, ‘n hele paar jaar gelede.

Dit was in die tyd toe ek nog gedink het die woonstel kan duisende mense vat, en met elke kuier het die mense letterlik uit die arme plek gepeul!  Musiek was hard, kos was cheap en dit is ‘n absolute wonderwerk dat ek nooit ‘n boete gekry het nie!

Ons het weereens ‘n braai gehou, en die goedkoopste ding om te braai… wors.  (Slaai was bloot piesang en jogurt of ‘n blikkie koue sweetcorn en die wyn het uit ‘n boks gekom)

En so staan almal rond, party in die kombuis, iemand op ‘n selfoon in een van die kamers, nog ‘n paar by die musiek en ‘n hele klomp buite op die stoep, die braaiers.  Ek kon nognie ‘n ordentlike braaibak bekostig nie, so die wors is in ‘n plastiekbak.

En so tussendeur die kuier op die stoep word ‘n wilde storie vertel (met die nodige gebare) en die volgende oomblik tuimel die hele bak met wors by die stoep af.  En dit blyk toe ook ‘n baie effektiewe manier te wees om ‘n klomp raserige vriende tjoepstil te kry.  Almal staan en loer na die wors wat uitgestrek lê tussen buurman se varings!

Nou kyk, ek het oulike vriende (ek kies hulle versigtig) en as dit enigiets anders was wat by daai stoep afgeval het, sou ons seker die ordentlike ding gedoen het en aan buurman onder se deur gaan klop het.  Dit was nog gladnie laat nie, en hy is ‘n baie nice ou.

Maar niemand het regtig kans gesien om aan iemand se deur te klop en te moet verduidelik dat jou wors in sy tuin lê nie!!!

Die langste van die manne het toe maar dit op hom geneem, en by die stoep afgeklim, tot binne in buurman se tuin, die wors ontknoop uit die plant, en met die bak (en wors) tussen sy tande vasgeknyp weer opgeklim teen die stoep.

En asof niks gebeur het nie, het almal aangekuier.  Ek het so ‘n week later by die ou tannie in die blok gehoor sy het iemand hoor ‘whoooheeee’ gil, maar dat dit haar nie juis gepla het nie.  Ek het darem vir my ‘n lekker braaibak gaan koop daarna, en nooi deesdae maar ‘n klein groepie mense op ‘n slag.

‘n Mens mors nie met wors nie…