Oorfone asseblief!!

Daar is nie baie goed wat my irriteer nie.  Of miskien is daar baie goed, maar ek verkies om hulle te ignoreer, voor ek myself verongeluk.

Een ding wat my egter meer irriteer as taxis wat stop net waar hulle wil, en bure wat deurnag partytjie hou, en winkel assistente wat jou nie kan uitlos nie, is selfone sonder oorfone.  Ja, jy het reg gelees.  En ek is nie kleinlik of onverdraagsaam nie, maar dit freak my uit, tot die punt wat ek sien hoe ek met die sniper aanlê…

Enige selfoon deesdae, selfs die standaard ene wat net kan bel en sms, kom met oorfone uit.  As hy ‘n klank kan voortbring, het hy oorfone.  Party is baie fancy, en het bluetooth oorfone.  Feit bly staan, jou musiek hoef nie gedeel te word met almal binne ‘n 10 meter radius nie.

Nou dis hier waar die irritasie inkom, en dit is grotendeels te dankie aan die 15-jarige mannetjie met die nuwe selfoon in die kompleks.  Hy of sy ouers altans moet geweldig ryk wees.  Want daai selfoon het ‘n beter klank as my kar radio.  Kristal helder klanke sou ‘n goeie beskrywing gewees het, as dit my nie so geirriteer het nie.

En die mannetjies se musieksmaak suck!!  Elke middag, seker na hy sy huiswerk gedoen het, gaan loop hy ‘n draai na die winkel om ‘n koeldrank te koop, en die selfoon gaan saam.  En ek hoor hom nog voor ek hom kan sien!  Hy is nog anderkant die kerk, dan kom die walglike musiek al na my toe aangesweef, soos ‘n vrot reuk.  En dit is dan wat my oë sulke skrefies trek, en ek daai beeld van ‘n sniper oproep…

Nou die dag kry ek toe by die Crazy store ‘n paar oorfone, nie te duur nie.  En daai middag toe ek hom hoor aankom, toe spring ek op, en gaan wag hom in.  Skielik is hy voor my, en ek groet, en gee baie vriendelik vir hom die oorfone en beduie dat dit vir die selfoon is.  Hy kyk my met verbasing aan, “but aunty, I’ve got my own”.

Die sniper beeld begin in 3D dans voor my, en ek sluk ‘n ekstra liter suurstof in, met HHP wat blêr in die agtergrond.  My oë trek op skrefies, en ek tree versigtig terug.

“So use it!”  is al wat ek kan uitkry voor ek myself uit die voete maak en ‘n stewige dop gaan skink.

Ek het hom nognie weer gehoor nie.  So ek weet nie of die selfoon dalk geknak het onder die negatiewe seine wat ek uitstuur nie.  Of dalk gebruik hy nou sy oorfone.  

Die sniper lê en wag…