As ek nou ‘internet dating’ gaan noem op die naam, gaan almal se eerste reaksie heel moontlik wees ‘ek sal dit nooit doen nie’.  Die realiteit is egter dat jy heel moontlik lieg.  Ja, want iewers gaan jy wonder, en iewers gaan jy dit probeer.  En daar is niks fout mee nie.  Maar wees gewaarsku.  Die wêreld is vol freaks.

So paar jaar terug probeer ek dit toe ook.

Nou moet ek ook eers noem dat my doel nooit was om my trouman op die internet te kry, soos jy ‘n boek of cd kry nie.  Ek wou my horisonne verbreed en nuwe mense ontmoet.  So ek registreer toe op ‘n gerespekteerde site, laai ‘n dowwe foto op en vul die lang lys vrae in, van jou haarkleur tot jou gunsteling boomsoort.  Alles natuurlik noodsaaklike inligting as jy die ‘regte’ persoon wil ontmoet.

En die boodskappe begin instroom.  Ek voel geweldig gewild, maar besef ook gou dat ‘n hele klomp van die mans gladnie kan lees nie en helemal desperaat is.  Dude, as jou foto wys jy’t ‘n bierpens, 4 kenne en geen nek, dan is ‘lank en atleties’ nie die regte beskrywing nie.

Maar so raak ek aan die gesels met ‘n aangename jongman.  Hy is van Saldanha, werk daar by die staal plek.  Hy stel voor ons ontmoet vir koffie in Tygervallei.  Amper 150km ry hy, om saam met my koffie te kom drink.  Net jammer dat hy pas van twee 24 uur skofte afgekom het by die werk, en is toe so moeg, hy raak aan die slaap by M&B se tafeltjie.  Ek het my koffie klaargemaak, die rekening betaal, en hom toe maar gelos om te slaap.  Hy het darem later verskoning gemaak, maar het seker ook besef dat die Kaap ‘n bietjie vêr is vir ‘n koffie.

Kandidaat nommer 2 was so ‘n model tipe.  En genuine, sy fotos het nie gejok nie.  Ons spreek af dat ons sal ontmoet vir ‘n drankie na werk.  Van 3 uur die middag af begin my foon elke halfuur lui.  Dit is hy wat wil seker maak ek gaan hom nie drop nie.  Terwyl ek ry na die restaurant, 10 minute weg, bel hy steeds.  Pleks ek kanselleer het.  Want draai toe uit dat die meneer een van daai is waar drank in elke storie wat hy vertel MOET feature.  Hy en sy vriende het gisteraand ‘n show gaan kyk, en hulle raak toe so getrek.  Hy en ‘n vriendin het eergister gaan uiteet, en hulle raak toe so getrek.  Hy en sy ouers het verlede week gaan ontbyt eet, en… jy kry die idee?

Na kandidaat nommer 3 het ek my profile gaan delete.  En shame, hy was eintlik nogals nice gewees.  Behalwe… elke keer as hy met my gepraat het, het dit geklink of hy 3 megafone gebruik.  Dit was soos skole atletiek.  Mense wat 3 woonbuurte weg bly kon hoor hoe sy dag op kantoor was.  En… hy sou my bankrot gemaak het, soos hy eet.  Ons het een aand gaan uiteet.  Groot borde bestel, met slaai en onion rings on the side.  Dink hy’t ‘n t-bone, ekstra groot gehad.  Met chips.  En soos die gewoonte is het die waitress ons borde kom haal, en gevra of ons nog iets wil hê.  Waarop hy toe antwoord… ‘ja asseblief, ‘n calamari en chips’.  Jy kon aan haar gesig sien sy het gedink hy maak ‘n grap!  Toe nie…  Ek nooi hom toe mos oor vir ete een aand, en maak my heerlike lasagne.  Genoeg vir 6 mense, met die idee dat ek darem nog vir ‘n dag of 2 ‘n porsie kan saamvat werk toe.  Toe nie…

Sal ek die internet dating ding weer probeer?  Nie sommer nie.  Want my gunsteling boomsoort en haarkleur het niks met niemand te doen nie!

Uit respek word geen name in hierdie stuk genoem nie.