Daar is nie eintlik iets wat ek haat nie.  Daar is heelwat goed waarvan ek nie hou nie, soos spinnekoppe, taxis en daai simpel corned beef blikkies wat ek nooit kan oopkry nie.  Ek is ook nie mal oor tamatiebredie nie en voel ongemaklik in klerewinkels.  Maar ek haat dit nie.  Wat ek wel haat, is karwagte!

Dit maak netnie vir my sin nie.  Ek gaan na taamlik ordentlike areas toe, meeste van die tyd.  ‘n Netjiese winkelsentrum, die Spar om die hoek, sulke plekke.  En daar is altyd karwagte.  Dis tog nie asof ek nou na ‘n oorloggeteisterde gebied gaan vir my inkopies nie?  Hoekom is hulle daar?  As die plek in die eerste plek gewemel het van kriminele sou ek dit mos nie besoek het nie.

En ek het my lisensie, my spieëls werk en ek kan perfek parkeer, uit alle hoeke.  Sonder hulp!!

Nou hoor ek al mense sê dat dit werkskepping is.  Se voet!  Hulle werk nie.  Hulle staan/sit heeldag tussen karre rond.  En kyk daarna.  En wil dan daarvoor betaal word.

En sonder nou om snaaks te wees, maar het jy al gesien hoe van daai karwagte lyk?  Hier in Bellville is dit ‘n sirkus!  Ek gaan mos nou volle vertroue hê in die afbeen, dronk ou wat sukkel om regop te bly.  Is dit nie juis die ou wat jy wil weghou van jou kar nie?

Ek moes egter lag.  Ek het van die werk af gestap na Shoprite hier op kerkplein in Bellville.  ‘n Taamlike dodgy area, en daar is nooit parkeerplek nie, veral nie as dit daai tyd van die maand by SARS is nie.  Ek het die nodige gekoop, en terwyl ek deur die parkeerterrein stap terug werk toe val hierdie ou met ‘n geel bib amper oor homself om by my uit te kom.  “Ek het mooi gekyk na mevrou se kar”.

Nou hy kan dalk ‘n super hero wees, en my kar vir my dophou waar dit veilig agter hekke staan by die werk, maar dis hoogs onwaarskynlik.  “Waar is my kar, ek kan dit nie kry nie” was my antwoord.  Hy’t bleek geraak, en my kar begin soek.

As mens iets haat, moet jy werk maak daarvan.  Ek gee niks meer vir karwagte nie.  Ek vermy selfs winkels waar karwagte is, en sal eerder betaal om onderdak te parkeer voor ek vir ‘n karwag betaal.

Wonder tog of daai ou ooit my kar gekry het…

[youtube]QlU1aPjv6zI[/youtube]