‘n Lewensles in Voortrekkerweg

Onlangs loop ek daar in Voortrekkerweg in Parow af. En sommer voor jy nou allerhande woorde en beelde oproep kan ek darem net noem dat dit helder daglig was, in fact, dit was skuins na 12 gewees, en ek was oppad om vir ons middagete te gaan optel by my gunsteling restaurant.

Nou ek is welbekend met hierdie area, ek het immers vir 2 jaar hier gewerk en het die plek ook in die nag gesien, defnitief nie sy beter kant nie. Maar hierdie dag was dit meer van ‘n avontuur as ‘n gewone besoek.

Daar is nie parkeerplek nie, en die enigste moontlike gaatjie waar my klein karretjie dalk mag inpas word elke flippen keer as ek daar verbyry deur ‘n taxi toegestop. Ek stop dus toe amper by die hoërskool, nie ‘n probleem nie, die stappie kan my goed doen.

Na ek die karwag na die beste van my vermoë probeer vermy het, loop ek my vas in ‘n groep van 3 buitelanders. En ewe skielik word daar handdrukke uitgedeel, en hulle brabbel in ‘n snaakse taal. Dis eers toe ek verder stap, hoogs ontstig deur die skielike public display of friendship (wat is die teenoorgestelde van xenofobia?) dat ek agterkom ek het my Uganda sokkerhempie aan!

Op die volgende hoek is die slaghuis. En soos ‘n wafferse winkel in ‘n sentrum het hulle die dag ‘n “sidewalk sale”. Hope steaks en hoenderstukke en varkrib en wors lê op display vir almal wat verbystap.

Buite.

Op die sypaadjie.

Mense klim uit taxis om te koop, en klim weer terug met hulle sakke vol vleis.

Ek het uiteindelik my middagete gekry, en byna met my lewe daarvoor betaal toe ‘n motorfiets wat op die sybaadjie ry my amper omry. Maar dis met die terugstap tussen die vleis en taxis en geraas en wind dat ek die twee bergies sien. ‘n Kort mannetjie en ‘n nog korter enetjie.

Hulle is hewiglik aan die baklei oor iets. Die langer een van die twee lyk of hy ‘n verduideliking soek van die korter outjie. En hy het blykbaar iewers in sy lewe toegang tot ‘n tv gehad, want hy trek los met: “Speak now, or forever hold your peace!”

Die klein outjie lyk ietwat verskrik, maar ruk hom gou reg. “Nei, dan hou ek mar my peace, want djy lyk of djy my gat moer as ek my bek oopmaak”.

Wie’t nou gedink jy sal ‘n lewensles in Voortrekkerweg kry?

Leave a Comment

Your email address will not be published.