Gaan jy omval as ek jou stamp?

Oor die afgelope Desember vakansie, sien ek vir die eerste keer iemand met hierdie nuwe Power Balance armbandjies.

Vir vrede en welstand sal ek liefs nie name noem nie, maar die dingetjie fasineer my, en ek vra ‘n demonstrasie.

Nou blykbaar, om nou te verstaan wat hierdie dingetjie kan doen, moet jy op jou een been staan, met die ander been soos ‘n koeksister rondom die ander ene gevleg, en dan jou arms sprei, en dan moet iemand jou nou probeer omstamp.  Sonder die armbandjie, val jy soos ‘n Jenga speletjie.  Met die tweede probeerslag moet jy die armbandjie aansit, en dan is die val meer onwaarskynlik.

Baie oulik?  Nou beantwoord dan vir my hierdie vraag.  Buiten vir akrobate en gimnaste, watter regdenkende mens doen hierdie “oefening” elke dag?  Is dit normaal?  Is dit hoe alle mense staan?  En as volwassenes, hoe gereeld probeer ons ander mense omstamp?

Nou groot was my innerlike pret toe daar ‘n berig verskyn waar die geloofwaardigheid van hierdie bandjies heeltemal verpletter word.

http://www.health24.com/fitness/FitnessDoc_articles/16-4596,60576.asp

Placebo?

Wel, ek probeer om nie te lag as ek iemand sien met ‘n bandjie nie.  Dit laat my egter besef hoe maklik dit is om mense te mislei.  Maar ek sal vir niemand sê om die bandjie af te haal nie.  As ‘n bandjie al is wat nodig is om jou brein so te manipuleer dat jy nie meer karsiek raak nie, en perfekte houe in golf slaan, en bo-op ‘n fiets kan bly… wie is ek om te kla.

1 Comment

  1. Ek wil hard lag

    Goeie bemarking wat gereeld gehoor en sien word is breinwas metode

    So baie sulke hulpmiddele, self medikasies, wat eerder die brein paai ,soms motiveer, as die regte probleem aanspreek

    Goed geskryf
    🙂 met KoFFie
    Desmond

Leave a Comment

Your email address will not be published.