Nog ‘n 7de Laan terugblik

Ek het onlangs gewonder wie in daai eerste episode van 7de laan gespeel het.

Mens word so oorlaai met alles wat op tv aangaan, dat jy vinnig vergeet wat ‘n jaar terug gebeur het.  Name soos Petra en Simphiwe, Tamara en Mari-Alet raak vergete as hulle vir ‘n tyd lank verdwyn uit ‘n sepie.

Ek het egter op twee baie interessante artikels afgekom, beide uit die Beeld koerant in 2000, toe 7de Laan begin het, en ‘n skrale 6 maande uitmekaar geskryf.  Laat mens wonder…

7de Laan’ ‘n bontspul en bra voorspelbaar – 7 Apr 2000

7de Laan SABC2, Dinsdae en Woensdae om 18:30

Die eerste episode van ‘n nuwe reeks behoort soveel impak te hê dat ‘n mens nie kan wag vir die volgende aflewering nie. 7de Laan, SABC2 se nuwe Afrikaanse sepie wat vandeesweek begin het, het on gelukkig nie met die nodige oemf afgeskop nie. Kontinu¨teitsaankondiger Chante Hinds het vooraf gesê dit is SABC2 se eerste sepie. Het hulle gerieflikheidshalwe vergeet van Glaskaseel, wat destyds ‘n mislukking was? Die nuwe 7de Laan spog met ‘n sterk rolverdeling Anna-Mart van der Merwe, Gys de Villiers, Wilna Snyman, Pierre van Pletzen, Dawid Minnaar, Annalise Weiland en Chris van Niekerk sowel as ‘n hele paar belowende nuwelinge kan onder andere daarin gesien word maar die dialoog is soms yl en die storielyn baie voorspelbaar. Snyman vertolk die rol van die matriarg Madel Terreblanché, wat die hef in die hand het en alles en almal om haar regeer. Sy is glad nie in haar noppies oor die verlowing van haar seun Jan-Hendrik (Waldemar Schultz) aan die argitek Petra (Yvonne van den Bergh) nie. Dit is ‘n ou, geykte resep onthou nog die sepie Falcon Crest? Dit is dalk onregverdig om 7de Laan met die gevestigde treffersepie Egoli te vergelyk, maar aangesien die nuwe reeks in die tydgleuf net ná Egoli uitgesaai word, kan ‘n mens byna nie anders nie as om die twee teen mekaar op te weeg. Die stelinkleding (die meeste mure is grys!) sowel as die kleredrag van die karakters van 7de Laan steek sleg af teen dié van Egoli. Só ‘n bontspul het jy lank laas bymekaar gesien in die eerste episode het Vinette Ebrahim (Charmaine van die koffiekroeg) ‘n bont bloes gedra, terwyl Van Niekerk (Francois) en Van Pletzen (Oubaas van Zyl) geruite hemde en Weiland (die ontvangsdame Hilda) ‘n bont onderbaadjie (met ‘n verspotte serpie) gedra het. Die bont uitrustings streel nie die oog nie en slaag ook nie op die skerm nie. Van den Bergh (Petra) het boonop in die oggend ‘n blink halsnoer gedra en jy wil kort-kort haar hare uit haar oë vee. Die musiek is soms, soos toe Sandra Stutterheim (Heléne Lombard) haar opwagting as die nuwe koper van die boetiek gemaak het, te dramaties en oordrewe. Om nie te praat nie van al daardie agtergrondgeluide (sirenes en motoralarms) in bykans elke toneel wat jou daaraan moet herinner dat die storie in ‘n stad afspeel. Egoli het baie hoë standaarde vir sepies in Suid-Afrika gestel nie net wat sterk storielyne, stelinkleding, kostuums en dialoog betref nie, maar ook goeie vertolkings. Hoewel sommige van die jong akteurs (soos Nina Swart in die rol van Wilmien) imponeer met hul spel, oortuig ander nuwelinge soos Van den Bergh in die rol van Petra nog nie. ‘n Mens moet 7de Laan seker ‘n regverdige kans gee, maar of die sterk rolverdeling die sepie gaan red, sal net die tyd leer.

7de Laan klink glase – 20 Oct 2000

Waldemar Schultz (Jan-Hendrik Terblanche) en Yvonne van den Bergh (Petra Malherbe) raak binnekort verloof in 7de Laan.

Daar is vandeesweek dubbeld feesgevier op die stel van SABC2 se Afrikaanse sepie 7de Laan. Tydens ‘n onthaal is bekend gemaak dat ‘n tweede kontrak vir die vervaardiging van nog 156 episodes van die reeks onlangs met die SABC gesluit is. 7de Laan word tans twee maal per week uitgesaai, op Dinsdae en Woensdae om 18:30. As gevolg van die gewildheid van dié sepie sal dit vanaf 1 April 2001 drie of vier maal per week uitgesaai word. Nóg ‘n verskoning vir ‘n makietie is die trouklokkies wat binnekort vir twee van die karakters in die reeks lui. In die episode van 7de Laan wat op 1 November uitgesaai word, maak Jan-Hendrik Terreblanche (Waldemar Schultz) en Petra Malherbe (Yvonne van den Bergh) hul trouplanne bekend aan vriende en familie tydens ‘n spoggerige verlowingspartytjie. Dié twee verliefdes se romanse was tot dusver nie net maneskyn en rose nie Jan-Hendrik se bemoeisieke ma, die formidabele Madel Terreblanche (Wilna Snyman) loop nie oor van blydskap oor haar seun se keuse van ‘n lewensmaat nie. Madel se oogappel, Tiaan (Francois Rautenbach), maak ook nie sake makliker vir sy broer nie met die manier waarop hy ogies maak vir Jan-Hendrik se toekomstige bruid. 7de Laan handel oor die wel en weë van ‘n groep mense wat in ‘n voorstad van Johannesburg woon. Die storielyn draai om twee groepe mense die Terreblanches, ‘n welgestelde familie wat gedomineer word deur die ambisieuse matriarg, Madel Terreblanche, en die inwoners van die woonstelle in dieselfde blok as die koffiekroeg, Oppiekoffie die gewilde bymekaarkomplek van omtrent almal in 7de Laan. Die rolverdeling van 7de Laan bestaan uit van Suid-Afrika se gewildste akteurs Anna-Mart van der Merwe, Wilna Snyman, Dawid Minnaar, Fezile Mpela en Annelisa Weiland, om maar net ‘n paar te noem. Daar is ook ‘n hele paar nuwe gesigte soos dié van Nina Swart en Ingrid Paulus, wat alreeds diep in kykers se harte gekruip het. 7de Laan is SABC2 se eerste sepie en word geskryf deur Danie Odendaal. 7de Laan blyk baie gewilde gesinsvermaak te wees nie net vir Afrikaanse mense nie. Onlangse navorsing het getoon dat die reeks ook baie gewild is onder Engelstalige kykers en Sotho-sprekers.

Leave a Comment

Your email address will not be published.