Om te tel

Soos almal darem seker al teen die tyd weet, dis sensus tyd!  En al is jy dalk nognie getel nie, moes jy al die “gifappeltjies” met hulle bibs en sakke sien rondloop het.  Die buurt waar ek bly is so ‘n paar weke gelede al ingeval deur hulle toe die voorbereiding begin.

Ek stop een middag na werk by die huis, en sien die geel mannetjie op die trap van die oorkantste blok sit.  Hy lyk moedeloos.  Ek groet, en hy vra of ek in nommer 41 bly.  Toe ek ja sê is dit asof die donker wolk oor hom wegtrek, hy spring op,  en met ‘n groot glimlag vra hy “please can I come count you?”.  Wel… ok…

Nou die vorm is ‘n taamlike gedoente.  Of dalk lyk dit net so, omdat daar voorsiening gemaak word vir groot huishoudings. Darem nie te moeilik vir ‘n enkel persoon nie, en die outjie is so mooi getrain daarin, sy koffie was nognie koud genoeg vir drink toe hy klaar is nie.

Die vrae is almal taamlik standaard.  En het my nogals gelyk skuldig en dankbaar laat voel.  Ek meen, ek het heelwat meer as wat meeste mense het wat daai vorm invul.  Ek verstaan nie mooi hoekom hulle wil weet of jy ‘n yskas en dvd player het nie.  Dalk ‘n slim trick van yskas-telemarketers om te weet wie hulle kan target.

Ek wens egter julle kon die outjie (en ek sê outjie met alle respek, want hy’s maar 20) se gesig sien toe hy vra of ek enige livestock het, en ek hom vertel ek het ‘n koei in die studeerkamer.  Dankie tog hy gebruik ‘n potlood om die vorm in te vul!  Hy’t eers verbaas gelyk dat ‘n koei hier sal inpas, en toe skaam toe hy besef ek is op die boonste vloer…

Maar nou is ek ook getel.  My belasting is ook gedoen.  So vir ‘n rukkie is ek nou klaar met die regering.  Dis nou as hulle nie my yskas of dvd player wil nasionaliseer nie!

Leave a Comment

Your email address will not be published.