My taal, jou taal, daai ander taal
In my lewe het ek nou al in ‘n paar plekke gewerk, maar nog nooit was taal so ‘n issue soos waar ek tans is nie. Ok, miskien is issue die verkeerde woord, maar as jy ‘n paar mense bymekaar gooi, en hulle almal laat Engels praat, terwyl dit nie een van hulle se huistaal is nie, kan jy ‘n babelse verwarring te wagte wees. Of net ‘n lekker lag.
Nou die tale wat ons mense praat is Afrikaans, Xhosa en Sjona. Almal baie verskillend, wat ook maak dat selfs die Engels wat ons almal probeer praat in dialek verskil.
My eerste kennismaking met hierdie vreemde taal, was toe my kollega my vra of ek weet waar bu-thê-zig is. Ek was bietjie verward, want ek ken nogals die kaap, maar selfs hierdie plek was vir my vreemd, en ek het reggesit met google om hom te help. En toe begin hy spel… B O T H A S I G.
‘n Rukkie terug kom ons sekretaresse na my toe, nadat sy gaan kos koop het in Bellville CBD. Ek kan sien sy is ietwat ongemaklik. Aangesien ek Afrikaans is, en sy vermoed die woord wat sy gehoor het is Afrikaans, kom vra sy toe vir my wat beteken “jas”. Nadat ek vir haar verduidelik het dat dit ‘n “coat” is, was die verwarring op haar gesig baie groot. Blykbaar maak dit nou vir haar nog minder sin. Sy het glo twee bergies hoor stry, en toe skree die vrou vir die man “ma djy is djags man!” Nou hoe sou jy daai verduidelik het sonder om te lag!
Ek het self al ‘n bloutjie of drie geloop met my vinnig Engels praat, veral op die foon. So het ons byvoorbeeld ‘n donateur wat vas glo my naam is Ietsadel. Want toe hy my op die foon vra “who’s speaking now”, toe antwoord ek “it’s Adele”, dalk bietjie vinnig.
Vanmiddag met ete is ek weereens herinner aan hoe verskillend ons tale is, en het toe besluit dit kan nie ongeskryf gaan nie. Ons ontvangsdame, wat se sitplek in die middel van ons kantoor is, het nie vandag ingekom nie. Nou jy moet verstaan, dit is ‘n klein plekkie waar ek werk, jy weet gewoonlik wie wanneer toilet toe gaan of koffie maak, so klein is dit. Twee van my kollegas het begin om hulle middagetes saam met my te kom eet in my kantoor (die raadsaal). So sit en lees ons koerant, en bespreek sommer goed wat ons mag raaklees. Ek draai ewe onskuldig na die een, en vra “where is Nyami today?”, met die bedoeling dat sy dalk weet hoekom Nyami nie ingekom het nie, of daar dalk siekte is, of sy haar kind moes versorg, of so iets. Die antwoord gooi my eers, en laat my toe lag. “I don’t know, I don’t think she is here”. Wel, is jy seker? Moet ons dalk onder die lessenaar gaan kyk?
Dit is sulke dinge wat mens bybly, lank na jy by ‘n werk weg is. Ek eis egter om te dink wat sal gebeur as ons nog ‘n taal by die mix ingooi…
Ek het nou lekker gelag vir hierdie storie! Ek is seker ons almal het al met so ‘n persoon gepraat wat ons nie lekker verstaan nie!
Well done!
Dis verskriklik snaaks!