‘n Wasmasjien vir die pret

Vir jare was daar een ding kort in my huis. ‘n Wasmasjien. Elke Sondag het ek met my koshuis wasgoedsak na my ouers afgepiekel, en die week se goedjies gedoen, en partykeer sommer getuimeldroog ook, dan is daar nie eers strykwerk nie!

Maar die probleem kom toe in as ek nou vir ‘n naweek weggaan, en nie by my gratis wassery kan uitkom nie. Dan moet ek iewers in die week die takie gaan afhandel, ‘n week wag of die ergste en laaste opsie, dit met die hand doen in die bad!

So een sonnige Sondag oggend, besluit ek die tyd het gekom vir ‘n eie wasmasjien. Dit is die ultimate teken van volwassenheid, en dat jy nou op jou eie voete kan staan! En die meubelplek was so vriendelik gewees om gratis aflewering vir my te reel, nogals hier op die Sondag. En die twee vriendelike mannetjies wat hom aflaai, koppel hom toe sommer ook vir my, want die gedoente is nogals lywig. En gelukkig het ek die klein ene gevat, want die spasie is met millimeters genoeg!

Aangesien dit Sondag is, en my wasgoed gewoond is om op Sondae gewas te word, besluit ek om sommer nou dadelik ‘n bondel te laai. En ek is stomgeslaan! Ek is nog heeltyd gewoond aan ‘n toploader, en skielik het ek ‘n frontloader! Ek maak my tuis op die kombuisvloer, om eers hierdie skouspel dop te hou! Amazing!

En skielik stop alles botstil, en ‘n error message verskyn op die skermpie. “ER24”. Wat de dinges!? Ek gryp die handleiding (wat ek reeds deurgelees het!) en begin soek na die Troubleshooting bladsy.

Wel, ER24 blyk toe die boodskap te wees vir as die uitlaatpyp geblok is. En soos in alle noodgevalle as ek nie weet wat om te doen nie, dan besoek ek my goeie vriend Google. Die raad wat hy my gee vir geblokte uitlaatpyp van wasmasjiene, is om die pyp deeglik te spoel met kookwater en Jik.

Righto, so ek kook die ketel, en gaan haal die 5L kan Jik, nog van my Steiner dae, uit. Trek die wasmasjien weg (dit klink vreeslik maklik!), en haal die pyp uit die gat.

En ewe skielik begin die wasmasjien weer werk! Wonderbaarlik!!  Die error boodskap verdwyn, en teen een helse spoed begin die wasmasjien een of ander backwash proses gooi! Want sien, nou is die blok nie meer daar nie, en die pyp swaai soos ‘n besetene rond! Ek plas rond, en probeer hom vang, maar alles is al so nat, dit help amper nie! 

Einde ten laaste het ek dit reggekry om die pyp te vang en by die wasbak te hou. Wat ‘n gemors! En of dit nie genoeg is nie, het ek dit bietjie oordoen met die waspoeier, en dit neem die masjien 3 rinse cycles voor hy tevrede is dat my wasgoed nou nie meer seperig is nie. En al hierdie tyd moet ek die pyp vashou oor die wasbak, terwyl die water by my afdrup.

Vandag werk die wasmasjien baie goed. Ek weet presies hoeveel van alles om in te gooi, en alles wat oop moet wees is oop, en die res baie dig toe…

En vir die wat gewonder het, Google se raad vir geblokte pype werk… maak net seker die masjien is nie aan nie!

2 Comments

Leave a Comment

Your email address will not be published.