‘n Broodjie in die Oond

Einde verlede jaar toe help ek uit by die skool se blaasorkes as driehoekie speler.  Ek is nogals nie te sleg nie, behalwe as die skoolseuns nie vir my die program wil wys nie, en ek dan met die verkeerde liedjie begin.  Maar dit daar gelaat.

Dit is einde van die jaar, en tyd vir die Kersuitvoerings by die onderskeie kerke.  Vir weke oefen ons Gesange en Psalms, Panis Angelicus en Jingle Bells.  Jy droom dit later! Die wit en swart klere word gestryk en die koek-skoene skoongemaak.  Ek is geweldig beїndruk, want my skoolbaadjie pas nog na al die jare!

Sondag breek aan, en sommer lekker vroeg die middag kom ek al in die regte stemming met Boney M se cd.  Mens kan darem nie op ‘n leë maag gaan speel nie, ek besluit op lekker varsgebakte brood.  Deeg gemaak, in die oond, en met die tyd tot my beskikking gaan maak ek my reg vir die uitvoering.  Om ‘n driehoekie te speel vereis toewyding en goeie voorbereiding.

Dit raak tyd om te gaan, en met die driehoekie onder die arm is ek in my kar, en vat die pad Goodwood toe.

Die diens daardie aand was baie mooi.  Die verskillende solo items was ongelooflik, en die gemeente het baie lekker gesing.  Selfs my mede-spelers was my genadig, en het vir my die program gewys!

Nou elke Kersdiens wat ek al in my lewe bygewoon het sluit af met Stille Nag, al die verse.  En hierdie aand is dit ook geen uitsondering nie.  Ons dirigent neem sy plek in, die gemeente staan op, en die orkes begin te pragtig speel.

En toe ons daai derde reël begin, van “lig uit lig”, toe slat dit my.  My hart skip 4 beats, ek verloor my plek op die musiek, en dit voel of die hele kerkgebou neer tuimel!  Ek het my oond aanvergeet, met die brood binne!

Nou as jy in die orkes speel, dan staan jy voor in die kerk, en die gemeente kyk vir jou.  As jy die driehoekie speel, dan staan jy nog boonop regop, so die gemeente kyk regtig vir JOU!  So ek ruk my toe vinnig reg, glimlag mooi, en staan doodstil gevries met die driehoekie deur al die verse.  Dit voel soos ‘n ewigheid.  Die dominee se seëngebed aan die einde is selfs NOG langer, en ek probeer desperaat onthou wat my versekering se SOS nommer is.

Die Amen was skaars uit, toe gryp ek daai driehoekie, en skiet tussen die kerkgangers deur na my kar.  Ek is uit by die kerkgronde nog voor die eerste omie by die kerk uit is, en ek jaag op auto pilot huistoe.  Ek het ‘n GPS nodig gehad om die kerk te vind, maar instink, vrees en adrenalien laat my die kortste pad huistoe ry, self.

Soos ek op die N1 nader kom, skat ek waar my plek moet wees, en wragtag, daar is ‘n rokie!  Soos ek nader kom raak ek al hoe meer seker dat dit my plek is wat afbrand!  En ek kan nie verstaan hoekom my bure nog niks laat weet het nie, want hulle bel my as daar iemand op my parkeerplek stop, sekerlik moet ‘n brandende woonstel baie meer aandag trek!

En toe ek om die draai kom, toe sien ek die oorsaak van die rokie.  My bure sit luilekker op die balkon en braai, waai nogals ewe vir my toe ek verby jaag.

Skeef geparkeer spring ek uit die kar, en hardloop daai trappe uit soos die personal trainer in my blok dit nie kan doen nie.  Driehoekie het maar in die kar gebly.  Ek ruk die deur oop, gereed vir die ergste, net om verwelkom te word deur die wonderlikste geur, vars brood.

Wel, die brood was kliphard, en baie donker, maar het wonder bo wonder nie gebrand nie.  Die oond was ook fine, alhoewel my krag eenhede aansienlik gesak het.  En ALLES in my plek ruik na brood!  Maar die woonstel staan, en ek is oorweldig deur dankbaarheid!

Ek het maar die volgende dag die dirigent gebel om jammer te sê vir die vinnig verdwyn, en om te verduidelik dat ek nie anders kon nie, ek het immers ‘n broodjie in die oond gehad…