‘n Ma’se Respek!

Vroeër die jaar doen ek weer een van die drome waarvoor ek so lief is, hierdie keer vir ‘n 10 jarige mannetjie van Durban. Hy en sy ma is die hele naweek hierso, en ek kry die Sondag om hulle te entertain met onder andere Tafelberg, World of Birds en Scratch Patch. Ek kry ook die versoek dat hulle graag wil kerk toe gaan die oggend, en dat hulle Katoliek is.

Toe ek dus vroegoggend by die hotel stop om hulle op te laai, en die ma sê my dat die outjie bietjie stadig is vanoggend, het ek ‘n baie rustige seuntjie voorgestel, wat uitgeput is na die vorige twee dae se aktiwiteite, en vandag net wil rustig wees. Hoe verkeerd kan mens nie wees nie!!!

Almal in die kar en ons vertrek na die naaste katolieke kerk. Die outjie trek weg met vrae en stories, en ek moet omtrent bontstaan om alles te beantwoord. Hy het blykbaar iewers ‘n fliek moes kyk, want hy praat een stryk deur van Chinese Ninja’s en skets vir my allerhande situasies waaruit ek myself moet kry, omring deur hierdie Chinese Ninja’s. Hoe sal enigiemand op ‘n klein bootjie ‘n Chinese Ninja ontsnap wat uit die lug kom met ‘n valskerm om jou aan te val? Huh?

By die kerk gekom, en ons neem ons plekke in, ek taamlik verwonderd, my eerste keer in ‘n Katolieke kerk, en dit is nogals mooi. En wie sal toe nie voor ons kom sit nie? Sekerlik die enigste Katolieke Chinese gesin in die wêreld! My dromer het hulle een kyk gegee, oorgeleun na my, en gefluister “ninja”. Nou probeer jy daarna ‘n straight face hou!

Na die diens is ons deur Tafelberg toe, die genuine ene, nie die meubel plek nie. En nadat die 10 jarige eers die dames agter die toonbank opgechat het, is ons op met die karretjie. Nou om agter ‘n kind aan te hardloop onder normale omstandighede kan uitputtend wees. Probeer dit bo-op ‘n berg, waar die moontlikheid bestaan dat hy kan afval! Ek het nie geweet ek is nog so rats nie, want as hy net kyk vir die afgrond, is ek al klaar daar, besig om teen woeste winde en my eie vrees vir hoogtes te baklei!

Uiteindelik is hierdie beproewing ook klaar, en ons vertrek na World of Birds. Ek begin ontspan, want hier is geen hoogtes of gevaar nie. Wrong!! Van die een pappegaai na die volgende uil hardloop ek om die arme diere te beskerm teen hierdie hiper aktiewe wese! Nie vir ‘n oomblik kan ek wegdraai nie, of hy is sommer binne in die hok! En dit was nie my verbeelding dat die voëls ons begin aangluur nie! Mens kon die sug van verligting hoor toe ons wegtrek!

Laaste op die lys was Scratch Patch. Die outjie het nou in die gewoonte gekom om my hand vas te hou. Met die gevolg dat ek nie meer stap nie, maar letterlik orals heen hardloop, met sy ma wat op een of ander wonderbaarlike manier byhou! Ek het vir hom ‘n sakkie gekoop vir die klippies, maar toe ek weer sien, toe sit hy met 3. Dis toe wat ek agterkom hy help sommer 2 klein kindertjies om hulle sakkies vol te maak! En hulle het nie eers gevra nie!

Oppad terug in die kar was ek kapoet, terwyl hy weer terug is op die onderwerp van Chinese Ninja’s, hierdie keer met byklanke en demonstrasies! En dit is ‘n laaannnggg pad terug! Na wat voel soos ‘n ewigheid, laai ek hulle by die hotel af, en met twee drukkies (een vir dankie en een vir vriendskap) groet ons.

En in die stilligheid kry ek skielik ‘n nuwe respek vir ma’s…

Leave a Comment

Your email address will not be published.