‘n Social op die internet

Ek onthou nog hoe opgewonde ek was toe ek internet by my huis gekry het, en ook ‘n Facebook profiel kon begin.  Uiteindelik kon ek mense vriende noem wat ek nog nooit ‘n woord mee gepraat het nie!  Ek kan elke oomblik, van elke vriend (en nie-vriend) herleef, asof ek daar is, asof ek daar wou wees, en asof ek welkom is daar.

Uiteindelik weet ek waar my vriende (en nie-vriende) elke dag is, wat hulle vir aandete gehad het, en sommer ook dat dit vandag die 3de anniversary is van die dag toe hulle kat vir die eerste keer uit die toiletbak gedrink het.  Saam raak ons opgewonde oor ‘n nuwe eetkamertafel wat gekoop is, by mense wat jy nie ken nie, by ‘n plek waar jy nognie was nie.

Ek kon fotos kyk van troues waarheen ek nie genooi was nie, en as ‘n bonus ook fotos van gras, stoptekens, skoene en motors.  Daar is fotos van honde en katte en kinders, net vir ingeval jy ooit by die mense se huis kom, dat jy nou nie vir Pietie met Jannie misgis nie.  Fotos van kinders is so volop, mens raak deurmekaar! Toe ek nou die dag vir die eerste keer ‘n ‘vriendin’ se dogtertjie sien was my eerste reaksie “maar het jy nie ‘n seuntjie op Facebook gehad nie?”

En dan kry jy daai albums, getiteld “ons ete by die spur” wat propvol is met 489 fotos van die keer toe einste Pietie uitgevat is vir ‘n random hamburger by die Spur in Voortrekkerweg.  Daar is geen snaakse goed soos verjaarsdag sterretjies nie, net 489 fotos vol glimlagte en mense wat baie duidelik ‘n wonderlike tyd het!  Ek wonder of hulle ooit die hamburgers geëet het?

Op Facebook kan ons plase en restaurante besit, die wêreld red van gangsters en vir jou vriende varke present gee.  Jy weet ook presies wanneer is dit ‘gee-jou-baas-‘n-drukkie-dag’ of ‘was-jou-buurman-se-motor-dag”.

Met Facebook is ons ook almal bietjie verander.  Skielik word wat jy van jouself dink gemeet aan die hoeveelheid ‘likes’ wat jou gedagtes kry.  Jy worry as niemand jou nuutste foto like nie, is ek dalk vet op die foto, gee iemand nog om vir my, ek moet emmigreer!  En ek sal maar nie begin met hoe passief agressief ons almal nou is nie, ja, jy weet van wie ek praat, en wag maar, ek gaan jou kry!

En toe ek my eerste blackberry kry het ek by Twitter aangesluit.  Nou daai is nou eers freaky! Jy volg honderde mense wat jy gladnie ken nie, en heel moontlik nooit sal ontmoet nie.  Jy volg hulle! Soos ‘n stalker en lees wat hulle geëet het, hoeveel keer hulle in die nag opgestaan het om toilet toe te gaan en kan sien presies waar in hulle huise hulle rondbeweeg met al die foursquare checkins.

Nou hoop ek nie ek het dalk op tone getrap nie.  Ek gaan nie my Facebook of Twitter profiles toemaak nie.  Daarvoor geniet ek dit te veel.  Daar is gelukkig die opsie om mense te ‘hide’, en dis tog lekker om te sien as vriende lekker goed doen.

Mag ons lewens tog eendag so opwindend wees as wat ons dit op Facebook laat klink…

3 Comments

  1. Dis so waar! En eintlik baie sad, dat ons waarde bepaal word deur hoe gewild ons op ‘n virtual platform is!

  2. Ek het dit nou regtig geniet om jou Facebook belewenis te lees . . . ek moet darem sê dat ek die lewe REGTIG geniet presies soos dit op Facebook staan. . . want die mense wat my REGTIG ken sal presies weet waaroor dit gaan . . . xxx Jy bly ‘n Engel!

Leave a Comment

Your email address will not be published.