‘n Gereformeerde glips

Na ‘n paar jaar waar ek die kerk van ons selgroep bygewoon het, is ek nou weer terug by die kerk wat ek nog my hele lewe aan behoort.  En nie veel het verander nie.  Daar was wel ‘n paar veranderinge aan die binnekant, maar dit is nogsteeds die NG kerk waaraan ek gewoond was, met die orrel, die min parkeerplek en die koekies na die diens.  En ons stig toe sommer ons eie selgroep by die kerk, so nou kom ek ook daar vir ‘n mid-week byeenkoms.

Iets snaaks gebeur egter met my as ek by die kerk aankom.  My brein stop.  Genuine!  Hy hou helemal op met werk.  Die wat my ken sal weet dat ek baie presies is in hoe ek my goed doen, en dat ek ‘n geheue het wat salusa 45 sal laat bloos.  Maar as ek by die kerk land, dan wil hy nie werk nie!

Die eerste keer wat ek werklik bewus geword het van hierdie probleem, was so ‘n rukkie terug tydens Pinkster.  Ek het betyds, en rustig by die kerk arriveer, gewag vir vriende en familie om te kom, en toe gaan sit.  Nice diens gewees, lekker gesing, en alles was fine, tot die dominee by die afkondigings aan die einde van die diens kom.  In sy hand het hy ‘n bestuurslisensie, en sonder dat ek eers hoef te kyk, weet ek dit is myne.  Hy was gelukkig baie subtiel,  maar met die uitstap vra my suster mooi hier van bo die gallery af “is dit joune?”  My cover is geblaas!

Na die voorval is ek elke keer geweldig versigtig as ek by die kerk kom.  Ek check dat elke sakkie deeglik toe is, alles stewig verpak is, en ek vermy dit om met enigiets in my hande te loop.  Vreemdes keer my voor en vra of ek my lisensie het, wat my onmiddellik laat skarrel, en dan vir ‘n oomblik kom nog ‘n gedagte by my op… WTF?  Ken ek jou?

Maar iewers, in al die versigtigheid het ek nie rekening gehou daarmee dat my brein iewers weers gaan staak, en my onkant vang nie.  En toe laas Sondag breek die staking toe mos hoeka aan, so saam met die petrol ouens.

Weereens het ek betyds by die kerk arriveer, rustig, kalm.  Groet een van my “instant vriende” in die voorportaal, en wag vir die res.  Geen snaakse insidente tydens die diens nie, en weereens ‘n mooi diens.  Met die uitslag raak ek egter koud.  My sleutel is nie in die sakkie waar hy gewoonlik is nie!  In fact, hy is nêrens nie!  Ek raak so mildly paniekbevange.  Mildly, want daar is darem ‘n spaarsleutel by my ma’le wat nie te ver weg is nie, en my kar is nog hier.

Die vriende vorm ‘n vinnige soekgeselskap, die familie verdwyn (blykbaar min gespin).  Ons besluit die beste manier om die sleutels te kry (siende dat hulle nie hierdie keer dit vir my in die kerk afgekondig het nie) is om my spore terug te trace van my kar na waar ek gesit het.  En net voor ons wil begin, kyk almal soos een man na waar die sleutel normaalweg is, en wragtag!  Daar sit hy!  En ek het een van daai remote-central-locking goed, so kon nie eers die sleutel toegesluit het nie, het hom net daar gelos!

Ek weet regtig nie wat dit met daai plek is nie.  Dalk een of ander teken?  Dalk verloor my brein suurstof omdat die kerk so hoog teen die bult op lê?  Dalk raak ek oud? Of dalk is dit maar net ‘n verskriklike gereformeerde toeval.

1 Comment

Leave a Comment

Your email address will not be published.