‘n Halfuur in ‘n ry

So beland ek vanoggend vir ‘n tweede keer op een dag in ‘n ry by die poskantoor.   En dit verstom my dat ek by die lughawe se poskantoor, met 2 venstertjies en 1 persoon, vinniger gehelp word as by die Bellville poskantoor, met 12 vensters, en 8 mense aan diens!

Nou terwyl ek so staan en wag met my blou slippie in die hand, begin ek bietjie rondkyk.  Eerste ding wat my opval is die reuk.  En ek sweer, NIEMAND in daardie ry het die afgelope naweek naby water gekom nie!  Ek wonder of iemand sal aanstoot neem as daar ‘n scanner by die deur is wat jou nie gaan toelaat as jy so stink nie!

Ek begin toe maar die mense dophou.  Elke tweede persoon het ‘n blackberry, en daar is ‘n konstante “blip blip” geluid soos boodskappe ontvang word.  Die geen selfone bordjie by die ingang het geen impak nie.  Ek moes lag vir die ou voor my.  Hy het die oudste foon ooit, een van daai met ‘n aerial, en daar is niks meer op die knoppies nie, alles af van jare se gebruik.  Maar ewe skielik begin die foon lui, en dit is ‘n monophonic weergawe van die iphone tune!  Classic.

Die poskantoor raak skielik bietjie donker, en ek draai om, net om die moois geboude man OOIT te sien inkom.  Hy moet verseker ‘n bodybuilder wees!  Een wat sy spaarrekening by die poskantoor hou.  Goeie outydse waardes?  Hy val in die ry in, en haal ‘n blackberry uit.

Teen die tyd het ek darem al begin beweeg.  Ek staan wydsbeen, want my bure het bitter klein bubbles, en val heeltyd in myne rond!  Die “teet teet teet” geluid sal my mal maak as ek hier moes werk.  Elke persoon se reaksie is dieselfde as hulle voor kom.  “Teet teet teet” dan kyk hulle op na die bord, sien watter nommer is oop, en begin dan by teller een tel tot hulle die regte nommer gevind het.  Keer op keer presies dieselfde.  Ek neem my voor om dit NIE te doen as dit my beurt is nie.

Uiteindelik is ek voor.  Die tannie by ‘n venstertjie regs van my rol haar hele lewe af, in triplikaat.  Daar is sertifikate en ID’s en fotos en wat lyk soos ‘n afdruk van haar butt.

Ek word bewus van die ou agter my wat my effens stamp.  En toe van die roepstem, “u kan maar kom dame”.  Die tannie by venstertjie 8 staan en roep my!  Hoekom het sy nie die “teeter” gebruik nie!

Ek oorhandig my blou papiertjie, en die tannie verdwyn.  By die venstertjie langs my staan ‘n massiewe oom in kakieklere.  Sy hond is by hom, en ek kan al die wit Toyota bakkie buite voorstel.  “Nou boetie, waar is mambaai?”

Die tannie kom terug, en oorhandig die baie boring Unisa pakkie vir een van my kollegas.  Teleurgesteld stap ek terug kar toe.  Wat is nou fun daaraan!

Miskien volgende keer is daar vir my ook ietsie

Leave a Comment

Your email address will not be published.