Itsy Bitsy… MOERSE groot spinnekop

Ek is bang vir spinnekoppe.  Enige spinnekoppe, maak nie saak hoe klein of groot hy is nie.  Ras en geslag speel ook nie ‘n rol nie, en hy kan ‘n flippen wit vlaggie vashou, ek is bang.

Presies hoe bang het ek vanoggend agtergekom.

My roetine elke weeksoggend is taamlik vas.  My selfoon gaan 5:55 af (saam met al die “notifications” wat deur die nag ingekom het terwyl hy af was).  Ek snooze gewoonlik so een of twee keer, en stap dan (sonder om my oë op te sit) om die ketel aan te sit, en dan badkamer toe, en dan gou bed opmaak.  Dan het ek nog genoeg tyd om rustig ‘n koffie te drink, en van my ma se lekker beskuit te eet voor ek aantrek en werk toe gaan.

Nie vanoggend nie.

Ek het mooi opgestaan, en begin kombuis toe stap.  ‘n Lied in my hart na ‘n lekker naweek.  En skielik verander daai lied na Jaws se tema musiek, en ek ruil amper die toilet besoek en die koffie maak net daar om.  Want daar bo my pragtige bank, amper teen die dak, sit die grootste spinnekop wat ek in my lewe gesien het!  En ek oordryf nie!  Dis nie ‘n visserman storie hierdie nie, die meneer is baie groter as my een hand, nader aan 2!

Ek verloor effens beheer, en maak sulke geluidjies wat ek nog net my ma’le se Jack Russell hoor maak het as hy koud kry.  Teen die spoed van witlig spring ek terug kamer toe, en sit my oë op, net om te sien hy is nie meer daar toe ek terugkom nie.  Ek freak amper uit!!

Sien hom gelukkig ‘n bietjie laer af sit, maar as hy so vinnig kan beweeg, dan wil ek nie hier rondhang nie.  Ek gryp ‘n jean en top van my wasgoedrak af, my tekkies lê gelukkig langs die bed, en my laptop en handsak is in die kombuis.

Al vallend en hygend (want ek kry letterlik nie asem nie) trek ek myself in die kombuis aan, sonder om my oë ‘n oomblik van die besoeker af te haal.  Tande word geborsel in die kombuis, en ek het nie ‘n saak met alles wat ek nog wou doen nie!  Net om myself ‘n bietjie beter te laat voel, spuit ek so baie Doom uit op die gedierte, dat as hy nie gaan verstik van die walms (soos ek het) nie, gaan hy hom verseker dood gly.

Ek is uit, in my kar, en snel werk toe.  Daar gekom, besef ek dat ek ‘n volle uur voor die persoon met die sleutel daar is, en ek is nie eintlik lus om nou hier te sit en dink aan spinnekoppe nie.  Buitendien, dit voel of my hele lyf kriewel!  Ek gaan sit toe maar by die Engen garage en koop ‘n koffie.  Ek stuur ook sommer vir my skoonmakers ‘n sms waarin ek hulle smeek om nie vandag te loop voor hulle nie die meneer gekry het, en saamgevat het nie.

My hele oggend is bietjie bewerig.  Ek skrik vir die wondergom teen my muur en moet op ‘n stadium ‘n stuk papier vir iemand wys, maar bewe so, dat ek dit moet neersit en beduie.  Ek gooi 3-4 lepels suiker in my koffie, en loop later en gaan koop ‘n bottel Coke.  Ek probeer my besig hou met pos oopmaak en radio luister.

En toe kom die sms van my skoonmakers.  “Ons het vir GROOT meneer agter die bank gekry.  Hy is gelukkig ‘n bachelor. Gaan nou kalmeerpille koop”

Die hele episode het my laat nadink.  Daar is ‘n paar goed wat ek sal moet doen so spoedig moontlik:

  • Leer ken jou bure beter (sodat jy hulle 6:30 kan wakker klop)
  • Koop Doom by Makro
  • Sit jou bril op die oomblik as jy wakker word
  • Koop nog Doom (of iets sterker)

Soos my sussie netnou vir my sê “Toemaar, jy het dit oorleef en sterker anderkant uitgekom”.

Ja, ek het dit oorleef.

Sterker?  Sy het my obviously nie gesien nie…

 

Let wel, die foto het ek nie self geneem nie.  Ek is bang, nie mal nie.  En ek gee nie om dat hy blykbaar helemal onskadelik is nie.  Dis ‘n spinnekop, hy’s vet en lelik, en klaar!

 

1 Comment

  1. Ai vriendin, jy mag maar skryf…!
    Dankie vir die lekker lag!!! Toe maar ek sou presies dieselfde soos jy gevoel het…Creepy Crawlies kan ek handle, maar wanneer dit by spinnekoppe kom freak ek heeltemal uit!
    Sterkte vir jou!!!!

Leave a Comment

Your email address will not be published.