Die spook van De Akkers

Die wat my ken sal weet dat ek al so lank in my woonstel bly, dit het moeilik geraak om uit te werk presies wanneer ek ingetrek het!  En die wat my regtig goed ken weet ook dat ek heel waarskynlik nog baie lank daar gaan bly!  Wie kan stry teen gemak en goeie ligging! 

Wel, so ‘n paar jaar terug, een warm somersaand besluit ek om eerder buite op die stoep te sit en staar, en so darem steeds te kan asemhaal, as wat ek binne sit en vergaan van die hitte!  Sien, alhoewel my plekkie baie oulik is, het hy nie aircon nie, so dit kan nogals warm raak! 

So het ek dan ‘n heerlike aand buite op my stoep, met ‘n boek, en glasie koue wyn.  Die volmaan kom op, en dit is beautiful!  Ek raak so ontspanne dat ek vir ‘n oomblik dit oorweeg om sommer net hier op die stoep te slaap.  Die dronk bergie wat verby slinger laat my egter vinnig afsien van daai idee! 

In hierdie ontspanne toestand besluit ek later om maar te gaan slaap, in my bed.  Boek in die een hand, en glasie in die ander draai ek na binne, en vir ‘n oomblik stop my hart, en ek laat die glas val.  In die voordeur staan ‘n baie donker persoon, bietjie groter as ek, maar sommer binne in my woonstel!!

En waarvoor ek die bangste was gebeur toe!  In daai oomblik van skok verloor ek my stem, helemal.  Ek kry ‘n bewerige, hees “help” uit, en dit voel of iemand al my wind uitgeslaan het!

Maar die persoon is goed, boots my bewegings perfek na!

Ja, ek kan myself die verdere vernedering spaar en nie verder vertel nie.  Want dit is toe inderdaad my eie skaduwee waarvoor ek so groot skrik.  Ek het regtig ‘n hele tydjie daai aand gevat om te herstel.  Ter versagting kan ek ook net bysê dat daar in daai tyd baie huisbrake was, en mens was maar ‘n bietjie nader aan die “edge” as gewoonlik.

Spoke hoef nie noodwendig dood te wees nie, en dis nie net kinders wat vir hulle skrik nie…