Langeraat, duimpie se maat

As jy my al ontmoet het sal jy weet ek is nogals lank.  Nou nie freakish lank dat die rekord ouens my drumpel deurtrap nie, maar steeds lank.  En dit is nou een van daai bittersoet goed, want ek kan my mikrogolfoond bo-op my yskas sit, maar ek kan nie lekker manage in party dele van die Kango grotte nie.  Ek kan my boonste kaste gebruik maar kan nie slaap in my kar nie.

Meeste van die tyd pla dit my nie.  Ja, my rug raak bietjie seer van afbuk na al die kort vriende wat ek het, en ek kry partykeer hoogtevrees as ek te vinnig afkyk, maar oor die algemeen kies ek om die positiewe eerder as die negatiewe raak te sien.  En op so ‘n hoogte kan mens nogals mooi sien…

Die enigste keer wat my lengte my ooit gepla het, was in standerd 3.

Dit was sonnige dag.  (daai sin was net vir effek)  Dit was tyd vir die laerskool se massa groepfoto.  Die hele skool word in rye ingepak op die rugbyveld, en oom Tom kom neem die foto.  Dit was nie so ‘n groot skool nie, so mens kan nogals almal se gesigte uitmaak op die fotos wat mooi hang in die voorportaal.

Hulle het ons oor die interkom geroep, in klasverband.  Basies maar sodat ‘n klein sub A’tjie ook raakgesien kan word, en nie agter ‘n standerd 5 kind beland nie.  Hier en daar is daar ‘n verstelling gemaak aan die ry, sodat die langeres in die standerd darem nader aan die volgende standerd staan, en ons nie soos ‘n brekende brander lyk nie (alhoewel ons dit toe hoeka een jaar moes doen!).

En toe raak dit tyd vir die standerd 3’s.  Ek kan nog die plek onthou!  Dit was tussen die biblioteek en die tennisbane waar ons moes deurstap, en ‘n juffrou trek my uit die ry uit.  Damn, was my eerste gedagte, nou kan ek nie staan en chat by my vriende nie.  So ‘n fotonemery kon nogals ‘n tydjie vat.

So staan ek toe nou maar en wag om weer in die ry gesit te word.  En na ‘n rukkie raak ek bietjie angstig, want die kinders wat nou verbystap, is in standerd 4!  En steeds loer die juffrou net so nou en dan na my, meet my en vind my te lank.

En toe kom die standerd 5’s.

Nou die storie sou nie so vars in my gedagtes gebly het as die juffrou my iewers ingedruk het in die ry nie.  Dan was alles fine.  Self al het sy my ingedruk voor die laaste persoon in die ry, dan was dit ook fine.  Maar sy los my tot die hele ry verbystap, en dit net die terreinpersoneel is wat oorbly, wat gewoonlik heel agter gestaan het, en toe mag ek loop.

En op laerskool is dit nou nie ‘n prestasie om die langste in die skool te wees nie!

Wel, die foto is geneem en dis darem nou nie asof ek enige blywende letsels oorgehou het van daai dag nie.  Ek twyfel ook of ek enigsins anders sou wees vandag as ek daai tyd tussen my vriende kon staan en nie soos ‘n uitgeworpene moes wag vir ‘n plek wat nooit gekom het nie.  Maar ek het ‘n ruk terug daai foto weer gesien.  En ek het daar gestaan, trots, perfek in die middel met die skoolhoof se kop in ‘n perfekte simmetriese lyn.  En agter my, met hulle hande op my skouers het twee van die terrein werkers gestaan. Ek kan hulle name onthou, en hulle myne. En miskien het DIT my verander.

1 Comment

Leave a Comment

Your email address will not be published.