Dead Sea Mud… en Clara, is ja!

Dit was ‘n doodgewone Saterdag namiddag.  Ek het my selfoon kabel by die werk vergeet, en besluit om vinnig ‘n draai te gaan maak in Tygervallei.  Nou die been is nognie helemal lekker nie, so ek trek my gemaklike oefenbroek aan, wat darem die bestuur met die stut makliker maak, en ry die 3km mooi versigtig.

Om by die winkel uit te kom wat die kabels verkoop, moet jy verby ‘n paar stalletjies stap, meeste van hulle verkoop boring duur goed wat jy nie nodig het nie.  Ek kry dit reg om my roete so te loop sodat ek net regtig moet sidestep vir een stalletjie.

Met die gaan slag kom ‘n langerige adonis van die stalletjie op my af met ‘n buisie handeroom.  Pleks ek maar sy offer vir ‘n hand massage aanvaar, maar nee,  ek en my afbeen mission aan na die selfoon winkel.

Sien, as ek sy roompies gevat het, het ek ‘n verskoning gehad met die terugkomslag.  Want hierdie keer, keer ‘n kort vroutjie my voor, sy moet glo dringend vir my iets wys.  Ek beduie dat ek eintlik bietjie haastig is, maar shame, sy praat soos Clara van die laan, en dalk het sy regtig ‘n probleem.  Yeah right!  Sy gryp my een vinger, en bring so ‘n snaakse boksie dingetjie uit waarmee sy die nael begin poleer.  En daar staan ek so bietjie soos ‘n poepol, met my adidas broek, ‘n moewiese beenstut en sy vryf my nael.

En let wel, dis nie asof sy my ‘n manicure gee nie.  Dis net EEN nael!!

Terwyl sy besig is, vertel sy vir my dat sy nie van Suid-Afrika is nie, en ek moet myself keer om te vra of sy dalk van Bucharest is.  Met haar beperkte Engels klink dit toe egter of sy daar in die Dead Sea, tussen die modder gebore is!  Die vrou ken elke mineraal daarin.

“Are you prepared to be amazed?” Ek voel of ek op een of ander gameshow is, en wens ek kon hardloop, maar helaas.  “Are you ready, please don’t shout when you see, we’re in a mall”.  Nou dit is ‘n genuine oulike manier van ‘n ding probeer verkoop, maar met die aksent, en die feit dat dit in die middel van ‘n winkelsentrum is, klink dit net skreeusnaaks!

Die nael lyk toe eintlik baie mooi, en sy beweeg vlugtig aan na ‘n volgende produk.  Die trick is blykbaar om my “addicted” te maak aan soveel as moontlik van hierdie Dead Sea minerale voor sy my verloor.

Weereens probeer sy ‘n geselsie aanknoop terwyl sy nou my hande begin invryf met iets wat soos Cerebos sout lyk.  Sy begin my vertel hoe ‘n fikse persoon soos ek seker nie baie tyd het nie, so hierdie sout is perfek, want dit werk vinnig.  Nou kyk, as ‘n sweetpakbroek en ‘n stut jou “fiks” maak, dan sal ek dit maar meer gereeld dra.

Teen die tyd is ek toe al bietjie moeg van die hele storie, en ek wil huistoe, en haar goed is in elk geval helemal te duur.  Sy probeer toe egter nog ‘n laaste keer, en vra my of ek die modder van die dooie see ken.  Ja, sê ek, ek het by die huis.  En streng gesproke het ek nie gejok nie.  Dit het immers gereën in die week, en daar is plantbakke op my stoep, wat beteken ek HET modder. Of ek dit nou op myself sal gebruik is ‘n ander vraag, een wat ek gelukkig nie hoef te antwoord nie.  En ek twyfel baie sterk of my modder al ooit naby die dooie see was.

Wel, ek is daar weg met ‘n blink gepoleerde nael, ‘n sakkie met ‘n roompie en die voorneme om vir ten minste die volgende 2 maande eerder my shopping op ‘n ander plek te gaan doen…

Horror-scope?

Onlangs loop ek hierdie interessante stukkie raak.  Dit is ‘n samestelling van die woorde wat die meeste gebruik word in daardie “sterre voorspel” stukkies, en kom uit 4000 stukke oor al die sterretekens.

“Ready? Sure?
Whatever the situation or secret moment, enjoy everything a lot. Feel able to absolutely care. Expect nothing else. Keep making love. Family and friends matter. The world is life, fun and energy. Maybe hard. Or easy. Taking exactly enough is best. Help and talk to others. Change your mind and a better mood comes along . . . “

Nice ne?

My Emmer lys

Het jy ‘n “Bucket List”?  Of miskien sal dit interessanter wees om te sien hoeveel mense het iewers in hulle lewe ‘n “bucket list” opgestel, en toe weer helemal daarvan vergeet. Sien, ‘n “Bucket List” is presies wat die Online Slang Dictionary sê:

  • a list of things a person wants to do before they “kick the bucket” (die.)

En niemand van ons dink heeltyd aan doodgaan nie.  ‘n “Bucket List” word dus opgestel wanneer jy dalk bietjie benoud voel, of wanneer daar nuus is van aardbewings en oorstromings.

Ek het toe ‘n hypothetical emmer lysie gaan opstel, vir die pret (ek kan nie op die oomblik die emmer skop nie, my been is in ‘n stut).  En eintlik was dit toe nie soveel pret nie, want my lysie sluit nie kief goed soos “Shake hands with Obama” en “Complete Tour de France” in nie.  Ek kan dit seker daar sit, maar dan gaan ek vir die res van my lewe geweldig onvervuld wees.

Hier onder is nou ’n paar goed wat ek gedink het dalk my lys kon maak.

Run a 10k
Wel, na dese gaan dit bietjie moeilik wees!  Ek was nogals gereed gewees om aan ‘n “ligter” mini marathon deel te neem, maar die knie het dinge kom omkrap.

Learn to play golf
Dit kan nie te moeilik wees nie, alhoewel ek nie weet of ek die geduld het vir dit nie.  Hoeveel keer moet jy nou regtig die balletjie slaan om uiteindelik net weer by die klubhuis op te eindig.  Ek begin sommer daar…

Take part in a rowing competition
Been there, done that, got the t-shirt!  Rerig! Ek het lank terug deelgeneem aan die vloot se “pulling regatta” waar ons ou groepie van 5 verbete ‘n een ton boot deur die water probeer sleep het! Ons het darem 4de uit 6 gekom, wat dit nogals ‘n prestasie maak.  En dis nie aldag wat 10000 mense jou aanmoedig nie!

Go Fishing
Hierdie het ek ook al probeer.  Toe ek nog klein was.  Ons het sulke miniatuur weergawe visstokke gehad, myne was nog geel.  My oom het pragtig verduidelik, maar hy het die res van die dag gesit en kraaineste ontrafel.  Die aas het nooit die water gehaal nie.

Play in an orchestra
Done! Sommer in 2! Die eerste was presies wat jy sou verwag, ek het in die skool se blaasorkes gespeel.  Die ander mag jou dalk skok.  Ek was in ‘n “band” met die naam Battery Acid.  En wat jou dalk selfs meer mag skok is die feit dat ons eksklusief by kerkfunksies en huweliksherdenkings gespeel het!

Go Skydiving
Done! What a thrill!! Ek sal dit vir enigiemand aanbeveel.  Maak net seker jy is korter as die instrukteur.  ‘n Mens sukkel nog vir dae om die sand uit jou ore te kry as jy kop eerste in die grond induik…

Solve the Rubik’s Cube
Hoekom?  Ja, ek verstaan nie hoekom iemand dit wil doen nie.  So jy sit vir ure, en draai ‘n blokkie in die rondte.  En die reward wat jy daarvoor kry is dat elke kant net 1 kleur is? Rubbish.

Keep bees
Ek dink nie ek sal goed wees hiermee nie, om twee redes  1) ek is gesteek deur ‘n by destyds by Sun City, en dit was vrek seer, en 2) ek en my bure kom tans baie goed oor die weg, ek wil dit nie bederf nie.

Go on safari
Ek bly in Bellville.  Need I say more?

My “Bucket List” is dalk nie so wonderlik soos van die ander wat ek al gesien het nie.  En weet jy, dit maak ook nie saak nie!  Want nou kan ek elke dag doen wat ek wil, soveel ek wil en vir solank ek wil.  Sonder om te worry oor of dit die lys gaan maak!