We’re all so human, hey!

Die afgelope naweek is ek Pretoria toe.  Met die vliegtuig.  My vlug soontoe Vrydag was taamlik aksieloos, behalwe vir die feit dat ek ‘n “stopover” gehad het op Bloemfontein, en buiten vir ‘n klein gehuggie kon ek nie agterkom of daar enigsins iets anders as aanloopbane is nie.

Die interessante storie kom egter in met die terugvlug.  Ek is geboek op Kulula, vyfuur.  Ek slaan die lughawe op ‘n goeie tyd, en daar is NIEMAND by die toonbanke nie.  Ek kan kies waar ek wil sit, en settle vir ‘n emergency window seat.  Vir die beenspasie, nie omdat ek paranoid is nie.

Na die koebaais is ek ook baie vinnig deur die skaapkraal, en land toe by gate C12 saam met omtrent 10 ander passasiers.  Daar is nie baie sitplek nie, maar almal is vreeslik vriendelik, en maak gemoedelik plek vir nuwe aankomelinge.

‘n Ouer dame deel haar groot pak Lays chips met almal, en amper elke persoon sit met ‘n blackberry en update gou ‘n facebook status of stuur ‘n tweet.  ‘n Kongolees kom aangestap, en ek haal my sak af om vir hom plek te maak.  Ons raak sommer vinnig aan die gesels, en hy vertel my hoe opgewonde hy is om vir die week ‘n kursus te gaan bywoon in Stellenbosch (ek vermoed hy berou daai nou, na hierdie week se hitte).  My maak sy baadjie oop om vir my sy t-shirt te wys.  “I love Cape Town”.

‘n Paartjie met ‘n eenjarige dogtertjie kom aan, en gaan sit plat op die vloer.  Die kleintjie is gladnie skaam nie, en hardloop van die een passasier na die volgende met ‘n uitbundige lag en uitgestrekte armpies.  Almal vergeet van hulle fone, en dis sommer gou ‘n baie vrolike groep.  Ons groei tot omtrent 40 mense.

Skielik kom die afkondiging dat ons by die verkeerde hek sit, en soos ‘n wafferse toergroep gryp ons sakke en begin hardloop.  Blykbaar veroorsaak samesyn in klein plekkies ook ‘n bietjie vertroue, want almal help mekaar met bagasie terwyl ons by roltrappe af val.

By ons nuwe hek moet ons egter hoor die vlug is met ‘n uur vertraag.

Ek mission na die koffie toonbank vir lafenis, en toe ek terugkom by die hek, is almal weer plat op die vloer, die stemming nogsteeds vrolik.  Die Kongolees waai vir my, hy het vir my ‘n sitplek gehou “to return the favour”.  Saam sit ons plat op die vloer, en eet my pakkie wat ek saamgekry het, en drink koffie.

Uiteindelik het ons toe ook geboard, en na vreeslike verskonings van die kaptein en lugwaardinne, is ons oppad Kaap toe.

Maar iets het my opgeval van hierdie hele episode.  Nie een keer het iemand ongeduldig geraak nie.  Alhoewel daar alle vorms, kleure, groottes en tale was, het almal een doel gehad, om in die Kaap te kom.  Vreemdes het jou bagasie opgepas as jy toilet toe wou gaan, eetgoed is gedeel en random geselsies is aangeknoop.

En toe hoor ek die Engelse oom agter my vir die Chinese vroutjie sê:

“We’re all so human hey!”

 

2 Comments

  1. Dis nie baie dat mens dit hoor nie. Die meeste mense hou heeltemal te veel van bitch en moan.

Leave a Comment

Your email address will not be published.