Klein Gelukkies

ricoffyEendag sit ek so by die werk, toe ‘n kollega skielik voor my staan met ‘n toe blik koffie.  Ricoffy, want by meeste werkplekke is dit die eerste poging tot besparing.  Sy hou dit na my uit.  En ek pik amper ‘n traantjie weg oor die mooi gebaar. Want sien, ek het lank terug vir haar genoem dat ek mal is oor die reuk wat jy kry as jy ‘n blik koffie vir die eerste keer oopmaak.

Jare terug hoor ek ‘n gewerskaf buite my voordeur.  Nuuskierig loer ek uit, en sien my buurman.  Met die oopmaak van die voordeur sien ek ‘n blikkie verf, maar hy is weg.  Ek stap uit, en sien tot my verbasing hy is besig om met ‘n handbesem my vensterbank af te vee.  Op my vraag oor wat hy doen is sy antwoord bloot dat hy sy vensterbank netjies geverf het, en dat hy nog verf oorhet, so hy wil sommer gou myne ook verf.

Nou die dag is ek vir ‘n kuiertjie by vriende. Na ‘n lekker ete en met alles weggepak maak my vriendin die yskas oop en haal vir my ‘n steri stumpie uit. Want dit is my gunsteling.

Eergister ry ek huistoe van die werk af.  Dit is Maandag en die verkeer is soos gewoonlik belaglik.  Almal wil vinnig by die huis kom, en dit is elke man vir homself.  Ek staan en wag by ‘n robot vir ‘n beurt, en kry die tannie in die aankomende verkeer jammer.  Daar is net nooit ‘n gaping vir haar om ook in die vloei te kom nie.  Die volgende oomblik ry ‘n taxi so dwars hier voor ons almal in.  Onmiddellik is dit toeters wat geblaas word en tekens wat gewys word.  En net daar kry die tannie haar gaping. Ek kon die taxi drywer se glimlag sien.

So as jy iemand se dag radikaal kan beter maak, sonder baie geld…. waarvoor wag jy?

2 Comments

  1. Ek stem 100% saam! Meeste mense dink dis net geld wat iemand anders se dag kan verbeter maar dit is glad nie die punt nie; dit man die kleinste ding weeks wat die grootste verskil sal maak. Wens baie mense kon só dink.

Leave a Comment

Your email address will not be published.