Pajamas in Durbanville

As jou foon 3 uur die oggend lui, voorspel dit gewoonlik niks goed nie. Dit spel onheil, dood en siekte maar nooit ‘n lotto wen, blomme aflewering of gratis vakansie nie. Seker die dat jou hart gewoonlik ‘n beat mis as jou foon skielik hier langs jou kop begin skree…

Ek het na ‘n kuiertjie saam met ‘n paar vriende, op ‘n beskaafde tyd in my bed geklim, soos gewoonlik op ‘n Saterdagaand. Salig! En toe word my slaap onderbreek met die Nokia kenwysie. En die wekker in die hoek wys 3:02am.

Ek is oombliklik wakker, daai benoude gevoel om my hart. Toe ek die naam van ‘n goeie vriend op die skermpie sien, is ek eers bekommerd! Of het hy dalk net vergeet om die foon the lock…

Ek antwoord en word begroet met ‘n baie vrolike “goeie môre!”, gevolg deur ‘n “wat maak jy?”. Ek is so verlig dat niks fout is nie, dat ek ewe grappig terug antwoord dat ek besig is om te hekel! Ek blyk heel skerp te wees so vroeg in die oggend!

Om ‘n lang storie kort te maak, dit blyk toe dat hy uit was saam met ‘n vriend, en toe hulle bietjie misgis het met ‘n draai, en die vriend se motor staan nou met ‘n gebreekte as iewers in Durbanville. En hulle het eers besluit om te stap huistoe, in Boston, maar gou agtergekom dat dit nou nie so naby is nie.

En ek was nou die enigste ene wat hulle kon dink om te bel wat sal antwoord, en nie te erg kwaad sal wees nie, of ten minste vinnig sal vergewe…

So klim ek dan toe sommer met my pajamas in die kar, ek meen, dis 3 uur op ‘n Sondag oggend, wie gaan kyk!

Volgens my vriend sal hulle vir my wag by die Engen garage by die roostuin, want dit is tot waar hulle die uitgeputte lywe kon sleep, nognie eers uit Durbanville nie. En alhoewel my oë nognie wakker is nie, weet ek darem om vir ‘n lang ou en ‘n kort ou uit te kyk. Doodmaklik.

Soos ek nader kom aan die Engen garage, sien ek hierdie twee toe staan, en trek af, maak die deur oop, en wil net groet, toe ek sien die twee wat nou in my kar is, het ek nog nooit in my lewe gesien nie! Al ooreenkoms tussen hulle en my vriende, is dat die een lank is, en die een kort.

So hier sit ek, 3 uur die oggend, in my pajamas, in ‘n kar saam met twee vreemdelinge wat begin vertel hoe wonderlik die Kaap is, want in Johannesburg sou hulle NOOIT ‘n lift gekry het nie!

Ek probeer net om my asemhaling te beheer, en die kar weer aan die gang te kry, en ry die 10 meter aan tot by die Engen, waar my lang vriend en sy kort maat staan en wag. My vriend maak die passasiers deur oop, gee my een kyk, en snap gelukkig wat aangaan! Hy draai na die lang ou in die sitplek met ‘n “wat maak jy in my &$%# seat”. En blitsig spring die ou terug na die agterste sitplek.

So hier sit ek, 3 uur die oggend, in my pajamas, met vier ouens in die kar. Die een praat heeltyd oor die Kaap wat so goed is, die een soek net ‘n bier, die een sit en huil en my vriend sukkel om nie te lag nie.

Ons gaan laai toe die 2 vreemdelinge in Durbanville af, met ‘n vae aanduiding van waar die uitgaanplekke is. Ons noem egter nie dat hulle almal reeds toe is nie. Die Kaap aanhanger druk R20 in my hand, “vir koffie”, en vrolik trippel hulle af in Wellington Straat. Ek draai terug Boston toe om die ander twee te gaan aflaai.

En dis toe wat my vriend na my toe draai, en begin lag… “en jy het dan jou pajamas aan!”

3 Comments

Leave a Comment

Your email address will not be published.