‘n Liedjie vir die pad

Vanoggend was nogals ‘n woeste rit werk toe.  Ek het geweet ek moes nie daai 10 minute langer gelê het nie, maar na verdere oordenking dink ek dit was dalk met ‘n doel so, want ek het ‘n massiewe ongeluk gemis, presies op die plek waar ek daai oomblik sou wees.  Die ongeluk was so erg, ek het met ‘n detour deur Durbanville gery, want alle beskikbare paaie is beinvloed deur die ongeluk.  Hier is die link vir meer oor die ongeluk:

http://blog.er24.co.za/2011/06/two-die-in-head-on-collision-on-old-paarl-rd/

Maar wat my opgeval het is nie die ongeluk nie, maar mense in die verkeer se reaksies. Kyk, ons is almal in dieselfde situasie hier.  Ons het almal gedink ons gaan binne ‘n sekere tyd by die werk kom, en dan ‘n lekker koppie koffie drink.  Ek het defnitief nie beplan om 40 minute te vat om by my werk wat 5km weg is te kom nie!

Maar terwyl ek toe nou so besig is om ‘n detour te soek (het in Durbanville gaan draai) begin ek so die mense in die karre rondom my beloer.  En niemand glimlag nie! Almal is die hel in vir hierdie oponthoud, en druk sommer baie maklik ‘n toeter as die ou voor jou nie onmiddellik wegtrek as die lig groen raak nie.

Nou ek het 3 cd’s in my kar.  Nommer een is ‘n lekker mix wat ek vir myself geskryf het. Nommer twee is die Friends with Benefit cd.  En nommer drie is Jan de Wet en die Loflaaities.  Ja, dis reg, ek luister kinder gospel musiek, vir ‘n projekkie wat ek aanpak (meer daaroor op ‘n ander dag).

En toevallig is die Loflaaitie cd toe vanoggend in.  En ek sing te lustig saam!  My gunsteling is die Bybelboeke liedjie, ek kan die ou en die nuwe testament vir jou sing!!  Dis ‘n great cd!

Die volgende oomblik lê die ou so skuins agter my weer op sy toeter, want die ou voor hom hou nou ‘n volg afstand wat net te groot is.  Maar die ou in die voorste kar raak so kwaad, hy spring om, en wys die vieslikste tekens!  Die ou agter laat nie op om wag nie, en draai sy ruit af, en begin al die vloekwoorde wat hy ken uitbasuin.

Ek het my eers simpel geskrik, en toe begin my volgende liedjie speel.  En terwyl ek nogsteeds na die twee karre kyk, draai ek daai volume knoppie op hoog, en sing kliphard saam: “Dit borrel in my, want ek is so bly!”.  Ek draai sommer die vensters ook oop.  Die ou tannie aan regterkant knik haar kop, en prewel die woorde saam.

Verbaas kyk die ou in die voorste kar na my.  Ek waai vir hom, en gee my mooiste glimlag. Sy mond val effens oop, en hy draai terug in sy sitplek, en ry aan.

Ek sal nooit weet of ek sy woede dalk laat bedaar het nie.  Of hy dalk in ‘n beter bui by die werk aangekom het, en of hy dalk enigsins Afrikaans verstaan nie.

Maar ek het 5 minute later by die werk gestop, en daai liedjie is nou nog in my kop!

As jy ‘n tydjie het, laat weet my watter musiek jy in jou kar luister.

 

2 Comments

  1. Ek hou daarvan om na Linken Park te luister, maar dis nie altyd so goed om die humeur in toom te hou nie 😉

  2. Ek hou van radio luister, maar een met meer musiek as gesels. So luister nogals baie na Bok Radio.

Leave a Comment

Your email address will not be published.