Geluide in die nag

Ek is ‘n taamlike ligte slaper.  Eintlik is dit ‘n bietjie weird, want ek sal waarskynlik dwarsdeur ‘n massiewe partytjie by my bure slaap, maar is oombliklik wakker op ‘n Sondag as die koerantverkoper sy eerste “RAPPORT!!!” uiter, 3 blokke vêr!

Ek het genuine al my share van snaakse oomblikke gehad so in hierdie nagtelike wakkerwordsessies.  Van ‘n boemelaar wat vir ure gehuil het oor sy bottel OBS wat in die gutter geval het, tot twee vriende wat in ‘n oomblik van dronkenskap in mekaar vasgery het, toe daaroor stry, en toe nie kan onthou wie se kar wie s’n is nie! (let wel, dit was nie my vriende nie!)

So gebeur dit een nag dat ek wakker word van ‘n kardeur wat klap.  Ek loer so na my selfoon, en sien dit is 1:45. Seker iemand wat bietjie uit was, alhoewel dit nogals laat is vir ‘n weeksaand.

In die verte hoor ek hoëhakskoene wat klak-klak oor die teer.  Maar dis vêr, en siende dat dit ‘n windstil aand is kan ek nogals mooi skat dat die kar daar iewers by die wasgoedpale geparkeer het.

Maar die skoengeknal hou nie op nie.  Ritmies en sekuur stap die vrou (of man).  En na ‘n rukkie kom ek met ‘n skok agter dat die skoendraer dan nou al onder my venster verbystap.

Ek kan nie dink hoekom jy nou regtig so vêr van jou plek af wil parkeer nie, maar ek gee haar (hom) die voordeel van die twyfel, ek meen, dalk is dit ‘n jongetjie wat pa se kar gestamp het…

En skielik begin die skoene trappe klim.  My trappe! Op sigself nie ‘n krisis nie, behalwe dat my bure op daai stadium bestaan het uit ‘n ouerige getroude couple, ‘n computer nerd en twee gays met ‘n baba. Hoogs onwaarskynlike ontvangers van ‘n middernagtelike, hoëhaakskoendraende besoeker.

En toe lui my klokkie…

En ek gaan in dentist-mode in.  Jy weet, waar jy so bang is iets gaan gebeur, dat jy nie meer jou ledemate kan voel nie?  En tjoepstil lê ek. Wie de dinges is dit?  Net ‘n nugter persoon kan so mooi ritmies loop, so wat soek ‘n nugter persoon die tyd van die nag by my?  Sonder om te laat weet?

Uit vrees en verwardheid het ek toe nie die deur oopgemaak nie. Angsbevange het ek lê en luister hoe die skoene al die pad terugstap tot by die kar, inklim en wegry.

Tot vandag toe is dit ‘n mystery.  Niemand het nog gebel en gevra hoekom ek nie oopgemaak het nie, en dit het ook nognie weer gebeur nie.

As jy dus die middernag sluiper is… skuus.  Gee my tog maar ‘n ou luitjie.  Ek vermoed ek kan nogals bietjie leer by iemand wat so netjies op daai skoene kan loop!

 

Leave a Comment

Your email address will not be published.